Zimbabwe | Die leeuloop in Gonarezhou

Hulle het gedog noukeurige beplanning sou ’n probleemvrye reis na die Gonarezhou Nasionale Park in Zimbabwe verseker. Maar, sê Ron Martin, die “onderdeel” wat hulle gered het, gaan nie sommer op ’n paklys verskyn nie …
Ons het taamlik veilig gevoel in die tent toe die eerste leeu omtrent tien-uur begin brul het. Dis immers ’n wonderlike geluid en ons het geskat dis redelik ver weg – omtrent 2 km – van waar ons onder ’n groot wildevyeboom in die noorde van die Gonarezhou Nasionale Park gekamp het.
Maar toe die brulgeluide omtrent drie uur later al nader geskuif het – óf 500 m óf 50 m ver, afhangende van wie se berekening jy glo – het Shanon net daar besluit ’n tent skaars ’n meter bo die grond bied nie genoeg beskerming nie.
My vrou het die “West Wing” soos blits ontruim, en het ten volle geklee in ons Disco gesit teen die tyd dat ek by haar aangesluit het – kaalvoet en net in ’n kortbroek.
Ná omtrent ’n uur, met die leeu wat steeds af en toe gebrul het, het ons besluit die West Wing (die daktent aan die voorkant van ons vriend Hugh se Oryx-veldwoonwa) is wel veilig, en dit sal ten minste ’n goeie nagrus verseker.
Die volgende oggend het Hugh en Denise ons vertel hulle het óók die veldwoonwa ontruim (Denise was binne 10 sekondes aangetrek én haar veters vasgeryg) en het ook ’n ongemaklike uur of wat in hul Defender deurgebring.
Die volgende oggend kon ons lekker lag oor dié middernagtelike petalje, maar ’n gebarste dieselpyp sou veel minder snaaks wees …
Het jy genoeg hare op jou tande?
Nadat ek en Shanon ses dae gelede ons jare lange vriende Hugh en Denise Temple in Lydenburg gekry het, het ons saam weggespring op ’n drie week lange verkenning van Gonarezhou via die Krugerwildtuin en Mosambiek.
Dié ekspedisie sou ons na Gonarezhou se suidelike Mabalauta-streek en dan na die noordelike Save-Runde-streek en die Pombadzi-wildernisgebied neem.
Gonarezhou, deel van die Groter-Limpopo-oorgrenspark in die suidoostelike laeveld van Zimbabwe, is groter as 5 000 km² en veral bekend vir die fotogeniese Chilojo Cliffs en sy olifante.
Maar wees gewaarsku: Dis ’n moeisame en stadige trek oor baie slegte paaie, en nie iets wat jy ligtelik moet opneem nie.
Ek en Shanon in ons 2002 Discovery 2 Td5 en die Temples in ’n 2007 Defender TdCi (en ’n opgeknapte Oryx-veldwoonwa met alles wat kan oop- en toemaak agteraan), het Mosambiek binnegegaan deur die Pafuri-grenspos in die verre noorde van die Krugerwildtuin.
Daarvandaan het ons ’n paar kilometer suidoos gery, die Limpoporivier (wat plek-plek ’n halwe meter diep was) oorgesteek, en toe noordoos gedraai op ’n uitgeryde paadjie langs die grens van Mosambiek en Zimbabwe.
Ons het Mosambiek deur die Chicualacuala-grenspos uitgegaan en Zimbabwe binnegegaan by Sango, waar ons verbasend genoeg nie ’n heffing hoef te betaal het op ons ses jerrykanne vol diesel nie.
Van Sango af het ons na die suidwestelike deel van Gonarezhou gemik, waar ons twee nagte in die Mabalauta-ruskamp gebly het.
Die personeel daar was uiters hulpvaardig en toe ek ’n nuwe ystersaaglem vir die werkwinkel geskenk het in ruil vir ’n bout en wassers om die Oryx te herstel, was hulle so bly jy sou dink hulle het ’n hele gereedskapskis gekry.
- 1
- 2
- 3
- 4
- volgende >
- laaste >>
Inhoudsopgawe:
- Zimbabwe | Die leeuloop in Gonarezhou
- Bl 2 | Hei, waar is die pad?
- Bl 3 | Die luilekker lewe
- Bl 4 | Ek wil ook gaan?
Soortgelyke stories
Gewilde artikels




Kommentare
Pos nuwe kommentaar