Taaibos-4×4

101 Roetegids | 2010
Taaibos-4×4
Die Taaibos-4×4-roete lê net buite Vaalwater naby die Waterberg en grens aan die noorde van die Welgevonden-natuurreservaat.
Twee roetes van onderskeidelik 14 km en 20 km, wat jy sonder begeleiding kan ry, bied klassieke rotsry-uitdagings, kilometers van steil op-en afdraandes, en ernstige rotsklim in die rivier. Die roetes loop ’n paar keer oor die Taaibosrivier, en veral in die nat seisoen kan dit interessant en uitdagend raak.
Gate en rotse wat jou oliebak ’n knou kan gee, lê en wag onder die water, terwyl sand en modder sake moeilik maak as jy by die water uitry. Bekyk elke oorgang eers deeglik voor jy daardeur gaan.
’n Groot deel van die roetes is langs die rivier geleë, maar jy ry ook redelike ente teen die berghellings. Dis meestal uitdagend, maar nie uitputtend nie. Daar is een of twee laagtetjies met ’n steilte uit waar laestrek, eerste rat en ’n sagte voet op die rem deurslaggewend is.
Met ’n moeilikheidsgraad van tussen 2 en 4 het jy redelik baie ervaring en kennis van jou voertuig nodig, veral as dit reën. Hoogstens twintig voertuie word op ’n slag op die roete toegelaat, maar onthou: hoe langer die konvooi, hoe moeiliker raak dit om teen die rivieroewer uit te ry en ook om die rivier binne te ry.
Taaibos is binne die Waterbergbewaringsgebied geleë, en daar is dus baie wild en plantegroei om in die omgewing te sien. Jy sal ook by heelwat rotse verbyry met Pedi- en boesmantekeninge, sowel as die oorblyfsels van ’n nedersetting uit die Ystertydperk.
Wat jy moet weet
Blyplek:
Daar is ’n selfsorgchalet met slaapplek vir 2, ’n boskamp met slaapplek vir 9 en slaapsaalblyplek vir stapgroepe van tot 30 mense. Die chalets word volledig gediens, maar jy moet jou eie beddegoed bring.
As jy daarvan hou om wild te kamp, kan jy jou tent by die roete se boskamp langs die rivier opslaan. Daar is geen geriewe nie, en jy moet volledig selfversorgend wees.
As dit ’n bietjie spartaans klink, gaan eerder na die hoofkampplek langs die rivier, met nege grasbedekte staanplekke, heelwat skadu, 220 V-kragpunte, warm storte en spoeltoilette.
Wat nog?
Jy kan ook swem of op ’n binneband op die dam of bergstrome vaar, foefieslaaid, vierwielmotorfietsry, voetslaan of abseil (daar is hegpunte, maar bring jou eie toerusting).
Kontak:
Charmaine en Christo Pistorius
014 754 4462;
082 670 0792
Naaste dorp: Vaalwater (30 km)
Beste tyd om te gaan: Heeljaar, maar die roete kan gesluit word ná swaar reën; bel dus vooraf om seker te maak.
Roeteafstande: 14 km en 20 km
Hoe lank gaan ek ry? 5 uur en 7 uur
GPS: S24.18537 E27.86510












