Lesotho sonder GPS

Body: 

Ek het ‘n pak ou WEG eksemplare gekoop by die plaaslike Hospice winkel en in die bondel was  WegRY #7 (Junie – Julie 2008).
In die Bospos is daar toe ‘n brief en foto van Sarien Lategan oor hulle Sani tot Katse ervaring. Die foto wat (kamtig) die 4x4 roete na Katse aandui het my koue rillings gegee. Soos die Lategans het ons ook gevoel dat die hoe-ha oor Sani pas heeltemal overrated was en kon niks verkeerd sien met die bietjie ekstra 4x4 ondervinding wat volgens ons AA kaart beskikbaar is op pad tussen Mokhotlong en Seshote op pad na Katse nie.

Vooraf het ‘n vriend wat baie 4x4 ondervinding het, die twee bestuurders, Heinz en Jeff ‘n paar ure se praktiese opleiding gegee en almal wat ons kon vra het insette gegee oor Lesotho.
 Ons was 6 volwassenes en 2 klein dogtertjies in 2 Hiluxe. In ons s’n – gedoop die Yellow Canary – was dit ek en my man, Heinz en ons Britse vriende Graham en Beverley. Hulle is gewoond om in 5 ster hotelle in Kenia ens. te bly, maar was heel opgewonde om die Lesotho-ding met ons mee te maak tydens Paasnaweek 2008. In die ander Hilux was Jeff, Sarah en die meisiekinders. Hierdie was ons eerste (en verseker my laaste) 4x4 blootstelling, maar ek moet sê ek het myself heel goed gedra en net een tantrum gegooi  – en op die keper beskou, kan ek myself daaroor op die skouer klop. 

Ek het voor die tyd al die internet navorsing gedoen en spesifiek vir Garmin gebel om uit te vind of daar enigiets tov Lesotho was wat ek kon aankoop om die lewe makliker te maak, maar hulle het my verseker dat dit nie regtig sou help nie en ook nie nodig sou wees nie.  Met ‘n AA kaart en  Lesotho gidsboek is ons vroegoggend deur die grenspos aan Sani se onderpunt.
Op daardie stadium was Sani Pas ons grootste uitdaging en daar was nie planne om die “slegs 4x4” roete op die AA-kaart aan te pak nie.  Die manne was redelik bekaf oor die mak Sani-pas en besluit toe om daardie uitdaging aan te vat.  Siende dat beide die bakkies gediens is voor ons weg is en ons ekstra long range tenks gehad het en genoeg kos en water vir ‘n peleton, is ons sonder verdere bekommernis vort.

Volgens ‘n groep lede van ‘n 4x4 klub waarmee ons laat oggend by Sani Top chalets in die kroeg gesels het, was dit ‘n redelike roete. Ons het hulle nooit weer gesien na ons daardie rigtingwyser na Katse links gevat het nie – ek is seker hulle het daardie aand lekker gesit en lag oor die groentjies wat hulle so in die hel ingestuur het.
Elk geval, ons het ook gevind dat die eerste deel heel aanvaarbaar was, maar begin toe dele kry waar stukke van die pad missing was (met ‘n goeie afgrond reg langsaan). Daar was gedeeltes waar mens kon sien die pad was besig was om herstel te word.
Nog was ons nie te bekommerd nie – dit het eers verder aan gebeur toe daar al hoe meer afgrond en minder pad was. Die Britte het vinniger aan hulle snacks gepeusel en die linkerboud so styf ingetrek wanneer ons deur een van daardie “interessante” dele gegaan het. Die manne was nog oortuig almal is besig om ‘n helse goeie tyd te beleef. 

Heinz het intussen agtergekom dat daar groot probleme was (die erns daarvan het hy maar van ons weerhou op daardie stadium) –  hy moes elke keer wanneer hy by ‘n draai kom eers die petrol los, draai en dan weer petrol gee om om die draai te kom. Ten spyte van die feit dat daar nuwe engin mountings opgesit was voor ons by die huis weg is, het hierdie pad die mountings gebreek, wat veroorsaak het dat die engin teen die stuurstang gedruk het.
Die res van ons het eers die volgende oggend besef hoe erg dit was toe hulle in die daglig die storie ondersoek. Oplossing: hy het ‘n stuk mat wat in die bakkie was dubbeld gevou, ingedruk en so het ons teruggery Pretoria-toe. Hierdie Duitser kan enigiets regkry!


