Pampoenvetkoeke


Pampoenvetkoeke

Pampoenvetkoeke

As kind het ons pampoenkoekies gebak met te veel meel in, en dit het as padkos geëindig op pad WesTransvaal toe. Ons het daaraan gesmul en dit
“pamvetkoeke” gedoop. Van toe af word daar elke keer as die wiele draai, gevra of daar “pamvetkoeke” is vir padkos. Só word familietradisies gebore!

Jy het nodig vir sowat 10 – 15 vetkoeke:

  • 2 koppies koekmeel
  • 2 teelepels bakpoeier
  • 1 eetlepel suiker
  • 2 eiers, geklits
  • ½ koppie water
  • ½ teelepel sout
  • 2 koppies gaar pampoen (botterskorsie of boerpampoen), fyngedruk
  • olie, vir diepbraai

Soos deeg in jou hande. Sif die meel, bakpoeier en suiker saam. Meng die eiers met die water en voeg die sout daarby. Voeg hierdie mengsel by die droë bestanddele met ’n houtlepel en meng tot jy ’n gladde deeg het. Roer die pampoen by.

Net nie te warm nie. Verhit genoeg olie vir diepbraai in ’n kastrol. Die olie moet warm wees, maar nie te warm nie anders brand die vetkoeke buite
en bly rou binne. Skep lepels vol van die beslag in die olie (twee of drie op ’n keer).

Hou daai are oop. Sodra die vetkoek goudbruin en gaar is, skep dit uit met ’n gaatjieslepel en sit dit op ’n bord en kombuispapier om die olie te  dreineer.

Jy kan kies. Sit voor met enige vulsel van jou smaak of eet dit sommer net so.

Alles in een. Jy kan ook gevulde vetkoek maak deur ’n frikkadel of stukkie wors in die middel van ’n lepel beslag te sit en dit dan te diepbraai.


Oorspronklik gepubliseer in WR #24 Jan-Feb 2011