Wildekus | Ry die mooiste mooiste Wildekus


Jy’s baie ver van gewilde vakansie-oorde, ordentlike paaie en soms selfs selfoonontvangs en mettertyd raak jy minder gebodder met die bedompigheid. Gerrie van Eeden het gaan uitvind hoekom dit die Wildekus genoem word.
As jy wil weet hoe is die Wildekus, kyk na die bekende foto’s van Waterfall Bluff naby Maboyti op die Wildekus. Twee groot sandsteenkranse troon uit bo die Indiese Oseaan soos buffels wat kopstamp. Hulle skofte kom bymekaar onder in die kloof tussen hulle waar die Mlambomkulurivier bykans 100 m aftuimel tot in die see.
Hier’s g’n teken van ’n mens naby nie. Jy kan net te voet hier uitkom. As jy op ’n boot sit in die see en ’n foto van die waterval neem, is die kans goed dat daar ’n dolfyn of wat op die voorgrond sal wees.
Dis wíld hier, ek sê jou.

DAG 1: Xhosa’s, tee en grondpad
Net voor Lusikisiki op die R61 swaai ons regs, noordwaarts, op ’n sementpad wat ons na die Drifters Msikaba-kamp sal neem.
Ek is hier saam met Frank Carlisle van Bhejane 4×4 Adventures en ons gaan die gebied verken tussen die Msikabarivier in die noorde en Port St. Johns in die suide. Frank wil sien wat dit bied vir ’n moontlike 4×4-toer.
Soos die kraai vlieg, is dit ’n afstand van skaars 65 km teen die kus af, maar dit gaan ons minstens vier dae vat om te ry – die paaie is meer sleg as goed en jy moet telkens binneland toe swaai omdat jy nie teen die kus kan bly nie, selfs nie met ’n groot 4×4 nie.
Kort voor lank word die sementpad weer ’n grondpad, maar Frank slaak ’n sug van verligting, want dis ’n baie rustiger pad as die R61-teerpad wat ons vroeër gery het.
Ons gaan meestal in die kampe van Drifters slaap. Ja, dieselfde Drifters-avontuurtoermaatskappy wat met groot trokke deur Afrika ry. Hulle gebruik hulle kampe amper eksklusief vir hulle eie vragmotors vol jong Duitsers en Skandinawiërs, maar hulle is gretig om ook ander groepe toeriste in hulle kampe te laat bly.
Dis ideaal vir 4×4-toere langs die Wildekus, want dis bekostigbaar en ordentlik en dit sit binne ’n dag se ry uit mekaar.
Saam met ons in ’n Hilux 2,5 liter-D-4D dubbelkajuitbakkie is Daron Smit – hy kom kyk of hy ’n bergfietsroete op dieselfde stuk kus kan uitwerk.
Die pad loop vir 40 km tussen teeplantasies en Xhosa-hutte deur en is op plekke erg verspoel. Gelukkig wéét Frank wat hy agter ’n stuurwiel doen en hy stuur die bakkie met gemak tot onder by die kamp.
Jy sal dit kan ry in ’n voertuig sonder laestrek en vierwielaandrywing, maar hy moet hoog genoeg in sy sokkies staan want daar’s diep spoelslote van al die reën. En as dit nat raak, is dit ’n ander storie – dan gaan jy sukkel in die Cortina.
Pete Retallick is die bestuurder van die Drifters-kampe teen die kus af en ná ons ingeburger is, sluit hy by ons aan. Pete ken die gebied soos die palm van sy hand en ry die volgende drie dae saam met ons. Hy belowe om ons elke dag goed besig te hou.
Hy maan ons soos Johannes Kerkorrel oor die water en krag in die kamp: “Sit dit af, sit dit af.” Die krag kom van die son en wind en die water uit boorgate.
Die opsigter by die eerste kamp sê hoeka toe Frank vra of die water veilig is om te drink: “Dis selfs beter as goed vir jou!”
Met die braaivleisvuur uitgebrand, is dit slaaptyd. Die sonbesies sing regdeur die nag in die kamp en die briesie dreig halfhartig om jou af te koel.

