Karavane sukkel in Kaokoland


Oeps_WR33_small

Die eiers was darem nog heel 

Ek en my vrou het verlede jaar saam met die McCarthy-4×4-klub deur Kaokoland getoer. Op dié vakansie het ek besluit dis tyd om die manne verkeerd te bewys wat vertel jy kan nie met ’n karavaan oor Van Zylspas ry nie. 

My Nissan Hardbody met die Jurgens Oryx-karavaan is toe oor die ergste dele van die pas sonder te veel moeite. Hier en daar moes ek stadiger op aandrang van die toerleier, maar ons het die wa deur die drif getrek en ek het gedink die koeël is deur die kerk. 

Ek het net my aandag begin verslap en myself op die skouer begin klop toe daar ’n klip so groot soos ’n halwe rugbybal oor ons pad kom. Dit het die karavaan omgegooi en dit het op sy kant beland. Gelukkig het die bakkie regop gebly. 

Oeps!

Die manne wat saam getoer het, het gou-gou ingespring en die karavaan met ’n wenas tot op sy wiele gekry. Geen erge skade is aangerig nie – die eiers het nie eens gebreek nie en die yskas het nie ’n aks beweeg nie. Ons het die res van die toer geniet sonder probleme.

As ek waaksaam gebly het, sou die karavaan sonder voorval deurgekom het en sou die ouens wat nie wou glo nie, kon sien. Maar slim vang tog nou en dan sy baas. 

Dit het gebeur met Mac McMenamin van Pretoria.