Daberas Adventures

Sien die ‘Richtersveld’ op ‘n plaas
As jy hunker na die Richtersveld, maar jy wil dit op ’n gerieflike vakansieplaas
ervaar, het Philip Sackville-Scott op net die plek afgekom.
As jy die verlate stuk pad van die afdraai na Daberas Adventures ry tot by die ontvangs, gaan jy jouself moet knyp dat jy nie in die Richtersveld in die suide van Namibië is nie. Jy is op die suid-westelike grens van die Augrabieswaterval Nasionale Park.
Dit het dieselfde dor, klipperige landskap met ruwe koppies en skerp rotse wat oral uit die grond steek as die Richtersveld. En Daberas se eienaars, Kobus en Hannecke van Coppenhagen, is vas van plan om dit te bewaar.
Sedert hulle Daberas Adventures sowat drie jaar gelede gekoop het, het hulle ontslae geraak van die vee op die plaas, en weer springbokke en gemsbokke ingebring. Hulle het ook vierwielmotorfietse verban en van die 4×4-roetes gesluit, aangesien bewaring die eerste prioriteit is en die 4×4-roete bedoel is om die bewaring te ondersteun. Tot dusver is hulle bewaringspoging baie doeltreffend – hulle het selfs al ’n luiperd gesien wat teruggekeer het plaas toe.
Met die intrapslag al maak die Van Coppenhagens dit baie duidelik dat bewaring hier die belangrikste prioriteit is. Elke bestuurder kry ’n deeglike kaart van die 4×4-roetes, en van almal word verwag om op die roete te bly – geen afdraaie of U-draaie nie, en as jy soos ’n skollie ry, gaan jy waarskynlik die trekpas kry.
Bestuur veral versigtig op die hooftoegangsroete na die boskamp – dis in ’n ekologies sensitiewe droë rivierbedding wat na die Oranjerivier loop.
Ry in ’n rivierbedding
Reg, noudat almal weet wat die reëls is, kan ons vertrek, weswaarts van die ontvangsgebied in die noordoostelike hoek van Daberas Adventures, al langs die droë rivierbedding vir 5 km.
Die roete kronkel “stroomaf” op sagte riviersand. Dit kronkel tussen kleinerige koppies deur. Jare se vloedwater het die omringende kranse uitgekalwe en die rotsblokke glad gespoel.
Jy sien gou hoekom die eienaars die plek so vurig beskerm.
Die kaart waarsku oor die eerste hindernis: “Die Noute”. ’n Groot, plat rotsblok lê in die pad. Al manier is bo-oor, maar die afdraande kant is so steil dat jy eers uit jou voertuig moet klim om te kan sien waar jy moet ry.
By die Rooikathek-teken draai ons links boskamp toe, wat ’n paar honderd meter verder na regs lê.
Die kamp, naby ’n klipbank wat wemel van dassies, het ses staanplekke en dis groot genoeg vir twintig voertuie. Jy kan warm stort in die ablusieblok met twee gasstorte, en hier is ook twee spoeltoilette. Of jy kan op ’n warm dag onder die koue buitestort afkoel.
Die lapa het ’n onderdak-eetplek, ’n groot vuurmaakplek en ’n klein swembad. Elke staanplek het ook sy eie vuurmaakplek. Alles is skoon en word goed onderhou.
Die roete loop nog 1,2 km aan in die droë rivierbedding, waar ’n bordjie wys jy moet links draai na die begin van die 4×4-roete. Jy moenie hierdie graad 3-4-roete oor rotsagtige terrein vlak kyk nie – jy het ’n voertuig nodig met laestrek en ’n agterste ewenaarslot, goeie grondvryhoogte en ’n ordentlike naderings- en vertrekhoek.
’n Pap band op ’n ongemaklike plek
Ná Kobus ons vinnig vertel het hoe dinge werk, vat hy voor.
Aanvanklik is die roete redelik gelyk, maar ná net 2 km kom ons by die eerste van ’n reeks kort, steil opdraandes. Vyf kilometer later, nadat ons lekker geklim het, kry ons die uitdagendste hindernis van die hele pad – ’n lang graad 4-steilte vol los klippe na Aubrey se uitkykpunt, wat ook die begin van die Groen-roete is.
