Motor Dogs vat Defender Trofee
En die wenner is…
’n Klomp Land Rovers het sake onlangs in die omgewing van Venda en die Soutpansberg uitgespook in die agtste Land Rover Centurion Defender Trophy.
Die span Motor Dogs, met Colin Gallop agter die stuur en sy navigator Bruce McDonald, het in ’n Defender 90 Pick-Up gewen.

Paul Fouche en Radie Kotze (span Nyati) in hulle Defender 130 Tdi was tweede – net een punt minder as die wenners – en Steven Goosen en Matthew Lizemore (span Rafiki) derde ’n Defender 90 Td5.
Die 22 spanne het in Venda in ’n uiteenlopende klomp Defenders weggespring en moes onder meer deur die vol Mutalerivier ry, die Mangwelepas trotseer en hul bestuurvernuf toets in ’n modderige steengroef in die Nwanedi-natuurreservaat.

As deel van ’n omgewingsbewuswordingsveldtog moes die spanne onder meer bome, plante en ander landmerke identifiseer.
Elke span se 4×4-vermoëns is tot die uiterste beproef. Van die uitdagings het brugbou-, wenas- en konvooi-oefeninge ingesluit. Die grootste toets was toe die bestuurder geblinddoek is en met behulp van sy medebestuurder se aanwysings ’n uitdaging moes aanpak.














