Usuthu-Tembe-Futi-oorgrensroete


Usuthu


Volledige bespreking | Richard van Ryneveld (November 2007)

Jy kan dalk een van die eerste mense wees om ’n nuwe 4×4-roete in ’n hoekie van Maputaland, op die Suid-Afrikaanse grens met Mosambiek en Swaziland, te ry. Richard van Ryneveld was daar.

My generasie sien neer op grootpraat. Maar as ek sê ek het heelwat veldry-ervaring, is dit ’n feit, nie grootpraat nie. Wel, ek dink in elk geval so.

Selfs al het jy ’n paar somers en ’n paar reise agter die blad, kan Suid-Afrika jou nie verveel nie. Elke kort-kort kom jy ’n plek teë wat jou voete van voor af onder jou uitslaan.

My jongste liefdesverhouding is met Ususthu Gorge en sy bure op die Suid-Afrikaanse grens met Mosambiek en Swaziland. Sedert die uitnodiging gekom het van die mense van die Lubombo-oorgrenspark om hul nuwe 4×4-roete in die Usuthu Gorge* te toetsbestuur, kon ek nog nie ophou om die lof van die plek te besing nie.

Maar die vreemde ding was dat ek drie weke ná my besoek nog nie ’n woord daaroor kon skryf nie. En dit was moeilik om agter die kap van die byl te kom.

Toe skielik raak dit duidelik! Dis daai vervlakste macho-ding. In my vier dae daar het my hand beswaarlik aan ’n laestrek- of hoëstrekhefboom geraak, maar hier probeer ek jou, die leser, oorreed om in my spore te gaan ry.

En dís die probleem: Ek was ’n passasier, en die spore is nie “my spore” nie; dis dié van die man langs my wat bestuur het.

Moet erken, hierdie ervaring was ’n bietjie soos dié van ’n voyeur met toegang tot gesteelde plesiere waarop jy nie eintlik geregtig is nie.

Maar dis nou genoeg van my dinge: Met of sonder ’n 4×4, of jy nou self ry of nie, jy sal nie ’n besoek aan Usuthu Gorge of sy bure berou nie. Belowe.

Jag kameelperde in ’n trop?
Die toer het begin by een van Usuthu se bure, die Tembe-olifantpark, waar ek Clinton Halkett-Siddall, die bestuurder van die Usuthu Gorge-projek, moes kry.

Dit was nogal ’n weelderige begin vir ’n ou hippie soos ek. Die eerste aand het ek in Tembe se luukse tentkamp geslaap. Normaalweg sou ek by Usuthu gekampeer het, maar omdat ek van Kaapstad gevlieg het, kon ek nie my kampeertoerusting saamvat nie.

Die volmaan het deur ’n groot peulmahonieboom ge-dans terwyl ek by die vuur op Clinton gewag het. Uiteindelik, so honger soos ’n wolf ná die paar uur lange rit van Durban, het ek huiwerig saam met twee middeljarige Amerikaanse vroue aandete geëet.

Man, en het hulle nou simpel vrae gevra … “Jag kameelperde in ’n trop?” was een se bydrae. Ja-wel-nee-doodreg.

Clinton kon nie vinnig genoeg opdaag om my te kom verlos nie. Ons sou die volgende oggend vroeg na Usuthu vertrek, en die afwagting was groot.

Usuthu is in die Lebombo-bergreeks in die Maputaland-streek van KwaZulu-Natal, wat aan Swaziland grens.

Maputaland lyk soos ’n omgekeerde driehoek, met die skerp punt wat by die St. Lucia-strandmeergebied in die suide begin terwyl sy breë voetstuk die grens met Mosambiek in die noorde vorm.

Op dié breë voetstuk sal jy Usuthu en sy bure, Tembe en die Ndumo-wildreservaat, aantref. Soos die kraai vlieg, is hulle sowat 60km uit mekaar geleë, maar heeltemal uiteenlopend.