Vooraf is ons gewaarsku dat ons nie sonder ’n agterste ewenaarslot of verminderde banddruk (1,5 bar) tot bo sal kan kom nie …
Maar halfpad op teen die bult, waar die roete op sy steilste en vastrap maar skraps is, sny ’n klip die sywand van ’n band van een van die Hiluxe in ons konvooi. Die band spring van die velling af.
Ná ’n ruk kry ons die band weer op die velling deur ’n klemband (ratchet strap) om die omtrek van die band styf te trek en die band met ’n kompressor te pomp.
Die volgende stap is om proppe in die lekplek te sit, maar die sny is te lank en die proppe bly uitval.
Ons besluit om die Hilux 20 m teen die bult op te sleep met ’n wenas, tot by ’n platter deel van die roete, sodat ons die band daar kan omruil.
Dit beteken egter ek moet my Land Cruiser tot bo-op die heuwel ry, ’n U-draai maak en weer halfpad terugry. Uiteindelik staan ek op ’n steil afdraand vol los klippe en begin om die Hilux voetjie vir voetjie boontoe te sleep met die wenas.
Toe die Hilux uiteindelik op ’n meer stabiele deel staan, ruil ons die beskadigde band met ’n nuwe een.
Maar ek moes toe nog met die “reddingsvoertuig” agteruit ry teen die steil, kronkelende pad vol los klippe, heelpad tot bo, waar dit veilig was om om te draai en met die roete aan te gaan. Dit was maar ’n senutergende affêre wat jy net kon regkry in ’n rateltaai 4×4 soos ’n Cruiser.
’n Driekwartier later is ons weer op pad, dié keer teen die makliker kant van Aubrey se heuwel, teen ’n skuinste met heelwat beter vastrap.

Duine toe!
Ná ’n 2 km lange klipperige pad tussen mooi kokerbome deur kom ons by ’n sloot met steil kante. Wees versigtig hier, omdat jou sleephaak maklik ’n rots kan tref as jou voertuig te laag is of as jou vertrekhoek te klein is.
Die roete klim dan teen ’n klein heuwel uit, oor nog los rotse, voor dit geleidelik teen die ander kant afloop.
Jy kan óf regs draai en noord ry tot by die Swartberg-uitkykpunt of aangaan tot by die duine. Ons kies die duine.
Om dit te doen moet jy by die eiendom uitry deur Gene se hek op die westelike grens van Daberas, en langs ’n grondpad ry op ’n buurplaas, Onderstepoort. Ná 6 km ry jy weer die plaas in by die noordelikste hoek. Terloops, jy word net op die duine toegelaat as Kobus by is.
Die vaalsandduine is groot, permanente duine wat met gras bedek is. Om skade aan die duine te beperk, is dit belangrik om op die spore te bly. Ons verlaag die banddruk tot 1 bar, en begin om die lang ent teen die voorste wand van die duin op te klim, en draai links net onder die rand van die duin.
Dan klim jy nog ’n ent – hierdie keer baie korter en heelwat steiler.
Dié sagte dik sand is die ideale plek om te oefen as jy nie soveel sandry-ervaring het nie, veral met al die oorkruisgate op pad boontoe. In die winter, soos toe ons hier was, is dit nie te moeilik nie, maar
in versengende somerhitte sal die losser sand ’n veel groter uitdaging wees.
Bo-op hierdie duin is ’n opsionele verlegging na regs, waar ’n kort, steil rit teen die glywand jou terugneem tot by dieselfde sagte deel met oorkruisgate. Dié klein afdraand is goeie oefening en baie pret. Jy moet baie stadig ry, en net genoeg momentum hou om deur die sand te kom. En as jy te vinnig afry, gaan ’n nou draaitjie heel onder na regs jou ore aansit.
Die roete loop verder oor steil syhellings en die kruin van ’n paar duine. Dis redelik skrikwekkend om met die voertuig naby aan die oorhelpunt op die kruin van hierdie duine te kom, maar hou maar die stuurwiel reguit en hou momentum, selfs al voel jy paniekbevange …
A
s jou voertuig na onder sou gly, stuur saam met die gly om uit die penarie te kom, anders gaan jou voertuig waarskynlik draai dat sy neus boontoe wys.
