…dalk moet ek net sê dis “vir werk”?


Ek sit op die oomblik in die kantoor en help met die finale afronding aan die Augustus/September uitgawe van WegRy / Drive Out.
En as ek eerlik moet wees, wil ek nie hier wees nie.
Daarmee bedoel ek nie dat ek nie van my werk hou nie. Ek is mal daaroor!
Nee, wat ek bedoel, is dat ek op hierdie oomblik bitter graag op die Swartbergpas wil wees.
Of die Prins Alfredpas.
Maar in ’n 4×4, eerder as ’n platkar. Hoekom?
Want dit sneeu, dís hoekom.
Het julle gesien hoe dit nou daar lyk?
In Prins Alfredpas is die sneeu op plekke amper kniediep.
En die Swartbergpas is oudergewoonte self lekker vol sneeu.
Mense geniet hulleselwers gate uit.
Kinders baljaar.
Mense bou sneeumanne (weet jy watse harde werk dit is om een te bou?) en hier en daar breek sneeubalgevegte uit.
Dit sê ook iets van hoe eienaardig ons spesie is.
Want as die Europeërs hulle sneeu verniet kon weggee, sou hulle dit al lankal gedoen het.
Gaan kyk maar na hoeveel Duitse toeriste jy in Namibië kry.
Of hoe uitbundig hulle nou aangaan in die kort, maar intensie Europese somer.
Ons weer, raak skoon laf van gerugte van sneeu.
Elke keer as daar nuus is van sneeu op die Matroosberg anderkant Ceres, ruk die helfte van die Kaap soontoe op. Nou en dan ski of sneeuplank mense selfs daar. Kan jy glo?
Ali is nou lekker stil en besig.
As ek hom vanaand sou bel en sê dat “ek maagpyn het en môre in die bed gaan bly”, wonder ek of hy ooit sou weet ek het vroeg die volgende oggend gaan sneeu kyk in die Klein-Karoo?
Of dalk moet ek sê net sê dis “vir werk”.












