Basiese broodresep

DO44_WR26_Boskos_2

Gebruik dié resep vir die allerlekkerste brood. Hy wérk, as jy sorg dat die kole net warm genoeg is. Die idee vir dié brood en vulsels kom eintlik van daai mollige Ingelsmannetjie met die skoeter – Jamie Oliver.

Jy het nodig vir 1 potbrood of 2 langwerpige brode:

  • 7 koppies witbroodmeel
  • 2 x 10 g-sakkies kitsgis
  • 2½ koppies louwarm water
  • 2 eetlepels suiker
  • 3 teelepels fyn sout

Laat dit gis. Gooi die meel in ’n diep bak. Meng die gis, water en suiker in ’n ander kleiner bak en laat vir tien minute staan totdat die gis begin skuim. Gooi dit by die meel en voeg ook die sout by.

Oefen daai spiere. Meng tot al die bestanddele goed gemeng is en haal dan die bol deeg uit en sit dit op ’n plat, meelbestrooide oppervlak. Druk, knie, vou en rol die deeg vir sowat 10 minute of totdat dit lekker sag en elasties is.

Rus ’n rukkie. Sprinkel ’n bietjie meel in ’n bak, sit die deeg daarin en sprinkel ook ’n bietjie meel oor die deeg. Maak die bak toe met kleefplastiek en ’n klam vadoek en los dit in ’n warm plek om te rys tot dubbel die oorspronklike grootte.

Weer ’n bietjie spiere.
Knie dit weer af vir ’n paar sekondes en sit dit in die ronde ysterpot (of twee broodpanne) om vir ’n tweede keer te rys tot dubbel die oorspronklike grootte. Hanteer die ysterpot versigtig sodat jy nie al die lug uit die deeg uitskud nie.

Kole toe met jou. Sodra die deeg uitgerys is, kan jy die pot op die kole sit en kole op die deksel stapel. Kyk ná ’n halfuur of die brood begin bruin word en sit die deksel terug met nuwe kole op. Dit behoort ná ’n uur gaar te wees. Haal die pot van die vuur af en los dit vir ’n halfuur om af te koel voor jy die pot omkeer om die brood uit te haal.

Vir iets anders, deel die deeg hierbo in twee gelyke dele nadat jy dit klaar geknie het. Rol die dele langwerpig uit (sowat 1 cm dik) en pak die volgende vulsels daarop:

Soet vulsel met sjokoladesmeer en okkerneute 

DO44_WR26_Boskos_3     Klik hier vir die resep

Sout vulsel met ham, cheddarkaas en songedroogde tamaties

DO44_WR26_Boskos_4   Klik hier vir die resep


Kommentare

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association