Enige ou wat hier by ons al met sy voete in die koue Atlantiese oseaan gestaan en visvang het, sal weet van die woestyn daar agter jou rug, die verlatenheid wat 'n mens so klein kan laat voel, maar tog so tuis ook want in sy verlatenheid is daar tog die sekerheid ook dat jy, mens alleen, daar veilig is en eintlik kan maak soos wat jy wil. Maar dis oor hierdie 'maak soos wat jy wil' wat ek 'n appeltjie te skille het vanoggend:
- As jy die strand waar jy wil gaan vang vuil vind, weet maar verseker dis nie noodwendig die plaaslike mense wat dit so bemors nie. Die kans sal groter wees dat dit mede-hengelaars is, wat laas daar gestaan het, wat nie hulle vuilgoed saamgevat het nie. Kyk maar net na die leë drankbottels, dan weet jy. Wees die beter persoon wat na die omgewing kom en stel vir ander 'n voorbeeld en bring 'n paar swart sakke saam en maak jou staanplek skoon nog voor jy begin van ander se gemors en dan vat jy jou eie afval ook sommer saam en gaan gooi weg as jy by 'n dorp kom. Jy sal uitstekend voel, die waarborg ek jou, want jy gaan 'n bydrae maak om die kus te bewaar vir ander mense wat dit ook wil geniet.
- Dan die visse. Ek sien die afgelope week mense staan op fotos en spog met so 'n streep groot Steenbrasse wat hulle gevang het. Mense, 'n groot steenbras is oor die 40-jaar oud en dit is die teelvis daai. Steenbras trek ook nie rond soos kabeljou byvoorbeeld nie en is erg terrotoriaal. Dis omtrent al uitgevang langs ons kus juis oor hengelaars wat hulleself nie in toom kan hou nie. Wat is verkeerd daarmee om die vis versigtig uit te ry in die water, hom op te tel en Jannie of Pietie van jou en die groot vis 'n foto te neem vir die rekord en dan sit jy hom saggies weer terug in die water vir die toekoms? As die gesindheid deursyfer, sal die hengelvis herstel, dit is verseker. Die groot visse is nie eers lekker om te eet nie! Jy moet hom kerrie om verby die 'hout-droogheid' van sy vleis te kom. Ook die ou groot kabeljoue neig na hout toe.
- As jy 'n vis gevang het en jy wil hom terugsit, moet hom nie in die water gooi nie, want sy lugblaas kan bars en dan gaan die vis vrek of haaikos word. Veral kabeljou is baie gevoelig hiervoor. Staan eerder van jou stoel af op as jy 'n vis aanhet, met jou maatstok saam met jou, en daar in die spoelwater, meet die vis en besluit of hy groot genoeg is sodat jy hom mag hou, of nie. Maak hom dan van die hoek af los en plaas dit versigtig in die spoelwater terug sodat dit rustig kan wegswem. As jy die vis op die sand uitsleep, dan maak dit geen sin eers om die vis terug te sit in die see nie want die slymlaag op sy lyf wat deel is van sy immuniteitstelsel word afgeskuur en die kans is baie groot dat so 'n vis in elk geval uiteindelik sal vrek.
Daar is darem net niks wat so lekker is om daar op die klam sand van die strand te kan sit en met jou voete in die koel sand in te boor terwyl jy wag vir 'n vis om aan jou aas te kom vat nie, is daar? Dan dink mens darem aan dinge en mense waarna jy verlang, maar dalk nog nie eers ken nie! En later, met jou vis gevang en jou kabeljou of galjoen gevlek op 'n rooster op die kole met die rooi son wat sak oor die ou see, dan, dan weet jy hoekom is dit lekker om te kan leef.



Antwoord met aanhaling

If you are going through hell, keep going. - Sir Winston Churchill.
Dit makie sakie! Wanneer ry ons? 