Teen 16h30 kom ons by die Malingoaneng sending stasie aan waar die pad ‘n T-aansluiting met die rivier maak, jy gaan ‘n entjie stroom-af en daar staan die sendingstasie so 100 m na links heel op sy eie en na regs is soort van ‘n pad wat uit klei en klippe bestaan wat langs die rivier verder loop. GEEN spoor van ‘n ander pad van enige aard nie.  Die logiese afleiding – volg die pad.
Ons stop toe daar en neem ‘n paar foto’s (die laastes wat enigeen van ons vir die dag geneem het). Dit begin op daardie stadium liggies reën en ons vra vir die locals of hierdie die pad Katse-toe is. Natuurlik is die antwoord Ja en ons dink hulle giggels onder mekaar is van vriendelikheid, nie spite nie. Elke persoon wat ons van daar af tee gekom het en gevra het, het Katse so na links aangedui – om die volgende draai (waarvan daar flippen miljoene was). Ons vriende was agter ons en die kinders het later gesê “the only thing around the next corner is the Yellow Canary”.

So piekel ons aan in die reën - wat intussen ys-reën geword het – en kom uiteindelik bo-op ‘n plato op ‘n ander voertuig af – een van slegs 2 voertuie wat ons tot by ons bestemming teegekom het. Dis ‘n gesin wat ‘n daktent het, wat besluit het om liewer daar te slaap en in daglig verder aan te sukkel. Hoe het ek hulle nie beny nie! 

Plek-plek was daar amper geen aanduiding van ‘n pad nie, net klippe, en dan ‘n vurk in die “pad” waar ons gewoonlik die een gevat het wat gelyk het of dit meer gebruik is. Almal het benouder geword, maar niks gesê nie. Dit was stiknag donker toe ons in gietende reën deur ‘n “dorpie” gaan, waar ons weer om die draai aangewys is.  ‘n Ent verder het ons die skynsel van Katse se ligte gesien – maar om daar te kom was hoegenaamd nie voor die hand liggend nie.
Die “pad” wat ons volg, daal toe af tussen dak-hoogte riete met water wat oor die pad spoel. Later het ek gehoor dat ons op ‘n stadium baie naby aan groot moeilikheid was – ons een agterwiel het op ‘n stadium oor ‘n afgrond geswaai.  Gelukkig kon ek weens die riete en nagdonker niks sien nie. 

So piekel ons met die spoortjie weer berg-op en sien in die verte hoofligte van voor af.  Dis toe ‘n ex-local  wat vir die naweek huistoe gekom het met sy Hilux en ons stop saam met hom by sy ouers se hut. Die manne is toe nog baie seker as hy hulle net op die kaart wys waar om te gaan, sal ons self by Katse uitkom. Maar so is my moer-meter toe skielik diep in die rooi en ek gooi ‘n mini-tantrum. Die uiteinde is dat die arme ou, wat so pas tuis gekom het, ons omtrent 3 km verder lei na ‘n punt waar hy sê ons nie verder kòn verdwaal nie.
In daardie 3 km was daar minstens 2 vurke in die pad waar ons (sonder hulp) die meer obvious pad sou vat, wat beide verkeerd was. Die man vertel die ergste wat voorlê ‘n stuk was waar ons oor ‘n laagwater brug sal gaan, maar dat dit OK was en dan sou ons “net daarna” by ‘n T-aansluiting uitkom wat die teerpad na Katse was. Die R400 wat ons hom vir die 3 km betaal het was die beste bargain  wat ons daardie naweek gekry het.
As jy na die Lesotho-kaart kyk, was ons toe op daardie stadium op ‘n gedeelte van die pad wat nie eers op die kaart verskyn nie – ons het blykbaar halfpad tussen die roete van Tlokoeng na Sheshote suid gegaan en het in plaas van noord van Katse omtrent 40 km suid vandaar op die teerpad uitgekom.    