Op dié deel van die roete het jy ’n uitstekende uitsig oor naburige wingerde, die oorblyfsels van ’n ou wolfram-myndorpie, die Oranjerivier en die Namibiese plato na die noorde.
Maar nou het ons ons kwota sandry gehad. Ons ry terug op ons spore na die grondpad waar ons die duingebied binnegery het, en daarvandaan oor nog ’n buurplaas na die oewer van die Oranjerivier vir ’n laatmiddagete.
Ons ry langs plaaspaaie terug na die boskamp.
Daardie aand om die vuur bespreek ons ’n dag op Daberas waarin ons min of meer al die uitdagings teëgekom het wat ’n 4×4-roete kan hê – los klippe, steil koppies, sandry, middagete langs die rivier en ’n goeie ou herwinning. Goeie waarde vir geld …
WegRy sê: Daberas het alles: uitdagende rots- en sandry in ’n woestyn vol wild en roofvoëls.

Wat jy moet weet
HOEKOM MOET EK GAAN?
Die roete word hoogs aanbeveel omdat die terrein so uiteenlopend is, en jy heelwat diere kan sien en die fotogeleenthede oneindig is. Langs die roete kan jy gemsbokke, koedoes en springbokke sien, en reptiele soos die swartspoegkobra en likkewane is volop. Voëlkykers sal breëkoparende, visarende, witkruisarende en gompoue kan sien. Die kokerboom, swart-ebbehoutboom en witgatboom is van die uitsonderlike plante op die plaas.
OP DIE ROETE
Hoe lank is die roete? 35 km veldrypaaie
Hoe lank gaan ek ry? Jy ry ’n volle dag aan al die roetes.
Maksimum aantal voertuie? Meer as 12 raak ’n handvol.
Kry ek ’n kaart? Ja, en ’n volledige oorsig.
Gaan my kar gekrap word? Nee
Moet ek my treeplanke afhaal?
Ja, as jy die Groen-roete wil ry.
Moet ek ’n kompressor neem?
Ja, jy moet jou bande afblaas tot 1,5 bar op die roete, en tot 1 bar op die duingedeelte.
Kan ek halfpad omdraai? Nee
Kan ek op die roete braai? Net by die kampplek
OM DIE ROETE
Beste tyd om te gaan?
April-September. Die somer is baie warm.
Kan ek my gesin neem? Beslis
Net vir die dag of die naweek? Minstens twee aande
Is daar ablusiegeriewe vir dagbesoekers? Ja
Kan ek wild sien? Ja. Buiten wild (sien heel bo) het die plaas ook roofdiere soos die rooikat, rooijakkals, bakoorjakkals en bruinhiëna.
Die naaste dorp? Augrabies (57 km)
Hoe kom ek hier? Ry wes op die R359 van Augrabies. Ry verby die afdraai na die park (jy sal ná 10 km daar kom). Die pad raak grond. Draai regs ná nog 38 km by die T-aansluiting. Dis nog 9 km tot by ontvangs.
Van Pofadder: Ry oos op die N14 vir 59 km. By die aansluiting met die Augrabies-pad draai jy links op die grondpad, en ry 45,3 km aan tot by die Daberas-padteken. Hiervandaan is dit 9 km tot by ontvangs.
Die naaste brandstof? Augrabies (57 km), maar net gedurende werkure. Anders kan jy op Kakamas (80 km) of Pofadder (110 km) volmaak.
GPS: S28.49201 E19.95306
WAAR KAN EK BLY?
Jy kan kies uit twee gastehuise, Pollies en Kokerboom, of jy kan in die boskamp kampeer. Gas, sonpanele en paraffien word gebruik. Bring jou eie water – die water hier is brakkerig. Neem alle vullis saam met jou uit.
WAT NOG?
Wat moet ek spesiaal pak?
’n Bandherstelstel, sleeptou en kinetiese strop. Een voertuig in die groep moet ’n wenas hê.
