Matroosberg-natuurreservaat

101 Roetegids | 2010
Matroosberg-4×4-roete
Die private Matroosberg-natuurreservaat op die plaas Erfdeel is 35 km van Ceres af geleë. In dié ongerepte bergpark van 1 000 ha is ’n hele klomp roetes waaruit jy kan kies. Met elke seisoen verander die reservaat ingrypend. In die winter is dit ’n wit sneeulandskap; die 4×4-roete is dan werklik ’n eiesoortige ervaring. Die hoofroete se moeilikheidsgraad is matig en neem jou tot 2 240 m bo seevlak.
Die draaipunt is by die Matroosbergpiek, die hoogste in die Boland (2 249 m), waarvandaan jy op die Groothoekkloof-canyon kan uitkyk. Dit lok skiërs, sneeuplankryers, stappers, bergfietsryers en selfs mense wat op perde deur die sneeu ry, en dis veral gewild net ná die eerste wintersneeu.
Mense sonder 4×4’s is ook welkom aangesien drie Bedford-vragmotors wat voorheen in die weermag gebruik is (nou het dit sagte sitplekke), elke dag teen die berg op ry. Die sekondêre roete is ’n meer uitdagende 7 km-sirkelroete op die kruin van die berg wat verby indrukwekkende rotsformasies loop. Daar is ontsnaproetes by die moeilike dele, en daarom kan onervare bestuurders dit ook aanpak.
Daar is ook ’n 4×2-roete tot by rotspoele waar jy in die somer kan swem, ’n uitdagende 4×4-roete langs die rivierbedding en ’n 4×4-oefenbaan (’n hindernisbaan). Jy het permitte nodig om hier te ry, en dis by die reservaat beskikbaar. Dis nie nodig om vooraf te bespreek nie, maar begin verkieslik teen dagbreek ry.
Laat ses uur toe vir die rit, en minstens nog ’n uur om die panoramas van die verskillende uitkykpunte te waardeer. Die algehele afstand van die roetes is 30 km. Kampering langs die roete word toegelaat
Wat jy moet weet
Blyplek:
Jy kan jou tent in ’n skaduryke bos op die oewer van die Spekrivier opslaan (spoeltoilette en warm water is beskikbaar), in die 100 jaar oue Skaapwagterskothuis met ses beddens slaap of in een van die nege BZN’s bly – dis slaapsaalverblyf met stapelbeddens. In Joan se Huis of die basiese skihut is daar warm storte, ’n toilet en eetgerei. Daar is ook vyf Lakeside-huise met slaapplek vir 8 in elk. Besoek die webblad onder vir meer inligting.
Wat nog?
Vierwielmotorfietsry, sneeubordry, ysklim, hengel, abseil, waterski, bergfietsry, voetslaan, kloofing, perdry, kersies pluk, teikenskiet, verfbal en vryval.
Kontak:
Didi en Waldo
023 312 2282;
082 453 9841;
079 502 7382 (Waldo);
info@matroosberg.com;
www.matroosberg.com
Naaste dorp: Ceres (35 km) Beste tyd om te gaan: Heeljaar, maar die sneeu in die winter is besonders.
Roeteafstand: Altesaam 30 km
Hoe lank gaan ek ry? 6 uur
GPS: S33.33012 E19.61077

Wat jy moet weet
Kontak:
Didi en Waldo
Telefoon:
023 312 2282
Selfoon:
082 453 9841; 079 502 7382 (Waldo)
E-pos-adres:
Webblad:
Roeteafstand:
Altesaam 30 km
Verblyf
Jy kan in die 100 jaar oue Skaapwagterskothuis met ses beddens slaap of in een van die nege BZN’s bly – dis slaapsaalverblyf met stapelbeddens. In Joan se Huis of die basiese skihut is daar warm storte, ’n toilet en eetgerei. Daar is ook vyf Lakeside-huise met slaapplek vir 8 in elk. Besoek die webblad onder vir meer inligting.
Kampering:
Jy kan jou tent in ’n skaduryke bos op die oewer van die Spekrivier opslaan (spoeltoilette en warm water is beskikbaar).
Wat nog?
Vierwielmotorfietsry, sneeubordry, ysklim, hengel, abseil, waterski, bergfietsry, voetslaan, kloofing, perdry, kersies pluk, teikenskiet, verfbal en vryval.
































