Polenta met bloukaas en pruimsous


Saam met skaaptjops en warm, gekookte beetkwarte is hierdie onverbeterlike boskos. En as jy nie bloukaas het nie (en die winkel op Pella ook nie), kan jy dit met enige ander kaas vervang, of dit selfs weglaat.
Jy het nodig (vir 8 porsies):
- 2 koppies water
- 2 koppies melk
- 1 teelepel sout
- 2 koppies polenta
- 125 g bloukaas
- 1 eetlepel olyfolie
Dan maak jy só:
- Laat die water, melk en sout in ’n kastrol opkook.
- Verstel dan die hitte na baie laag en voeg die polenta bietjie vir bietjie by terwyl jy dit aanhoudend met ’n draadklitser roer.
- Sit die deksel op die kastrol en stoom vir 40 minute.
- Voeg dan die bloukaas by en roer tot die kaas gesmelt het.
- Skep dit in ’n gesmeerde, vuurvaste pan of vlak bak en maak die polenta gelyk met die agterkant van ’n lepel wat jy in water gedoop het (die water keer dat die polenta nie aan die lepel vasklou nie).
- Plaas dit eenkant vir ’n uur totdat die polenta stewig is.
- Drup die olyfolie oor en smeer dit egalig oor die gereg met die agterkant van ’n lepel.
- Sny die polenta in skywe of blokkies en skep dit versigtig uit sodat die skywe of blokkies heel bly.
Vir die pruimsous het jy nodig:
- 1½ koppie pruimkonfyt (of enige fyn rooi konfyt)
- ¼ koppie rooiwyn
- ¾ koppie water
- 1 blokkie hoenderekstrak
Dan maak jy só:
- Prut die bestand-dele saam in ’n kastrol vir sowat 10 minute of totdat die sous effens dikker word.
- Sit voor saam met die polenta.
PROBEER OOK: Pampoentert; Uieringe; Pampoenkoekies; Koeskoes






