Fiat Panda 4x2, maar hopelik binnekort 'n Jimny (donasies welkom!)
Regte naam
Marilize Nel
Angola se wilde kant
Rulan Heunis, ’n afgetrede ingenieur en sakeman, het voorheen al die suidweste van Angola besoek, maar verlede jaar het hy en ’n gids die noorde en ooste gaan verken. In die drie maande wat hulle daar was (nee, hy en sy vrou is nie geskei nie) het dinge nie altyd volgens plan verloop nie.
Angola is hoegenaamd nog nie gereed om toeriste te ontvang nie, en die ooste van die land is vir geharde 4x4-entoesiaste ’n formidabele uitdaging – selfs dié met ’n masochistiese streep.
Jy moet besef dat die afstand tussen plekke geweldig groot is, die paaie deurgaans uiters swak en daar eenvoudig nog geen toerismegeriewe is nie. In die ganse ooste van Angola kon ons byvoorbeeld nie een motorwerktuigkundige kry wat naastenby as betroubaar en aanvaarbaar beskryf sou kon word nie.
Dit is natuurlik ’n plek wat oorgenoeg geleentheid skep vir die opjaag van adrenalienvlakke. Die ooste van Angola bied, op ’n majestueuse skaal, blootstelling aan ’n eiesoortige lewenstyl wat ek ten beste kan beskryf as “ontwerpersverval”.
As jy dus die ooste van Angola per pad wil besoek, dink baie mooi en berei goed voor voordat jy die pad vat.
Aan die weskus is dinge beter. Toerismegeriewe is nog baie beperk, maar die paaie is oor die algemeen beter, brandstof meer geredelik beskikbaar en die landmyngevaar is gering of glad nie meer ’n probleem nie. Dít maak die weskus baie aanloklik vir mense wat daarvan hou om afgeleë en vreemde plekke te verken.
Die kus in die suide is ’n hengelparadys, maar moenie die kuslyn suid van Tombua sonder ’n ervare gids besoek nie.
Ek ys as ek terugdink aan hoe ek by Baía dos Tigres amper-amper my voertuig aan die see afgestaan het – dit nogal aan die begin van die toer.
Tans is daar min inligting beskikbaar oor hoe om ’n toer na Angola te beplan.
Op die internet is daar verslae met nuttige inligting, maar die beste is waarskynlik om net te ry en dan navraag te doen en dinge uit te vind namate jou toer vorder.
Dis juis hierdie onsekerheid wat Angola soveel meer interessant maak as ander bestemmings suidwaarts.