Sjokoladesous

Ryk en lekker
Die meeste mense ry deesdae ’n vrieskas saam bos toe en dus die kans is goed dat daar ’n bak roomys sal wees as jy in die Sentraal-Kalahari kamp. Sit hierdie ryk sjokoladesous voor saam met gewone vanieljeroomys.
Genoeg vir 6 mense:
- 1 x 100 g-plak Lindt-sjokolade (70% kakao), grof gebreek in blokkies
- 1 eetlepel botter
- 1 koppie strooisuiker
- 1 x 250 g-houer langleweroom
Gebruik twee kastrolle. Gebruik ’n klein kastrolletjie wat bo-oor ’n groter kastrol pas. Gooi kookwater in die onderste kastrol en sit die klein kastrolletjie bo-oor. Die water moenie aan die boonste kastrolletjie raak nie.
Smelt die bestanddele. Sit die botter, suiker en room in die boonste kastrolletjie en sit die deksel op die kastrol. Wag tot die botter en suiker gesmelt is en die mengsel warm is. Voeg die sjokoladeblokkies by, maar moenie dit roer nie. As jy sien die sjokolade is gesmelt, kan jy dit eenkeer deurroer sodat die sous gemeng is.