Intussen was Beverley (die Brit) besig om te hiperventileer. Sy het geglo hy is besig om ons in ‘n lokval in te lei en dat ons op pad is om uitgemoor te word. Die feit dat hy ons ewe maklik 400 m van sy ouerhuis af kon vermoor eerder as om homself weer deur ‘n low-range 1ste rat modder rit te sit 9 uur in die donker in die reën, het vir haar nie saak gemaak nie. Iets wat my vandag nog beindruk van Beverley, is dat sy ten spyte van die liter water wat sy sedert die begin van die 4x4 roete gedrink het, geweier het om soos die res van ons ‘n bos-piepie te maak elke nou en dan.Sy het eers 11 uur die aand by Katse die toilet bygekom!  Die uithouvermoens van die Britte - Amazing!

Die laagwater brug het toe ‘n brullende rivier gehad wat oor hom vloei, wat agter by die canopies ingevloei het – so much for not so bad. Ons is daardeur en het toe seker nog 50 haarnaald draaie op steil afdraendes beleef op ‘n “pad” wat bestaan het uit gruis en ronde klippe. Uiteindelik verskyn die T-aansluiting met die teerpad toe voor ons. Teen daardie tyd was ek ‘n wrak. Om een of ander rede is ek altyd die een wat die beplanning en navorsing moet doen vir hierdie tipe trippies en al het niemand my reguit van iets beskuldig nie, het ek gevoel almal het gedink ek moes voor die tyd hierdie probleme voorsien het. 

Gelukkig het ek die vreeslike ernstige vermaning dat enige alkohol wat by die Lesotho grenspos in jou voertuig gevind word afgeneem sal word, geignoreer. My ½ bottel Jim Beam is deur al 6 volwassenes in ‘n oogwink klaargemaak – en van die lot van ons is ek eintlik die enigste een wat normaalweg daarvan hou! 

Die dag na ons tuis gekom het, is die Yellow Canary verkoop – en nie op my aandrang nie. My man het besef 4x4 op daardie skaal is verseker nie my idee van ‘n lekker langnaweek nie en as hy so iets weer wou doen, dit sonder my sou wees.  Die nuwe eienaar het binne die eerste 50 km ‘n sideshaft gebreek (windgat) en binne die volgende maand is die Hilux gesteel. Karma.

Daar was intussen heelwat mense wat baie ondervinding met 4x4 roetes het waarmee ons gesels het oor daardie roete. ALMAL vertel dat hulle op presies dieselfde plek die pad byster geraak het en dat ons Katse baie vinniger as hulle bereik het (R400 well spent). My vrees terwyl ons daar al om en om die draaie gegaan het in low-range, 1ste en 2de rat vir 6 ure lank, was dat een van die Hiluxe daar in die middel van nêrens gaan breek of by ‘n krans af stort en dat daar geen manier is om hulp te kry of aanduiding te gee van waar mens is nie – nie ‘n control freak se idee van pret nie. Ja, ons het nog ‘n voertuig daar gehad, maar op daardie stadium was dit vir my ‘n skrale troos. 

‘n Paar punte wat my bybly van daardie naweek :

 

  1. Daar word altyd gepraat van die vriendelikheid van die inwoners van Lesotho – die wat ons teegekom het (behalwe vir die ou wat ons laat aand gehelp het) was deurgaans baie agressief.
  2. Daar is geen padaanwysings in die Lesotho hinterland nie (behalwe vir die eerste een by Mokhotlong). 
  3. Daar is ‘n “pre-primary school” elke 20 km in Lesotho (geen secondary school), elk met sy eie naambord – geen ander naamborde nie.
  4. Dit is ongelooflik mooi daar – soos die Transkei, maar sonder die grond erosie.
  5. Moenie enigiemand glo wat vir jou sê Katse is net hier links-om nie.
  6. Moenie 5-ster gaste glo wat sê hulle is lus vir ‘n bietjie “roughing it” nie.
  7. As jy by ‘n vurk in die pad kom, moenie aanvaar dat “the route more travelled” die regte een is nie.
  8. As jy wel iemand teekom met ‘n 4X4 wat bereid is om jou te help om uit Lesotho te kom, gryp die hulp met beide hande aan!!!
  9. Word baie bekommerd as iemand jou ‘n “interessante” trippie toewens – it just might come to that.

 

 

 

Kommentare

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association