Rust de Winter 4×4 Bundu-roete

101 Roetegids | 2010
Rust de Winter 4×4 Bundu
Rust de Winter is ’n staatseiendom van 27 ha op die oewer van die Elandsrivier. Dit is ook die setel van die 4x4ATV- (All Terrain Vehicle) organisasie, wat verantwoordelik is vir die bestuur van die roete en sy geriewe.
Die Bundu-roete loop hoofsaaklik oor bergagtige en klipperige terrein, en kenners wat die omgewing goed ken, sal jou begelei. Dit kronkel deur sprokiesmooi klowe en valleie, en klim stadig teen klipperige bergpasse na die oornagkamp.
Jy sal verskeie hindernisse op pad na bo teëkom, en talle bergstrome oorsteek wat jou ryvernuf gaan beproef.
Hier moet jy jou voertuig ken en veldry-ervaring hê, en daar is ’n paar veeleisende dele waar iemand met ervaring jou sal moet deurbeduie.
Daar is ’n steil en klipperige afdraande wat jou sal laat sweet – en ’n opdraande van dieselfde moeilikheidsgraad waarvoor jy genoeg momentum moet hê en wat waarskynlik meer as een poging sal verg om baas te raak. Die roete loop deur die bekende Lover’s Lane, ’n uitgekalwerde ravyn met spoelklippe waarin immergroen bome groei. Langs dié roete word bome geïdentifiseer met Sanparke-bordjies. Daar is 33 plaashekke op dié 80 km lange roete wat oor twee dae strek, maar as dit nie vir hierdie “bosveldrobots” was nie, sou jy nie tyd gemaak het om die natuurskoon van die Springbokvlakte te geniet, vinnig iets te eet of net tot verhaal te kom nie.
Die beste tyd is die somer, as die valleie groen is en kristalhelder water in die strome vloei. Naweke is baie sosiaal; Vrydagaande word by die basiskamp deurgebring en Saterdagaande in die berg.
Bespreek dus ’n toer saam met ’n paar vriende, bring jou kamptoerusting, en geniet ’n naweekroete wat jou soos ’n handskoen sal pas.
Wat jy moet weet
Blyplek:
Die amptelike kampplek by Rust de Winter het goeie ablusiegeriewe en warm storte. Die geriewe by die oornagkamp in die berg is basies; daar is spoeltoilette en bosstorte, waarvoor mense hul eie water moet voorsien.
Kontak:
Peter Claasen
012 379 1715;
082 558 6184;
www.4x4atv.org;
admin@4x4atv.org
Naaste dorp: Pretoria (86 km)
Beste tyd om te gaan: Januarie-Mei
Roeteafstand: 80 km
Hoe lank sal ek ry? 2 dae
GPS: S25.25242 E28.64737
Wat jy moet weet
Kontak:
Peter Claasen
Telefoon:
012 379 1715
Selfoon:
082 558 6184
E-pos-adres:
Webblad:
Beste tyd om te gaan:
Januarie-Mei
Roeteafstand:
80 km
Kampering:
Die amptelike kampplek by Rust de Winter het goeie ablusiegeriewe en warm storte. Die geriewe by die oornagkamp in die berg is basies; daar is spoeltoilette en bosstorte, waarvoor mense hul eie water moet voorsien.
































