Grondpaaie roep one
Ingeskryf deur: 
Ans Scholtz

Met ‘n paar af dae tot ons beskikking besluit ons inderhaas om gou die Berg Kwaggapark te besoek. ‘n Vinnige inpakkery volg en ons is reg vir die rit.
Ons vertrek eers laat uit Gansbaai en soos wat ons Calitzdorp nader, sien ons die afdraai na Warmwaterberg.
Ons besluit daar en dan om in te draai en te kyk vir akkommodasie.
Daar is nog een “chalet” beskikbaar en ons neem dit ongesiens. Ons is vriendelik ontvang en aangesê dat ons bietjie geduldig moet wees met die warm water om warm genoeg te word om te stort.
Dit was ‘n ysig koue aand en na liters en liters water deur die drein, het ons net besef dat hierdie water nooit warm gaan word nie, dit het nie eens lou geword nie. Nouja, ‘n ketel warm water moes maar doen. Die Wendyhuisie was gladnie op standaard  vir die prys nie.
Vandaar is ons na Cradock Spa. Met die inry kry jy ‘n warm gevoel om jou hart oor die vriendelike ontvangs van die hekwag genaamd Petrus. Die omgewing en tuine lyk netjies en versorg. Ons kon darem, met Petrus se hulp die Super 14 eindstryd op TV volg nadat Petrus vir ons ‘n TV na ons kamer gebring het. Die res van die aand en nag was maar onrustig omdat ‘n groep mense by ons buur huisie saamgetrek het vir ‘n nag van gefuif.
Die polisie moes, volgens Petrus, in die vroeë oggendure ingryp en ons kon nie wag om te ry nie.
Ons het dus vroeg na die Bergkwagga Park naby Cradock vertrek. Ons was lanklaas so verras met een van ons SAN Parke.
Die pragtige kantore met vriendelike en professionele personeel, die uitstekend toegeruste Chalets was ‘n groot lekkerte. Ons het uitgelate en met verwondering oor die skoonheid van die hele park, drie wonderlike dae daar spandeer. Die piekniek plekke, die paaie, die asemrowende natuur het al ons verwagtinge oortref. Komplimente aan almal wat betrokke is by die BergKwagga Park.
Vandaar vertrek ons met die R337 grondpad na Pearston, Jansenville en Steytlerville.
Wat ‘n aangename verrassing toe ons Steytlerville nader met die pragtige geverfde vlae teen die rotse. Van ou landsvlag tot die nuwe ens. Nog ‘n groter verrassing wag toe ons die dorp binnery en die netjiese strate wat versier is met baniere van vanne en familiewapens wat al die ou inwoners uitbeeld. Voorwaar ‘n dorp wat netjies bestuur word.
Na ‘n lafenis vertrek ons suid met ‘n grondpad na die noorde van die Baviaanskloofberge en ry al teen die berg af na Willowmore en vandaar, weer met ‘n grondpad, na Klaarstroom en vandaar na Meiringspoort.
Die poort bly maar een van ons natuurwonders en dit is ‘n absolute moet vir enige natuur liefhebber.
By de Rust word stilgehou en bewonder ons die klein, interessant versierde restourantjies en winkeltjies.
Hier koop ons eers ‘n paar ou Huisgenote van 1949 en 1950.
Ons vertrek met ‘n grondpad, al langs die Swartberge tot by Calitzdorp. ‘n Pragtige pad wat met tye so smal soos dié in die Baviaanskloof is.
Van Calitzdorp vertrek ons met die grondpad wat ons verby van Wyksdorp en oor die Rooibergpas en Gamkasberg neem in die rigting van Riversdale. Ons tyd raak beperk en ons besluit om van daar met die N2 huiswaarts te keer.
Ai, ons mense wat op die groot verbypaaie ry mis so baie maar vir ons wat dit lankal ontdek het en verder deur die Weg en Wegry verlei  word om die ompaaie te ry, geniet die stilte. Dit gee ‘n mens weer perspektief en laat jou opnuut besef dat dit nie nodig is om oorsee te reis nie omdat ons die hele wêreld in een land het.


Lewer kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
geen
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association