Die Zoeloes noem Maputa-land uMhlaba ’yalingana, wat losweg beteken “die aarde is plat”. Dis ’n baie raak beskrywing omdat die grootste deel van die streek baie plat is, net sowat 100-150m bo seevlak.

Die Lebombo-berge aan die grens met Swaziland is die uitsondering – hier praat ons van sowat 700m bo seevlak. En dis hier waar jy Usuthu en sy geil grasveld sal aantref met raasblaar en akasia tussenin wat begrens word deur berghange, spruite en ruie boskasies.

Die aangrensende Ndumo, een van die beste voëlkykplekke in Suid-Afrika, is anders, maar net so verruklik. Die ryk, uiteenlopende natuurskoon is oordadig – jy weet net nie waar om te kyk nie. Een van my blywende indrukke van Ndumo is ’n reeks panne op ’n vloedvlakte gekleur met spatsels geel-groen van die omringende koorsbome.

Tembe, die derde lid van dié indrukwekkende driemanskap, is ’n 290km²-tapyt van sandwoud, boswêreld, grasveld en vleiland.

Hoewel Tembe, Ndumo en Usuthu aan mekaar grens, kan jy nie kortpad kies nie. Jy moet steeds ’n lang roete van Tembe na Usuthu volg, deur die dorpie Skhemelela (naby Shemula), ’n afstand van nagenoeg 55km.



Welkom by Usuthu Gorge

Die volgende oggend het die son net begin om die bos rooi-pienk te kleur toe ons deur die Matenjwa-stamgebied op pad na die Usuthu-hek gery het.

Skoolkinders in netjiese uniforms het langs die pad gestap en hier en daar het troppe nguni-beeste gewei. Elke paar kilometer het groepe vroue met plastiekdromme en emmers rondom gemeenskaplike krane gestaan om water te tap.

Die 40km² van die Usuthu Gorge-gebied, het Clinton verduidelik, was aanvanklik ’n gemeenskapsbewaringsgebied.

Later het die 21 plaaslike stamhoofde van die Matenjwa-stamgebied besluit die grond, wat af en toe vir weiding gebruik is, kan beter as ’n toeriste-bestemming benut word. Dit is wat dit deesdae is, en die Noordelike Maputaland-natuurtrust bestuur dit namens hulle.

Die Usuthu-roete is so nuut dat jy dalk een van die eerste mense gaan wees wat dit amptelik ry – toe ek in Augustus daar was, was die roete nog nie amptelik oopgestel nie.

Dié 40km lange roete kronkel hoog op in die berge wat oor sy naamgenoot, die Usuthu-rivier, uitkyk.

Mosambiek is net aan die ander kant van die rivier en op ’n helder aand, so word vertel, kan jy selfs die liggies van Maputo sien, sowat 200km daarvandaan!

Aanvanklik het ek die roete ietwat teleurstellend gevind. Dit is redelik maklik, met ’n moeilikheidsgraad van hoogstens 2-3. Miskien het ek net ’n meer uitdagende bestuurervaring verwag, veral as jy die geskiedenis van die gebied in ag neem.

Dit is hier waar die Suid-Afrikaanse weermag en MK-soldate, wat wapens van Mosambiek via Swaziland na Suid-Afrika gesmokkel het, in die dae voor demokrasie gereeld slaags geraak het.

As jy haastig is, is 4-7 uur genoeg om die roete te voltooi. Net mense met ’n 4×4 mag dit ry, maar ’n 4×2-bakkie met ’n ewenaarslot sal dit maklik kan baasraak.

Ons was skaars ’n kilometer ver op die klipperige en stamperige roete toe ses koedoekoeie die pad sowat 30m voor ons oorsteek. Hulle het so goed met die bos saamgesmelt dat dit onmoontlik was om ’n foto  van hulle te neem.

Net een ratwisseling later het ons op ’n paar wildebeeste afgekom. Die oorvloed diere is danksy KZN-Wildlife, wat onlangs koedoes, wildebeeste, rooibokke en njalas aan die nuwe konsessie geskenk het. Daar’s planne om ook tien kameelperde en vier witrenosters hier los te laat.

