Pannekoek is nie net vir kerkbasaars nie

Jou ma het dalk altyd pannekoekdeeg aangemaak as dit sous buite, maar die boere glo jy moenie pannekoek bak as dit reën nie, want dit jaag glo die reën weg. Diep in die bos sal jy vergewe word as jy teen dag drie van gietende donderstorms pannekoek bak om te kyk of jy dit nie kan laat opklaar nie.
 
Pannekoek is eintlik uitstekende kos vir die bos, want jy kan dit voor die tyd vries in ’n plat plastiekbak en saamtoer. Dan kan jy in ’n japtrap ’n vulsel of sous vir aandete aanmekaar slaan.

Basiese pannekoekdeeg

Pannekoek

Kies self: pakke gaar, gevriesde pannekoek (nie so lekker soos die tuisgebaktes nie), Spar se voorafaangemaakte deeg in ’n bottel of hierdie vars, tuisgemaakte deeg.

Jy het nodig vir sowat 30 pannekoeke:

  • 4 eiers
  • 5 koppies water
  • 1 koppie sonneblomolie (plus ekstra om te bak)
  • ¼ koppie witasyn
  • 1 teelepel koeksoda
  • 1 teelepel sout
  • 4 koppies koekmeel
  • 4 teelepels bakpoeier


Meng die deeg. Klits die eiers goed. Voeg 1 koppie van die water by en dan die olie en asyn. Meng die koeksoda, sout en meel met die res van die water en klits hierdie mengsel stadig by die vloeistof. Roer die bakpoeier in. Sit die deeg minstens ’n uur in jou kampyskas voor jy die pannekoeke bak.

Hou dit warm. Hou die gebakte pannekoeke warm deur dit op ’n bord oor ’n kastrol met warm water te sit. As dit deurgaar is, sal die pannekoeke nie aan mekaar vassit nie, maar dit help ook as jy elke pannekoek eers met suiker besprinkel wanneer jy dit opstapel (dis nou as jy soet pannekoeke gaan maak).


Afgesien van die immergewilde kaneelsuikerpannekoek kan jy dit vir ontbyt opdis met roereier, vir middagete voorsit met blokkies advokado en tamaties en vir aandete vul met ’n lekker bredie. En die moontlikhede vir nagereg met pannekoek is natuurlik legio.

Hier is WegRy se idees vir vulsels:

Patat-en-spinasie-pannekoek  Chilli Con Carne-pannekoek  Maleisiese bonebredie-pannekoek

  Patat-en-spinasie-vulsel    Chilli con Carne-vulsel    Maleisiese bonebredie

Melktertpannekoek

Melktertvulsel

Ander planne vir pannekoekvulsels:

  • Biltongskyfies en gerasperde kaas
  • Hoenderlewers in ’n peri-peri-sous
  • Oorskietbobotie en blatjang
  • Skyfies ham met gesmelte gruyère-kaas
  • Brosgebraaide spek met esdoringstroop (maple syrup; jy kan blokkies spek binne-in die deeg sit voor jy die pannekoek bak of jy kan dit as ’n vulsel gebruik)
  • Skyfies boerewors of frankfurters met mosterd
  • Salm en crème fraîche (dik room)
  • Aspersies gebraai in bietjie botter met ’n witsous en parmesaankaas
  • Sjokoladesmeer met piesangskyfies
  • Appelskyfies of ingelegde perskeskyfies, gebraai in botter en suiker met bietjie brandewyn

Kommentare

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association