Bl. 2 | Aasvoël die raasvoël
DAG 2: Aasvoël die raasvoël
Die volgende oggend pak ons die kus op ons bergfietse en speel verkenner tussen Msikaba en Port Grosvenor – ons volgende bestemming. Jy kan glo nie kuslangs daar uitkom met ’n voertuig nie, maar ons wil tog sien hoe die kus lyk.
Hier is min sprake van ’n duidelike paadjie. Hier en daar sien jy ’n stukkie tweespoor na ’n vakansiehuis of hut langs die kus, maar van enige lewe buiten ’n paar boerbokke sien ons niks. Die see strek diepblou tot op die horison en die koppies lê agtermekaar ingeryg so ver soos ons kan sien.
Ons sien onder meer die huis van Ma Khotso. Sy is die enigste oorlewende vrou van Khotso Sethuntsa, die bekende miljoenêr-sangoma van die jare toet. Hy het klaarblyklik ’n verbintenis met oudpresident Paul Kruger gehad en sy familie vier nou nog elke jaar Krugerdag.
Ons ry verby ’n ou vrou met ’n kierie en hoor eers later dat sy wel Ma Khotso was. Gelukkig het ons vriendelik gewaai en Frank het selfs in Xhosa gegroet…
Terug by die kamp is dit tyd om die vuilbruin water van die Msikabarivier te gaan roei. Teen 37 m is dit die diepste riviermonding in Suid-Afrika. Die oewer troon plek-plek soos wolkekrabbers bo ons uit. Hier en daar roei ons onder oorhangkranse in.
Op die noordelike oewer van dié rivier wys Pete vir ons die Pondo-palm (Jubeaopsis Caffra) wat slegs hier en op die noordelike oewer van die Mtenturivier natuurlik groei.
Ons volgende kamp is die Drifters Inn by Port Grosvenor waar Pete se regterhand, Sherry ??Seymor-Smith, ons inwag. Pete en Sherry bly albei in die kamp, en anders as by die ander selfsorg-Drifters-kampe kan jy hier kos bestel.
Ons het die eerste stuk hierheen gery met die pad waarmee ons gister van Lusikisiki af ingekom het. Die tweespoorpaadjies wat ons vanoggend met die fietse teen die kus af gery het, loop dood teen die landingstrook by die Tezanarivier. Die rivier se mond is te wyd om oor te steek en jy moet binneland toe swaai om ’n drif in die binneland te gaan soek.
Net toe ons uit Msikaba ry, het Pete vir ons ’n kransaasvoël-kolonie teen die kranse op die oewer van die Msikabarivier gaan wys.
’n Ongemerkte tweespoorpaadjie draai 6 km van die kamp af regs uit die grondpad in die rigting van die Msikabarivier. Na sowat 1km op die pad is daar ’n kloof – hulle noem die plek glo die Superbowl.
Die aarde val skielik weg voor jou as jy naderkom. Ons het ’n lieflike uitsig oor die pragtige kranse aan die oorkant van die rivier gehad, wat doer onder vloei. Superbowl is ’n goeie naam.
Nagenoeg 170 kransaasvoëls (Gyps coprotheres) het hier nesgemaak en die kuikens wat in die lente uitgebroei het, rumoer terwyl hul ouers vir hulle kos aandra. Dié merkwaardige voëls swiep van hoog uit die blou lug na hulle neste wat soos woonstelle in verdiepings teen die oorkantste krans opgestapel is, sonder om per ongeluk by die verkeerde adres te land.
Terug op die “grootpad” kry ons die afdraai na Drifters by Port Grosvenor. Van hier af is dit omtrent nog 10 km tot by die kamp.
Ek ry rustig saam met Pete in sy Land Cruiser 76-stasiewa op die rowwe 5 km grondpad voor die pad links wegdraai op ’n tweespoorpaadjie vir nog 5 km. Hy vertel hy’t al slange van etlike meters hier rond gesien wat sy nekhare laat rys het. Hy hoor ook gereeld van baie groot slange wat mense vang.
Hy vertel my ook van ’n ou oom wat hier iewers gebly het wat baie graag ’n Duitser wou skiet in die Tweede Wêreldoorlog. Die Duitsers het die kus van Suid-Afrika met duikbote, hulle sogenaamde U-bote, gepatrolleer en nou en dan aan wal gekom. Hy’t agter ’n randjie vir hulle gewag, maar toe hulle aan wal kom en ’n skoot klap iewers in die omgewing, het sy moed hom begewe. Ons sien die sementskuilings wat die Britte in die oorlog gebou het om hulle aanloopbaan en die Lockheed Ventura-vliegtuig, wat ’n ogie oor die Duitsers gehou het, te beskerm. Skielik verstaan ’n mens hoekom vyf skeepswrakke deur torpedo’s hier aan dié kus gesink is.
By die kamp wag twee hengelgidse ons in. Hen
kie Altena en John van den Berg van Fly.Fish gaan die volgende paar dae saamtoer om te sien waarheen hulle ’n mens kan bring vir vlieghengel teen die kus.
Die kamp met sy luukse rondawels en eetsaal kruip weg vir die see agter ’n digte bos. Toe ons uiteindelik uitgeput en trommeldik in die bed neersak, sus die geluid van die branders en die koel bries deur die oop deur ons gou aan die slaap.

