Steenrug-4×4-roete


Steenrug


101 Roetegids | 2010

Steenrug-4×4-roete

Die plaas Steenrug is 12 km noord van Clanwilliam geleë op die pad na Klawer. Die geskiedenis lê sommer dik hier, want die eerste rooibosteeplantasie in Suid-Afrika is in 1904 hier aangeplant.
Die roete begin by die Kaaps-Hollandse plaashuis onder die imposante Synnotberg. Aanvanklik kronkel dit net hier en daar om ’n rotsblok of ’n boom, en ’n paar kilometer later draai dit af na ’n waterval in die Langhuisrivier. Terwyl jy in die omgewing is, wees op die uitkyk vir die rotstekeninge op die omringende rotsmure. Maar dan verander die roete van persoonlikheid en klim steil op teen ’n rotsagtige spoor deur ’n populierbos en verby ’n natuurlike fontein (dis ’n lekker stilhouplek).
En die spoor hou aan klim,verby ’n groot plato (waar die rooibosteeplantasie is) tot by die uitkykpunt bo-op die Synnotberg. Daarvandaan het jy ’n uitsig oor Clanwilliam en die Olifantsriviervallei, maar wees gewaarsku – dié uitkykpunt is nie vir mense met hoogtevrees nie. Jy kan nog rotskuns sien by die nabygeleë Tandekop; dis ook sommer ’n lekker plek vir middagete. Die terugrit is ’n stadige en geleidelike afdraand tot op die valleivloer. Op pad na onder ry jy deur ’n skaduryke bloekombos, en as jy hier wil stilhou en jou tent opslaan, kan jy maar – dis Steenrug se nuwe kampplek.
Die sirkelroete sluit uiteindelik by die hoofroete aan, waar jy teen die berg af en terug na die plaashuis kan ry.
Dele van die roete is redelik sanderig, maar die verskeidenheid van terreine maak die roete ’n volronde ry-ervaring.

Wat jy moet weet

Blyplek:
Die basiese kampplek onder die reusebloekombome langs die Bulshoekdam het volledige ablusiegeriewe. Langs die nabygeleë Clanwilliamdam is daar verskeie ander luukse verblyfopsies.

Wat nog?
Die plaas se geskiedenis, rotskuns, swem en ongewone plante. Die bedreigde olifantsvoet (Dioscorea elephantipes) kan naby die begin van die roete gesien word. ’n Groot deel van sy knol is bo die grond en sy knopperige voorkoms lyk baie soos dié van ’n skilpaddop, of soos sy naam te kenne gee, ’n olifant se voet. Dit bevat die middel diosgenien, wat gebruik word vir die maak van kortisoon.

Kontak:
Niël en Cecily Müller
027 482 2541;
083 230 8628;
steenrug@telkomsa.net

Naaste dorp: Clanwilliam (12 km)

Beste tyd om te gaan: Heeljaar

Roeteafstand: 40,7 km

Hoe lank gaan ek ry? 4-5 uur

GPS: S32.09570 E18.90422


 

Wat jy moet weet

Kontak:

Niël en Cecily Müller

Telefoon:

027 482 2541

Selfoon:

083 230 8628

E-pos-adres:

steenrug@telkomsa.net

Webblad:

http://

Beste tyd om te gaan:

Heeljaar

Roeteafstand:

40,7 km

Verblyf

Ja

Kampering:

Ja