Die klowe waar ons verby-gery het
, het byna ondeurdringbaar gelyk. Onder in die vallei het ons deur vleigebiede met waterplante gery, die klipperige kante van die hange daarbo was oortrek met struike, bome en vetplante. In die ry het Clinton die endemiese nabome en broodbome uitgewys.

In eerste rat het ons deur die grasveld voortgestamp na die plato met sy uitsig oor Mosambiek.

Ons het nie kleiner diere gesien nie, maar daar is glo baie van hulle in die omgewing. As jy jou voertuig afskakel en stilsit, gaan jy beslis ’n duiker en ’n rietbok sien.

En as jy hier kampeer, wat oral langs die roete toegelaat word, kan jy selfs gelukkig genoeg wees om ’n ratel te sien.

Die geskiedenis van Maputa-land hou jou vasgenael. Tekens van ons oudste voorvaders is in die Bordergrot gevind, hoog bo in die Lebombo-berge en redelik na aan die Usuthu-omgewing. En hier praat ek nie skoonma-oud nie. Nee, hierdie oorskot dateer van sowat 150 000 jaar gelede, een van die oudste bewyse van Homo sapiens (die moderne mens) wat al gevind is.

Met al hierdie inligting maak dit skielik nie meer saak dat Usuthu nie die soort ekstreme 4×4-ervaring is wat jy in ’n plek soos Lesotho kry nie. Dis eerder ’n plek van vrede waar jy naby die natuur kan wees. En daar’s nie eens leeus of olifante om die vrede te versteur nie. Ja, daar kom wel baie luiperds voor, maar die moontlikheid dat jy een gaan sien, is maar skraal.

Een van die grootste aan-trekkingskragte van Usuthu Gorge is die vryheid – daar is  min of geen mense nie, en jy kan net waar jy wil in die 40km²-gebied kampeer. Iets wat jy nie deesdae sommer kan doen nie. Al wat jy nodig het, is ’n 4×4, en jy moet selfvoorsienend wees.

Ná my besoek is die ou veldwagterspos sowat 1,8km van die hek oopgestel, en daar kan jy kampeer, water kry en koud stort. Toiletgeriewe is beskikbaar en hopelik sal jy later ook kan warm stort. (Dit word nou die Beka Base Camp genoem.)

Om die waarheid te sê, ek sal nie net na Usuthu kom vir die roete nie; kom vir die ervaring, en daarvoor sal jy ’n paar dae langer moet afsaal.

Kan ek asseblief terugkom?
Teen dié tyd was ek verlief op Maputaland. Ek het van alles gehou – van Tembe, die dorpie Skhemelela en my gunstelingrestaurant, Kosi Bay Hot Chicken (waar ek ’n paar keer stilgehou het), tot die Pongola-rivierbrug waar vroue in rye met geweefde mandjies visvang, nes dit al eeue lank gedoen word.

Die volgende dag het Clinton my by Tembe kom haal om saam met ’n paar Nederlandse toeriste in Usuthu te gaan stap. Ons het die roete daarheen oor Ndumo gery, en vinnig stilgehou en gekyk hoe Ndumo se chalets en kampplek lyk. (Terloops, jy kan die meeste paaie in Ndumo met ’n 4×2 ry.)

Ek het agterop Clinton se bakkie gesit en een van die Nederlandse vroue voor laat sit, maar dit het beteken dat ek amper die eerste wild in Ndumo gemis het.
Dit was eers toe Clinton stilgehou het, dat ek die twee witrenosters, skaars 50m van die bakkie af, gesien het.

Die verskil tussen die omgewing by Ndumo en dié van sy onmiddellike bure, Usuthu en Tembe, is opvallend.

By die noordelike punt van die Pongola-vloedvlakte word Ndumo begrens deur die Usuthu-rivier en in die ooste strek dit tot waar die Usuthu- en Pongolarivier ineenvloei.