Bl. 3 | Goss Point
DAG 3: Goss Point
Dis die oggend van die derde dag en ons probeer uitpluis hoe ons by die volgende kamp by Luputhana gaan uitkom. Ons besluit ek, Frank en Darron ry kuslangs met die fietse, terwyl John, Henkie en Pete die voertuie met die naaste pad in die binneland deurvat.
Ons moet mekaar oor ’n paar uur by die Luputhanarivier net voor ons volgende kamp kry. Dit moet tydens laagwater wees, want die voertuie kan nie deur die rivier nie en ons moet ons bagasie oordra voor die water te hoog is.
Die voertuie moet omtrent 36 km aflê en Pete sê dit gaan sowat twee uur vat. Kuslangs moet ons omtrent 9 km trap, en dit gaan ook omtrent twee uur neem! Dis glo ’n onherbergsame paadjie met baie stroompies.
Ek probeer aan ’n plan dink om uit die fietsryery uit te kom (ek oorweeg dit om te maak of ek ’n kramp in my kuit kry), maar ek onthou dat ons môre dieselfde pad met die voertuie gaan ry, en byt maar vas.
Ons val toe in die pad – soms letterlik as die fietse net nie wil regop bly nie. Eintlik is daar nie sprake van ’n pad nie. Dis kus is baie rowwer as die vorige dag. Die klowe is dieper en die paadjies minder sigbaar. Dis duidelik dat bitter min ooit hier gebeur om die rustigheid te versteur. Die groen heuwels raak egter al steiler.
By Goss Point staan die huis van Pat Goss, voormalige voorsitter van die KwaZulu-Natalse Parkeraad. Die huis met sy netjiese grasdak en pragtige grasperk lyk skoon uit plek uit hier teen die wildekus – dis amper soos iets uit ’n droom. Dit troon oor ’n riviermond uit waardeur ons ons fietse moet dra.
Aan die ander kant van die idilliese baaitjie moet ons teen rotse uitklim met die fietse. Ons het vanoggend al deur meer riviere en stroompies beweeg as wat ek kan onthou. Hier’s baie meer water as verder noord.
Ons vorder vinnig oor die laaste kilometer of wat, dra die fietse oor die laaste riviermond vir die dag en wag vir Pete-hulle om by ons aan te sluit.
Die kuslyn naby die Luputhana-kamp is die ene groot rotsplate, met slegs stukkies strand hier en daar waar riviere en spruite uitmond. As die golwe teen die rotse breek, bou dit wit skuimmure wat meters hoog uittroon voor dit weer sissend wegval.
Laatmiddag maak ons almal ’n lyn nat in die riviermond saam met John en Henkie. Ons haak nie eens ’n ou skoen nie, wat nog te sê visse.
Dis maar net my derde aand hier en ek wonder al hoe ’n mens aan die slaap raak in só ’n bedompigheid sonder die branders se geruis…
Bl. 4 | Skeepswrakke
Skeepswrakke

Amper dertig skepe het al teen die Wildekus tussen Port St. Johns en Msikaba gesink.
Die oudste wrak is die São Bento wat in 1554 naby die Msikabariviermonding gestrand het – lank voor Jan van Riebeeck se skippie in die Kaap aangekom het. Nog twee Portugese skepe het in die vroeë sewentiende eeu hier gesink.
Een van die bekendste wrakke is die Grosvenor wat in 1787 naby die mond van die Tezanarivier gesink het. Dis waarvandaan die naam Port Grosvenor kom.
Dié skip was vermoedelik onderweg na Indië en na bewering was daar ’n Indiese sjah en ’n goue troon aan boord. Vele fortuinsoekers het al dié skip se skatte probeer opspoor.
Vroeë skattejagters het ’n tonnel van agter die rotse af probeer grawe tot onder die plek waar die skip vermoedelik gesink het. Die oorblyfsels van die tonnel is nog steeds sigbaar, maar hulle het klaarblyklik in hulle plan gefaal.
Party mense reken ’n groep Boesmans het die troon op die strand gekry waar dit uitgespoel het en dit word sedertdien iewers in ’n grot bewaar.
Nou ja…
Bl. 5: Tee by Mboyti
DAG 4: Tee by Mboyti

