Zambië | Duisende wildebeeste en 'n hele spul hiënas…

Dis nog pikdonker langs die Tuinroete toe ek en Frank Carlisle in sy Land Cruiser klim vir die lang trek na die suidweste van Zambië.
Dit was hoe ons ekspedisie begin het – in my huis se oprit, ’n hanetree van die makkerige Wildernis Nasionale Park af. Maar ons eindbestemming was die ongerepte wildernis van Barotseland se Liuwavlakte Nasionale Park.
Op pad daarheen op die toer van Bhejane 4x4 Adventures sou ons deur Botswana se eindelose boslandskap, die Caprivistrook en Zambië se moerasagtige vloedvlaktes ry.
Daar sou ons die magtige Zambezirivier ’n paar keer oorsteek, langs paaie ry wat op g’n kaart verskyn nie en Afrika se tweede grootste wildebeesmigrasie (naas die een in die Serengeti) sien.
“Heen en weer behoort dit ons omtrent twee weke te vat om die 6 000 km te ry,” het Frank gesê, “en dele daarvan gaan taai wees. Maar dis mos deel van die pret …”

Langs braaivleisvure
hoor jy gereeld stories van die uitgestrekte grasvlaktes van Zambië se Liuwavlakte Nasionale Park langs die Bo-Zambezi.
Mense vertel jou van die wydoop hemelruim, broeiende storms en troppe wildebeeste wat van die een deel van die horison tot die ander strek. Maar min mense was al daar. En dis nie om dowe neute die geval nie.
Die paaie soontoe strek oor die 5 500 km² Barotse-vloedvlakte; as dit droog is, is dit moeilik om oor te steek, en as dit nat is, is dit onmoontlik.
Dis een van die oudste bewaringsgebiede in Afrika, want die Liuwavlakte is in die 19de eeu deur koning Lubosi Lewanika tot ’n koninklike wildreservaat verklaar.
Hy was glo ’n almagtige heerser wat die Lozi-stam aangestel het om die grond en wild te bewaar.
Ongelukkig is die koning se nalatenskap in die 1980’s en 1990’s byna uitgewis toe onwettige trofeejagters en stropers die park amper leeggeskiet het.
Maar in 2003 het ’n bewaringsorganisasie – die Africa Parks Network – saam met die Barotse Royal Establishment en die Zambiese regering begin saamwerk om sake reg te ruk.
Nou is daar meer as 46 000 wildebeeste, 6 000 sebras, 2 000 tsessebes (basterhartbeeste) en 1 000 lechwe in die park, asook leeus, jagluiperds, buffels, elande en wildehonde.

Vreedsaam in Chobe
PRETORIA NA KASANE – 1 150 KM

Brekfis is ’n uitdaging ná ons vanoggend gesien – en geruik – het hoe ’n krokodil ’n groot, opgeblase buffel uitmekaar skeur.
Die res van die rit op die Choberivier van Kasane af verloop gelukkig glad en sonder voorval.
Ons sien ’n groot klomp seekoeie, buffels en waterbokke wat op die vloedvlakte langs die grens van nie minder nie as vier lande wei.
Binne ’n halfuur kan jy Namibië, Botswana, Zambië en Zimbabwe per boot besoek, en jy het nie eens jou paspoort nodig nie.
Gister het ek en Frank nog langs Pretoria se sypaadjies vol pers jakarandablommetjies gery, toe met die N1 na die Martinsdrif-grenspos op die grens van Botswana, en daarna noordwaarts na die klein dorpie Kasane op die rand van die Chobe Nasionale Park.
Ná meer as 1 100 km het ons olifante in Kasane se hoofstraat gesien wat takke van bome af stroop en vlakvarke wat doodluiters op die gholfbaan rondhang.
Ná sonsondergang het ons rustig geraak in die kamp en geluister na die snorkende seekoeie en piepende vlermuise en die donderweer wat in die verte rommel.
Later is die vrede in ons kampie op die oewer van die Choberivier versteur deur 11 groot 4x4’s en 22 baie opgewonde mense, almal deel van Frank se selfrysafari na die Liuwavlakte.
Die pret het begin.

'Yes sir, no sir, three bags full, sir'
KASANE NA SIOMA LODGE − 256 KM

Die volgende oggend, om die pappot, beduie Frank ons ry dié dag deur vier grensposte.
“Maar moenie worrie nie,” sê hy. “Ek het ’n stelsel wat baie goed werk. Jy sê net drie goed: ‘Yes, Sir’, ‘No, Sir’ en ‘Three bags full, Sir’.”
Op die eerste ent op die Chobe Nasionale Park-pad koes ons vir olifante en slaggate tot by die Ngoma-grenspos langs Namibië se Caprivistrook.
Hier smile ons net en sê: “Yes, Sir, no, Sir, three bags full, Sir,” en in ’n oogwink is ons weer op pad.
Die 77 km lange teerpad oor die punt van die Caprivi na Katima Mulilo naby die Zambiese grens is stil, met klein dorpies en byna spookagtige vaalbome oral langs die pad.
Die Wenela-grenspos na Zambië is chaoties en verwarrend, maar Frank se wyse woorde werk weer. Binne ’n paar minute is ons op pad – uiteindelik na Liuwa.

Soms is die M10 sagte sand, en ander kere klipperig en stamperig. Dit het meer slaggate as ’n agterpad in Mpumalanga, en genoeg stof om die Vrystaat te laat bloos.
Ons vorder so vinnig soos ’n slak met ’n seer voet, maar dis lekker, want die grootste deel van die 100 km lange pad na ons bestemming, die Sioma Lodge, loop reg op die oewer van die grootse Zambezi. Die pad gooi lui draaie deur woude met einde­lose groen skakerings en mooi lappies mangobome.
Vriendelike mense stroom uit rietdakrondawels om vir ons te waai en honde jaag ons wiele.
Die aand verruil ek die vrolike kampvuur om alleen langs die Zambezi te sit, omring deur die gekwaak van duisende paddas. Twee uile roep mekaar hier naby my en naguiltjies fluit iewers in die bos.
Die volmaan kom oor die rivier op en weerlig flikker op die horison. Ja, ja, almal sê dit altyd, ek weet, maar ek wens ek kan vir altyd hier bly. Uiteindelik dwing ’n ligte reën my tent toe, waar ek spoedig diep slaap. 

Kommentare

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association