Die oorheersende kenmerk van Ndumo is ’n reeks vloedvlaktepanne wat gevoed word deur die Usuthu- en Pongola-rivier. Hier bly sommer baie seekoeie, krokodille, visse en voëls. Die park is net 100km² groot, maar mense kom van oral ter wêreld om die sowat 390 aangetekende voëlspesies te kom kyk.

Hier sal jy die donkerwangbossanger, rooibek-helmlaksman, gryskapokvoël en bruinkeelbossanger aantref.

Ons het sowat 100 m van vyf onverstoorde, etende kameel-perde stilgehou om ons boeliebieftoebroodjies te eet. Die een kêreltjie het selfs gaan lê. Hy het uiteindelik opgestaan op ’n manier wat baie gelyk het asof iemand steierwerk opstel.

Terwyl ons geëet het, het Clinton die verskeidenheid habitatte in die reservaat verduidelik, van die voedingryke panne met groot groepe voëls, die droë sandwoud, van rivierwoud en rietbeddings tot sandveld.

Op pad terug het ons by die Ndumo-kampeerplek stilgehou. Ek sal beslis ’n hele paar dae hier wil bly en, afhangende van my begroting, óf kampeer óf in die chalets bly – albei lyk soos waarde vir geld. Dit is ook ’n goeie plek waarvandaan jy ’n dagtoer na Tembe of Usuthu kan aanpak.

Die hoofkamp het sewe ronda-wels met drie beddens, elkeen met ’n wasbak met koue water, ’n tafel, drie stoele en ’n yskas, asook sy eie stoep en lugversorging. Fantasties! (As jy beddegoed, messegoed en breekgoed wil hê, moet jy net vra.)

Daar is agt kampeerplekke, elkeen met netjiese braaigeriewe en ’n kragpunt – my soort plek.

By Skhemelela, sowat 16km van Tembe af, en by die dorp Ndumo, 2,8km van die reservaat af, is daar groot winkels en brandstof.

Tydens my besoek het ek pal gevoel soos ’n cowboy wat sy perd verloor het. Ek wou baie graag begin ontdek, maar was heeltemal op ander mense aangewese om my die pad te wys.

Hierdie manier van reis het sy beperkinge, want jy begin krap nie eens aan die oppervlak van die werklike wonders van dié plek nie.



Die land van drome

Tembe is baie hoog op my lys van nuwe gunstelingplekke, en die luukse tentkamp het beslis nie ’n rol daarin gespeel nie.

Nee, hier kry jy te doen met Afrika onbeperk: voor jou lê 300km² van ongerepte ruimte en jy voel asof jy dit heeltemal vir jouself het. Dis miskien selfsugtig, maar nou ja …

Hier sal jy ook die laaste vrylopende olifante in Afrika kry. Voor heinings opgerig is, het dié olifante elke seisoen tussen Mosambiek en Maputaland gemigreer, maar toe die burgeroorlog in Mosambiek gewoed het, het die diere in Tembe se sandwoud skuilplek gesoek.

Hoewel die park in 1983 geproklameer is, is besoekers eers in 1991 toegelaat, glo sodat die diere hulle eers in hul nuwe blyplek kon vestig. Baie van die diere dra nog die merke van soldate en stropers.

Die droom van die Lubombo-oorgrenspark is dat dié olifante eendag weer hulle ou trekpaad-jies tussen Mosambiek en Suid-Afrika sal uittrap, en dat olifante vrylik van die Krugerwildtuin deur Swaziland na Usuthu, Ndumo, Tembe en uiteindelik na die Maputo-reservaat (voorheen die Maputo-olifantreservaat) in Mosambiek kan beweeg.

As jy nie vier bene, ’n slurp en ’n dik vel het nie, sal jy ’n 4×4 moet hê om Tembe se sanderige paaie te verken. In my vier dae in die park het ek net een private voertuig gesien. Hemel op aarde.