Vandag moet ons baie verder as die vorige dae ry. Ons volgende kamp is by Manteku, kuslangs byna 28 km suid. Maar ons weet nou al niks hier loop in ’n reguit lyn nie. En ons gaan beslis nie heelpad fietsry nie.
Voor ontbyt klap ons egter eers ’n toon na Waterfall Bluff. Dis sowat 4km van die kamp af – ’n stewige stappie in die vroeë oggendson. Ons steek deur ’n paar ravyne en driwwe op ’n beespaadjie voor ons geleidelik begin klim.
Eers toe ons voor die waterval staan, hoor ons sy geruis. Die see aan ons regterkant doof die klank uit. Almal raak stil en ek probeer soveel as moontlik van die toneel voor my inneem en onthou. Ek en John neem fluks foto’s, maar ’n amateurfotograaf gaan nie sommer ’n foto neem wat dit tot sy reg laat kom nie.
Dis glo een van minder as tien watervalle wêreldwyd wat direk die see instort. Daar’s ’n gestryery oor hoeveel daar werklik is, maar die konsensus is dat jy nie so ’n soort waterval sommer in enige stroompie of spruit kry nie.
Terug by die kamp beduie Pete vir ons ’n kortpad Mbotyi toe deur ’n teeplantasie voor hy groet en die pad vat. Hy moet ’n slag gaan werk.
Ons wil by Mbotyi middagete eet voor ons ’n lyn sny vir die Manteku-kamp waar ons vanaand slaap.
Ons ry weer uit met dieselfde pad waarop die bakkies gister twee uur gesukkel het om hier uit te kom. Dis steil en dit kronkel. Dele is kwaai weggespoel. Uiteindelik moet ons die Hilux in low range sit. Kwaai!
Een of twee keer verloor ons vastrap op ’n paadjie wat droog lyk, maar net onder die oppervlak seepgladde modder is. Die pad klim vir byna 15 km voor dit weer aansluit by die grondpad wat na Lusikisiki loop. Ons draai links en ná 6 km draai ons weer links op ’n grondpad verby ’n skooltjie. Nog 3 km verder draai ons regs tussen die Magwa-teeplantasies in. Dié tee word sommer hier rond verwerk en jy kan Magwa-tee by die padstalletjies en winkels in die omgewing koop.
Angel Falls is ’n waterval ’n katspoeg van die pad af. Dis ook bekend as die Plantation- of Alice-waterval – net soos baie ander plekke se name in die omgewing hang dit af op watter kaart jy kyk. Byna 3 km van die afdraai af kan jy stilhou en minder as 100 m stap na dié waterval toe.
Ná nog 5 km draai ons links na Mboyti en van hier af is dit 9 km tot by die Mboyti River Lodge, tuiste van die oudkrieketspeler Peter Kirsten. Die pad kronkel in ’n ruie inheemse woud in die Fraserkloof af. ’n Betonstrook is op ’n uiters steil deel gegooi om dit veiliger te maak. As jy by die luukse Mboyti River Lodge indraai en op die restaurant se dek kom sit en oor die see uitkyk, voel dit amper of jy die Wildekus agter jou los.
Kirsten is nie voor die penne nie, maar sy bestuurder, Nita Ross, is ongelooflik entoesiasties oor die Wildekus. Sy ken al die staproetes in die omgewing en het self die sogenaamde hotel-staproetes tot stand gebring. Vroeg in die nuwe millennium het sy glo vir Trevor Manuel en Valli Moosa sover gekry om die roetes saam met haar te kom stap, sónder hulle lyfwagte. Net om te wys dat die Wildekus eintlik veilig is.
Valli Moosa het na dié belewenis besluit om gratis plastieksakke by winkels te verbied en volgens Rita ook die bal aan die rol gesit vir die strandryverbod.
Ná middagete groet ons en beweeg aan. Ons hou reguit verby die afdraai na die Magwa-valle. Pete het ons vroeër gebel en gewaarsku dat die werkers daar staak en dat dit vir ons onveilig sal we
es om daar verby te ry. Miskien volgende keer.
Ná 18 km draai ons weer op die sementpad na Lusikisiki wat aansluit by die R61. Ons moet brandstof ingooi en Frank wil sien hoe dit daar lyk.
By die vulstasie sien ons die ander wilde kant van die Wildekus. ’n Plaaslike inwoner, onder die invloed van iets sterkerigs, skel op ons en wil weet hoekom ons nie eerder Zanzibar of New York toe gaan nie.
Ek en Frank bly stil en maak die stroppe oor die bagasie stewiger vas terwyl Daron ys en koeldrank koop. John en Henkie bly ook eenkant staan.
Die kêrel bly naby die bakkie en lyk bitter ongelukkig. Frank besluit om eerder sy toergroepe op ’n ander plek as Lusikisiki te laat bymekaarkom voor die toer begin. Dié local is nie lekker nie.

