Brakkeduine 4×4 Sand Trail

101 Roetegids | 2010
Brakkeduine-4×4-sandroete
By Brakkeduine, sowat 36 km van Humansdorp af, gaan dit oor sand, sand en nogmaals sand. Die 4×4-roete loop tussen, oor en rondom duinpiramides, en omdat die sand heeltyd skuif, sal die roete met elke besoek anders wees.
Die roete begin net langs ’n groot dam op ’n melkplaas. Dan loop dit oor ’n stroompie en deur yl bosveld voor dit die sand bereik. Sommer reg van die begin af is daar ’n paar lekker op- en afdraandes, en een of twee skerp draaie tussenin.
Die loodregte afdraandes gaan jou op jou tone hou, tot die eienaar en bestuurder, Choppie Lindström, jou na Banggat gaan stuur, sy nieamptelike speelput. Dis afgesonder, heeltemal omring deur groot sandversperrings, en is ’n hindernisbaan vir mense wat hulle ryvernuf wil beproef. Boonop is dit die ideale plek vir middagete.
As voorsorgmaatreël ry Choppie eers in om seker te maak die roete kan gery word voor ander toegelaat word.
Daarna is dit tyd vir die ernstige saak: duinklim. En daar is ’n paar behoorlik stewige duine … waar momentum bepaal of jy die koning van die sand gaan wees of met ’n geknakte ego opgeskeep gaan sit; waar te veel momentum gevaarliker kan wees as om in die sand vas te sit; en waar jy maklik deur die lug kan vlieg.
Die klim na bo is ’n stewige uitdaging omdat daar min plek is om momentum op te bou. En sodra jy bo is, moet jy weer versigtig wees om nie heelpad tot onder geskiet te word nie … Die Brakkeduine-tuimeltruin is ’n uitstekende sandry-ervaring as jy jou ryvaardighede wil beproef. Daar is egter ook ontsnap¬roetes waarmee jy die moeilike dele heeltemal kan vermy. Gidse vir die roete is op aanvraag beskikbaar.
Wat jy moet weet
Blyplek:
Daar is nie blyplek op die roete beskikbaar nie. Jy kan by die private Oyster Bay-kampeerterrein bly, waar geriewe vir karavane en tente is, sowel as chalets. Kontak Michelle by 042 297 0084 om te bespreek.
Kontak:
Choppie Lindström en Arthur Loretz
083 400 3720;
082 336 2055;
choplins@mweb.co.za
Naaste dorp: Humansdorp (36 km)
Beste tyd om te gaan: Heeljaar
Roeteafstand: 14 km
Hoe lank gaan ek ry? Drie uur tot ’n dag
GPS: S34.13383 E24.57539
Wat jy moet weet
Kontak:
Choppie Lindström en Arthur Loretz
Selfoon:
083 400 3720; 082 336 2055
E-pos-adres:
Webblad:
Beste tyd om te gaan:
Heeljaar
Roeteafstand:
14 km










