Zambië | Zambië in die groen seisoen

Die nat seisoen is nie so ’n slegte tyd om Zambië te besoek nie – met ’n bietjie geluk en bestuursvernuf kan jy op die meeste plekke kom. En boonop word jy nie vertrap deur ander besoekers nie, het Owen Middleton uitgevind.
“Gaan huis toe…!”
Dís die eerste ding wat die knorrige Zambiese doeanebeampte sê nadat hy my Landie se papiere deurgekyk het. Dit is duidelik ons het die verkeerde ou op die verkeerde dag en in die verkeerde land getref.
“En wat nou…?” sê Tam vir my waar sy goed knorrig buite die doenanekantoor sit.
Maar vyf uur later, nadat ons herhaaldelik beveel is om huis toe te gaan, versoek is om die helfte van die kar se waarde as deposito te betaal en ná ’n besoek aan “die hoof se kantoor”, word ons uiteindelik “vrygelaat”. Met ’n redelik sug van verligting spring ons op ’n goeie teerpad weg na Livingstone en die Victoria-waterval.
(Ons het later uitgevind baie viertrekvoertuie wat Zambië ingaan, is gesteel, so die doeanebeampte se paranoia is dalk te verstane.)
Ek het wel ’n waardevolle les oor Zambiërs geleer toe ek my mond verbygepraat het tydens ons kuiertjie op die grenspos: Moet nooit, ooit ’n Zambiër “mal” noem nie. As een byvoorbeeld ’n deposito gelykstaande aan die helfte van jou voertuig se waarde (in kontant) eis, moet liewer nie vra “is jy mal?” nie. Hy hét dit as ’n persoonlike belediging beskou en het minstens nóg ’n uur en nóg ’n “gaan huis toe!” of twee bygelas.
My en my vriendin Tamaryn se plan was om in vier weke met ons 1996-Land Rover Defender TDI van Livingstone af deur die Kafue, Laer-Zambezi, Suid-Luangwa en Kasanka Nasionale Park, asook die Bangweulu-moeras tot weer by Livingstone te ry. In die groen seisoen.
Die reënseisoen?! Wanneer die wêreld deurdrenk, vogtig warm én die paaie haas onbegaanbaar is?
Jip, dit was die plan. Die nat seisoen is nie so sleg as wat mense beweer nie – met ’n bietjie geluk en goeie bestuursvernuf kan jy op die meeste plekke kom.
En daar is ook ander voordele: Een van die grootstes is die verskeidenheid voëls in die groen seisoen. Die wild is seker nooit so volop soos in die droë seisoen nie, maar as jy, soos ons, die leërskares ander toeriste wil vermy en ’n ware, wilde Afrika wil beleef, sal jy van Zambië in die nat seisoen hou.
Die besluit om in die reënseisoen te gaan, is nie ligtelik geneem nie. Uiteraard het ons eers ordentlik navorsing gedoen en deeglik oor ons vermoë, toerusting en ervaring besin, want al is jy hoe ervare, bly dit ’n waagstuk.
Ons was boonop alleen. Die leuse “wees voorbereid of dra die gevolge” geld veral in Zambië. Goed breek en dit is jou voorbereiding en vermoë om dit te kan regmaak wat jou weer veilig by die huis sal kry.

Zambië, hier kom ons!
Toe ons 27 uur ná ons vertrek uit Kaapstad (deur Kimberley, Mafikeng en Gaborone) – in die magtige Zambezi-riviervallei afsak en teen sterk skemer Kasane inry, was knorrige doeanebeamptes die laaste ding in ons gedagtes.
Want in die skemer kon ons net-net twee groot troppe olifante uitmaak, so twee kilometer voor dié grensdorpie op die oewer van die Zambezi in die verre noorde van Botswana.
Op die Kazangula-pont het ons oor die Zambezi na Zambië gedryf, verby die enigste plek in Afrika waar vier lande aan mekaar grens: Namibië, Botswana, Zimbabwe en natuurlik Zambië.
“Ons is in!” het Tam met ’n wilde trek van verligting in haar oë gegil toe ons die knorrige doeaneman in ons truspieëltjie los en die 70 km se goeie teerpad Livingstone toe vat.
Daar het ons eers ’n paar dae die Victoria-waterval en omgewing verken. Tussendeur het ons vir oulaas voorraad vir ons aanslag op die Zambiese parke gekoop. Dis toe eers dat ons met ’n skok verneem diesel is amper twee keer so duur in Zambië as in Suid-Afrika: Om die 110 l van die Landie se dubbelbrandstoftenk vol te maak, kos ons R1 050! (Miskien was ons navorsing nie so goed soos ons gedink het nie…)
Maar nou was daar nie meer omdraaikans nie, so ons het uiteindelik binneland toe vertrek, Kafue toe, met 160 l “goue” diesel (soos ons dit genoem het) in die tenk en jerrykanne, 80 l water en genoeg kos aan boord vir ’n maand.
- 1
- 2
- 3
- 4
- volgende >
- laaste >>
Inhoudsopgawe:
- Zambië | Zambië in die groen seisoen
- Bl 2: Kafue
- Bl 3: Suid-Luangwa
- Bl 4: Ek wil ook gaan!
Soortgelyke stories
Gewilde artikels




Kommentare
Pos nuwe kommentaar