Bosomelet

Additional Photos: 
Sit jy heel eerste 'n kastrol water op om solank te kook.
Additional Photos: 
Elke goeie omelet hang baie af van die vulsel.
Additional Photos: 
Maak al die benodigdhede bymekaar.
Additional Photos: 
Breek die eiers in die sakkie.
Additional Photos: 
Klits die eiers, sommer so in die sakkie.
Additional Photos: 
Plaas al die sakkies gelyk in die water. Laat kook vir 13 minute.
Additional Photos: 
Geniet jou omelet.
Body: 

So maak mens omelet wanneer jy kamp - 'n resep wat ek by my ma gekry het. Sy en my pa is Ere Veldwagters by Nasionale Parke en kamp self gereeld. Die manier waarop die omelet gemaak word kry almal betrokke by die maak daarvan en kan maklik in kompetisie ontaard oor wie nou die lekkerste omelet “bou”. Ek het die foto’s op die plaas Namibgrens in Namibië geneem waar ek onlangs gekamp het.

Wanneer jy met jou voorbereidings begin sit jy heel eerste 'n kastrol water op om solank te kook.
Die grootte van die kastrol gaan afhang van hoeveel mense aansit vir ontbyt - almal se omelet moet gelyk gekook word.
Ek kan dink ’n paar mense frons dalk nou – hoe kook mens dan nou ‘n omelet?

Soos met elke goeie omelet hang baie af van die vulsel.
Berei die vulsel in aparte houers voor vir elkeen om van te kies wanneer hulle hulle omelette gaan bou.
Hier het ek tamatie, kaas en biltong.
Ek het al by Ma rou gesnipperde spek ook gekry en dit werk baie lekker. By my bestanddele sou ek nog groenrissies wou bysit vir kleur.

Hier is al die benodigdhede bymekaar.
Gebruik 2-3 eiers per persoon.
Maak al die bestanddele, sout en geursel na smaak en ‘n zip lock sakkie vir elkeen beskikbaar.
Enige maak sakkie sal werk solank hy dig kan seël. Ek het sedertdien altyd 'n voorraad in my kostrommel.
Die keteltjie op die foto is vir koffie, hy het nie 'n rol in die omelet nie

So maak mens.
Elkeen breek die eiers in sy of haar sakkie.
Ma help maar die kleintjies om nie te veel te sukkel nie maar hulle moet eintlik self leer doen

Knie of maak of jy melk so met die een hand terwyl die ander hand die sakkie vashou. Die doel is om die eiers te klits, sommer so in die sakkie.

Voeg nou jou keuse van vulsel by en meng goed. Druk al die lug uit die sakkie en seël hom dan dig. As die water in jou kastrol só lyk moet jy nog bietjie wag, die water moet borrel van kokerigheid, anders gaan die omelet flop. Wanneer die water vinnig borrel, plaas al die sakkies gelyk in die water. Laat kook vir 13 minute (nie korter of langer nie). Die 13 minute reël is glo baie belangrik maar Ma kon nie vir my sê hoekom nie, sy weet net dis so. Ek het gevind dit help as jou stofie uit die wind staan en sy deksel is so losweg op, hy borrel dan makliker

Terwyl die omelet kook, smeer solank jou broodjie of maak roosterbrood of wat jy ook al saam as ontbyt gebruik. Wanneer die 13 minute verby is, haal die sakkies uit (‘n braaitangetjie verhoed dat jy brand) en dop die omelet uit. Gooi die sakkie weg (behalwe as jy dit vir vullis wil gebruik) en geniet jou omelet. Heerlik en maklik!

Kommentare

Ek het dit al 'n paar keer gemaak. baie lekker

Dit lyk baie lekker ek gaan dit beslis probeer

goeie idee;sal dit beslis probeer.

Awesome :)

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association