Fiat Panda 4x2, maar hopelik binnekort 'n Jimny (donasies welkom!)
Regte naam
Marilize Nel
Afdakke | Een koelte asseblief!
Wil jy tjoef-tjaf skaduwee hê wanneer die lus vir koffie jou aan die strot gryp en die naaste kameeldoringboom kilometers ver is? Kry ’n afdak man. Ons wys jou ’n paar.
Net soos jy nie sonder ’n moewiese sin vir humor Nuweland toe behoort te gaan nie, net so moet jy nie sonder skaduwee die woestyn aanpak nie: Skadu waar jy kan kook en waar jy kan gaan skuinslê as jy wil gaan skuinslê. Die bos, weer, behoort jy nie sonder skuiling aan te pak nie – ’n plek waar jy nie natreën nie.
Dis goedkoper, makliker en waarskynlik veiliger om jou skadu en skuiling saam te karwei aan jou voertuig vasgemaak, as om ’n los ding saam te ry wat aan pale, bome of ander beskikbare strukture vasgemaak moet word.
Maar selfs al soek jy die eenvoudigste afdakkie, moet jy nog steeds jou huiswerk doen.
Het ek ’n dakrak nodig as ek ’n afdak wil laat monteer? In die meeste gevalle, ja. ’n Afdak moet aan iets stewigs geheg word. Van die modelle pas net op swaardiens-mandjiedakrakke, terwyl ander net aan laaistawe gekoppel kan word.
Daar is egter ook afdakke wat gemonteer word op die ouer voertuie se geutvoortjies, daai fabrieksgemonteerde relings (wat jy bv. op Nissan Navaras kry) of op die uitstaanspore waardeur jy ’n woonwatent ryg.
Aan watter kant van die voertuig moet dit kom? Jy kan maak soos jy smaak! Die meeste mense monteer hul afdakke aan die passasierskant omdat dit weg van die pad is as jy aftrek. Party soorte afdakke kan aan die agterkant van ’n bakkie gemonteer word. Daar is nie regtig voorskrifte nie – monteer dit soos dit jou pas.
Hoe lank moet die afdak wees? Die afdak kan ’n bietjie aan altwee kante van die dakraak verbysteek, maar nie veel nie. ’n Afdak van 3 m behoort goed te werk op ’n dakrak van 2,5 m. As hy verder oorsteek, gaan jy te veel takke haak as jy deur die bos ploeter.
Kan ek my afdak gebruik wanneer ’n moeder van ’n Kalahari-donderstorm op my afstorm? ’n Afdak is nie ’n tent nie. Moet dit nie soos een hanteer nie. As die wind begin te huil, is dit beter om die afdak te bêre voordat dit soos ’n stuk foelie oor jou voertuig gevou word.
Wanneer jy jou afdak opslaan, moet jy dit altyd stewig vasmaak met die penne en toue wat verskaf word.
En keer dat reënwater op die afdak opdam. Die gewig kan jou afdak laat vou.