Wat kan ek nog hier doen?
Swem en hengel, voetslaan op een van die talle roetes, minerale versamel (met toestemming) en voëls kyk.
KOSTE?
Roete: R120 per voertuig
Kampering:
R60 p.p.p.n. (kinders onder 12 betaal R30 per nag)
Gastehuise:
Pollies en Kokerboom het slaapplek vir 9 in elk; dit kos R120 p.p.p.n. (kinders onder 12 betaal R60 per nag)
KONTAK?
Hannecke en Kobus van Coppenhagen
083 304 2682;
083 384 7188;
daberasadventures@webmail.co.za;
www.upington.com/DaberasAdventures.htm
101 Roetegids | 2010
Daberas Adventure-4×4-roete
Die plaas Daberas, 56 km wes van Augrabies en reg langs die Augrabies-watervalpark geleë, is ’n lekker ekotoerisme-bestemming.
Die omgewing se geologie is fassinerend, en heelwat minerale lê die landskap vol. Min plante groei in dié droë klimaat, maar kokerbome is volop, en as jy die omgewing besoek ná goeie reën sal die plaas met veldblomme oortrek wees.
Die roete loop langs ’n bestaande netwerk van plaaspaaie en tweespoorpaaie, en dus is groot dele daarvan redelik maklik. Maar naby die begin van die roete is daar ’n rotsagtige steilte wat sowel die bestuurder as die voertuig sal beproef (sagte 4×4’s en 4×2’s moet dié deel misry).
Dit klim teen die Xamiboomkloof uit, en jy kan af en toe stilhou terwyl die roete teen die Swartberg uitloop. Van die uitkykpunt op die berg het jy uitsigte oor duine, ou murasies, die Oranjerivier en Namibië in die verte. Die roete loop verby mura¬sies van myngeboue wat dateer van 1938-1945 toe wolframiet gemyn is. Dit strek oos op in ’n droë rivierbedding tot waar die rivier ontspring, en dan weer langs nog ’n droë rivier na Volstruiskloof, oor die sand van Spitskop se Kloof en Stilhoek se Vlakte tot by die begin van die roete.
Dié dele deur die droë rivierbedding kan uitdagend wees, veral as die sand warm en droog is. En as jy regtig jou vernuf wil beproef, vra oor duinry by Vaalsand.
Blyplek: Kokerboom is ’n gerestoureerde drieslaapkamerplaashuis met slaapplek vir 9 (dis selfsorg). Pollies House, wat tussen die wingerd geleë is, het vier groot dubbelslaapkamers (twee is en suite) met slaapplek vir 8. Jy kan ook onder die sterre slaap in die nuutgeboude kampplek, met warm storte, spoeltoilette, braaiplekke en plonspoele.
Wat jy moet weet
Kontak:
Hannecke en Kobus
083 384 7188;
083 304 2682;
083 656 4498;
daberasadventures@webmail.co.za;
www.upington.com
Naaste dorp: Augrabies (56 km)
Beste tyd om te gaan: Tussen Maart en Desember (Januarie en Februarie is baie warm)
Roeteafstand: 25 km
Hoe lank gaan ek ry? 4-6 uur
GPS: S28.49201 E19.95306

Wat jy moet weet
Kontak:
Hannecke en Kobus
Selfoon:
083 384 7188; 083 304 2682; 083 656 4498
E-pos-adres:
daberasadventures@webmail.co.za
Webblad:
Beste tyd om te gaan:
Tussen Maart en Desember (Januarie en Februarie is baie warm)
Roeteafstand:
25 km
Verblyf
Jy kan kies uit twee gastehuise, Pollies en Kokerboom. R120 p.p.p.n.
Kampering:
Hier is 'n boskamp. Gas, sonpanele en paraffien word gebruik. Bring jou eie water – die water hier is brakkerig. Neem alle vullis saam met jou uit. R60 p.p.p.n.
Wat nog?
Swem en hengel, voetslaan op een van die talle roetes, minerale versamel (met toestemming) en voëls kyk.

































