Grootwater-4×4-roetes

101 Roetegids | 2010
Grootwater-4×4
Die Grootwater-4×4-roete is geleë in ’n stil hoekie in die Waterberg-bergreeks, 250 km van Pretoria af langs die Poer-se-Loop-rivier.
Dit het ’n verskeidenheid kort roetes oor ’n uiteenlopende terrein, en word goed onderhou. Met jou aankoms kry jy ’n kaart met die 4×4-roetes én die plaaspaaie. Die roetes word duidelik aangedui sodat jy dit na hartelus op jou eie kan verken.
Die verrassing van Grootwater is die uitdagende rotshindernisse. Gelukkig is die klippe en rotse langs die roete nie skerp nie, en dit gaan dus nie sommer jou voertuig of bande verniel nie. Bygesê, voertuie wat dié roete wil aflê, moet ordentlike grondvryhoogte hê. Moet dus nie oorgerus wees nie – die steil afdraandes kan behoorlik taai wees. In die reënseisoen van Oktober tot Maart kan dele van die plaas vol modder wees, en dit kan selfs meer uitdagende hindernisse skep. Hou dit dus in gedagte as jy bespreek.
Behalwe ’n stewige versameling voëlspesies kan jy ook wild sien soos koedoes, rooibokke, bosbokke, duikers, blouwildebeeste en strandwolwe, en as jy regtig gelukkig is, selfs ’n luiperd of twee.
Blyplek:
Jy kan ’n chalet bespreek, ’n aand in die bos¬kamp deurbring of in Grootwater se gevestigde kampeerplek jou tent opslaan. Die Vaalbos-kamp het vier ten volle toegeruste chalets (elkeen met sy eie kombuis en en suite-badkamer) waarin tot 5 mense in elk kan slaap. Onthou net om jou eie handdoeke te bring. In die drie rietdakchalets in die boskamp kan daar ook tot 5 mense in elk slaap (kies tussen ’n toegeruste of nie-toegeruste eenheid), en dit het ’n gemeenskaplike ablusiegerief en lapa. Die skaduryke kampplek op die oewer van die Poer-se-Loop-rivier het ’n ontspanningsarea met ’n swembad, kroeg en pool-tafel.
Wat nog?
Voetslaan en vierwielmotorfietsry. Die omgewing sal mense interesseer wat in die geologie belangstel, en voëlkykers hoef nie eens diep in die digte bosse rond te delf om die verskeidenheid spesies dop te hou nie.
Wat jy moet weet
Kontak:
Dawn en Herman du Toit
083 280 9772;
082 338 3115;
adventure@grootwater.co.za;
www.grootwater.co.za
Naaste dorp: Lephalale (Ellisras) 40-50 km (afhangend van die roete wat jy kies)
Beste tyd om te gaan: Heeljaar
Roeteafstand: Altesaam 30 km
Hoe lank gaan ek ry? 4-5 uur











