Pin It
print

Tamatiebredie


DO39_WR21_BOSKOS_4

DO39 WR21 BOSKOS 4 Tamatiebredie

Die meeste mense hou van tamatiebredie soos sy ma of ouma dit gemaak het. Party glo daaraan om lamsnek te gebruik, ander weer skaapribbetjie of ontbeende skaapboud wat in blokkies gesny is. Jy kan regtig enige snit gebruik. Dis lekker as die vleis ’n klein bietjie vet aanhet, maar nie te vetterig is nie.

Jy het nodig (vir 4-6 porsies):

• 2 eetlepels kookolie
• 3 uie, geskil en in kleiner stukkies gesny
• 3 knoffelhuisies, geskil en gekap
• 1 kg skaapribbetjie, ribbetjies losgesny en gehalveer
• 6 groot, ryp tamaties, geskil en in kleiner stukkies gesny*
• 1 x 50 g-sakkie tamatiepasta
• 2 teelepels sout
• 2 teelepels suiker
• 2 teelepels paprika
• 3 aartappels, geskil en in kwarte gesny

Dan maak jy só:

Met geur en kleur.
Verhit die olie in ’n pot en braai die uie tot deurskynend. Voeg die knoffel en vleis by en braai tot bruin. Voeg die res van die bestanddele by, behalwe die aartappels, en roer tot gemeng.

Op die tamatiesoustrein.
Prut die bredie oor matige hitte vir ’n uur. Dis gewoonlik nie nodig om water by die bredie te gooi nie, omdat die tamaties se sous genoeg vloeistof bevat, maar hou dit dop om seker te maak die vloeistof is genoeg.

Kook dit tot murgsag.
Voeg die aartappels by en kook dit vir nog ’n uur of totdat die ribbetjie so sag is dat dit uitmekaar val.

As die bredie aan die einde van die kookproses te waterig is, kan jy ’n eetlepel of twee koekmeel meng met ’n halwe koppie water en dit bietjie vir bietjie bygooi.

Wag ’n rukkie ná elke byroerslag sodat die sous ’n rukkie kook totdat jy tevrede is met die dikte van die sous.

Met rys, ja.
Sit die bredie voor op Basmati-rys.

WENK:
Om tamaties maklik te skil: Gebruik ’n skerp messie en sny ’n kruisie bo-op elke tamatie. Gooi kookwater oor die tamaties en laat staan dit vir sowat vyf minute. Giet die water af en trek of vryf die skilletjies af.

Lees ook: Soet-en-Suur Varkbredie; Guerige HoenderbrediePampoenbredie