Op die eerste dag hier het ek ’n voertuig geleen om ’n bietjie op my eie rond te ry. Net by die Ponweni-skuiling, waar ek stilgehou het, het ek ander mense teëgekom – ’n egpaar in ’n Isuzu-dubbelkajuit.

Ons het saam in die skuiling gesit terwyl die skemer neer-  gedaal het en ’n alleenloperolifant op pad na die watergat dopgehou. Twee kameelperde en ’n njalabul het ook kom drink.

Hulle het aan die een kant van die skuiling gesit.

“ ’n Leeu!” het die man skielik gefluister. Ek het na hulle kant beweeg, maar die leeu het in die bos teruggesmelt sonder om te gaan water drink.

Net nog ’n dag in Afrika …

Doktor, doktor
Intussen het ek my blyplek af-geskaal en van die luukse tentkamp na die navorsingskamp by Tembe geskuif.

Dr. Roelie Kloppers, geskied-kundige, antropoloog en koördineerder van die Lubombo-oorgrenspark, en sy genoot en inwonende ekoloog, dr. Wayne Matthews, bly albei in Tembe.

Ek het by Roelie se huis in die park ingeloer om hulle te ontmoet. Dit was sy verjaardag, en die kuier het my boonop met koffie en ’n groot sny sjokoladekoek beloon.

Die twee doktors is van die mees beskeie en aangenaamste mense wat ek in ’n lang ruk ontmoet het.

Ná ’n gesprek met hulle begin jy die beginsel verstaan van ’n oorgrenspark wat die Maputo-reservaat in Mosambiek met Tembe, Ndumo, Usuthu, Swaziland en uiteindelik die Krugerwildtuin verbind.

Verbeel jou ’n park wat van die Krugerwildtuin tot reg teen die Indiese Oseaan in Mosambiek strek. Wel, dis die plan en dis besig om ’n werklikheid te word.

Roelie en Wayne is net twee skakels van ’n baie lang ketting wat besig is om dié droom te laat waar word.

Daardie middag, en in my tydjie in Tembe se navorsingskamp, het ek ’n vlugtige blik op die toekoms gekry, een van die baie redes waarom ek so opgewonde is om so gou as moontlik na die gebied terug te keer.

In Roelie se oorspronklike uitnodiging het hy gesê: “Jy sal minstens 3-4 dae in die omgewing moet deurbring. Dit sal jou toelaat om Suid-Afrika en Mosambiek te besoek … en die verskeidenheid van berg-na-bos-na-strand-4×4-roetes in die oorgrensgebied te ervaar.”

Wel, ek het nie eens ’n snuf gekry van die Indiese Oseaan, Kosibaai, leerskilpaaie, Ponta D’Ouro of selfs ’n skramse blik van die Maputo-reservaat nie. Dís hoeveel daar nóg in die om-gewing te doen is.

Dis ’n droombestemming, veral vir iemand met ’n viertrekvoertuig. En selfs as ek in die dele moet hou waar jy net met ’n gewone motor kan ry, sal ek nie huiwer om so vinnig as moontlik weer noordwaarts te mik nie.

My vinnige maar intense bekendstelling aan dié hoekie van Maputaland het my ’n aanduiding gegee van dit wat Rider Haggard, glo eens ’n klerk in Ubombo se landdroshof, geïnspireer het om werke soos King Solomon’s Mines en Allan Quatermain te skryf.

Iets in daardie omgewing wil jou laat teruggaan. Selfs al was jy net ’n kort rukkie daar.


Hoe kom ek daar?

Van Johannesburg:
Neem die N17 na Piet Retief. Ry met die N2 na Pongola. Draai ná 63 km links na Jozini. Hou reguit aan deur Jozini, oor die damwal en hou vir 48 km aan tot by ’n T-aansluiting. Draai regs na Ndumo en Tembe.

