Gedurende ons vakansie oor die Kers-seisoen het ek en my familie die pad gevat by Oudtshoorn verby na die Swartberpas se kant toe.
Soos ons gery het kon jy nie anders as om op te merk hoe swaar die wêreld kry met die huidige droogte wat daar heers nie. Dit was lekker warm en ons het baie uitgesien daarna om teen die Swartberge op te ry na die koeler bergwinde toe. Niks kon ons natuurlik voorberei vir die toneel wat op ons gewag het nie. Ek het sommer uit die heup uit foto’s van die landskap geneem met die gedagte om hulle teen mekaar te pas en saam te raam.
My swaer Pieter het my vroeër die vakansie op die Hartenbos vertel van sagteware wat hulle gebruik om soortgelyke werk te doen vir hulle ingenieursprojekte. Hulle sal n klomp foto’s van n toneel neem en dit dan met die sagteware op pixel vlak aan mekaar las om amper n 360° voorstelling te kry. Ek kon nie wag om by die huis te kom en self bietjie op die internet te krap vir sulke sagteware nie.
Groot was my verbasing toe ek sien die web is besaai met sulke programme en die meeste is verniet, dan is hulle nog goed ook. Dieacute foto is met een van hierdie gratis programme aanmekaar gesit.
Ons staan op die Swartberge en kyk terug na die Indiese oseaan met die Outeniqua berge in die agtergrond en die Klein Karoo tussen ons en die Outeniqua berge.
Is dit nie ongelooflik nie!






Lewer kommentaar