Van Durban:

Ry met die N2 en draai af na die dorp Hluhluwe. Hou aan verby die Sodwana-afdraai tot jy by ’n T-aansluiting kom. Draai links. Die Tembe-hek is sowat 15 km verder aan die regterkant.

Waar’s Usuthu?
Jy kan by Usuthu uitkom deur óf by Ndumo se hek in te gaan, onmiddellik links te draai en dan al langs die heining te ry tot by die ingang van Usuthu, óf jy kan die pad deur die stamgebiede neem. (As jy die eerste een kies, reël met Clinton dat Nsikaye Zwa Zonda, wat die hek beman, weet jy kom.)

As jy deur die stamgebied ry, volg die goed aangeduide tekens na die Ndumo-wildreservaat. Sowat 2,8 km voor hoofhek 1 van Ndumo kom jy by die dorpie Ndumo. Dis op ’n heuwel aan jou regterkant met ’n skool en ’n groot Spar. Moeilik om mis te kyk.

Daar sal jy by ’n kruispad kom – die enigste een. Draai links en volg die pad tot by ’n T-aansluiting vir sowat 12 km. Draai regs en ry aan tot by die hek van Usuthu Gorge. Ek het albei paaie gery, en dis ewe mooi.


Ek wil ook gaan!

Beste tyd om te gaan?
November en Desember, asook Maart en April.

Wat moet ek pak?

  • ’n Verkyker, kamera en voël- en naslaanboeke is byna ’n moet.
  • Bandherstel-stel, banddrukmeter, ’n bandpomp en ’n goeie domkrag (verkieslik ’n hoogligdomkrag).
  • Al die gewone sleutels, skroewe-draaiers en allerlei wat jy na so ’n relatief afgesonderde plek sal saamneem. In Skhemelela is daar ’n bosgarage/werkwinkel waar basiese herstelwerk gedoen kan word
  • Maak vol, asseblief. Brandstof is beskikbaar by Skhemelela, sowat 15 km van die Tembe-olifantpark, of by die petrolpomp by die Ndumo Spar, 2,8km van Ndumo se ingangshek.
  • Vat genoeg van jou eie water saam.

Maar is dit veilig?

  • Dis ’n malariagebied. Tref dus voorsorg, en dra saans ligte klere met lang pype en moue.
  • Moenie water uit die riviere en krane drink nie, tensy jy in Ndumo of die Tembe-olifantpark is. Dis die veiligste om water te kook voor jy dit drink.

SOS.
In ’n noodgeval kan jy by die redelik goed toegeruste hospitaal by Manguzi, 40 km van Tembe, gaan aanklop.


Waar bespreek ek?

USUTHU GORGE

Kontak Katie by  035 591 0527.
Dit kos R55 p.p.p.n., en sluit jou voertuig in. Met druktyd sou chaletverblyf teen middel Februarie by die Beka Base Camp oopmaak. Andersins moet jy heeltemal selfversorgend wees.


Waar kan ek bly?

NDUMO
Kontak: 035 591 0522; 035 591 0058

KZN-Wildlife-besprekings
Kontak 033 845 1000;
email bookings@kznwildlife.com
website www.kznwildlife.com

Die chalets kos R255 p.p.p.n. (2-3 mense kan in die hutte slaap); kinders (3-15) betaal R128 elk.

Kampering kos R85 p.p.p.n. (kinders betaal halfprys). Toegang tot die reservaat is R35 per volwassene en R18 per kind, sowel as R35 vir ’n gewone voertuig, maar as jy in die reservaat bly, betaal jy nie daarvoor nie.

TEMBE-olifantpark en -lodge:

Kontak 031 267 0144
faks 031 266 8718
email info@tembe.co.za
website www.tembe.co.za
Verblyf kos vanaf R645-R1 195 per persoon per nag wat deel, en dit raak goedkoper hoe langer jy bly. Kinders betaal halfprys.


 

Wat jy moet weet

Kontak:

Katie

Telefoon:

035 591 0527

Webblad:

http://

Beste tyd om te gaan:

November en Desember, asook Maart en April.