Bl. 6 | Die wildste deel…
Die wildste deel…
Van Lusikisiki af volg ons die R61-teerpad suid in die rigting van Mthatha. Byna 12 km verder is die afdraai na links na die Manteku-kamp. Op hierdie 24 km-grondpad word die Wildekus weer vriendelik.
In KwaZulu-Natal kry jy die Vallei van ’n Duisend Heuwels, maar hier kan jy praat van die Heuwel met ’n Duisend Valleie. En elke vallei is digbegroei met donkergroen inheemse woud. Frank meen dié woude kan groter as die Knysna-bos wees.
Ons ry tussen statjies deur met kinders wat breed langs die pad glimlag en vra vir “sweeties”. Oral waai die grootmense ook vriendelik. Die grondpad bly grootliks op die rantjies, maar soms beland ons in ’n kloof en troon die hange hemelhoog bo ons uit.
Verreweg die mooiste uitsig wag vir ons om die laaste draai. Die pad sak skielik steil in ’n diep kloof af na die kamp langs die Mzintlavariviermond. Die geil ruigte op die oorkantste oewer lê soos ’n groot lui hond langs die rivier.
Ons aanvanklike plan was om die volgende Drifters-kamp by Mntafufu te besoek. Maar Frank besluit later die aand aan tafel dat ons avontuur net hier eindig: “Niks wat ons verder gaan sien, kan mooier as dit wees nie.”

Bl. 7 | Vinnige feite
Vinnige feite
Beste tyd om te gaan: Die wintermaande van Maart tot Augustus om die somerreënval te vermy. Die klimaat bly heeljaar matig en die omgewing is byna altyd groen en geil.
Bly minstens: Vier dae is genoeg om die stuk tussen Mkambati-reservaat en Port St. Johns te verken, maar as jy ander bestemmings soos Koffiebaai en Keimond ook wil sien, bly langer.
Ervaar: Die Msikabariviermonding, Waterfall Bluff, die oorskot van die herwinningspogings van die Grosvenor-wrak se vermoedelike skatte en die groot woude by Manteku.
Afstand: 1395 km van Kaapstad tot by Msikaba-kamp. 836 km van Johannesburg af.
Klink soos ’n boffin: Die Pondo’s is een van twaalf Xhosa-stamme en bly hoofsaaklik teen die Wildekus. Pondoland strek vanaf die Mthatharivier in die suide tot die Mtamvunarivier in die noorde en so breed as 50 km binneland toe.

Ek wil ook gaan!
Hoe kom ek daar? Van die Kaap se kant af volg jy die N2 tot in Mthatha, daar draai jy op die R61 in die rigting van Port St. Johns en van daar af volg jy steeds die R61 tot jy Lusikisiki kry. Daar kan jy afdraai na die Drifters-kamp by Msikaba.
Wat kan mens nog hier doen? By die Msikaba en Manteku Drifters-kampe kan jy die riviermonding met kano’s verken. Jy kan ook van die Msikaba-kamp af die rivier oorsteek om in die Mkambati-reservaat rond te stap. Tydens die sardienloop is die hele kus ’n vissersparadys.
Drifters Adventours bied ’n staproete aan met hulle kampe as oornagplekke. Jy kan jou bagasie elke dag tussen die kampe laat vervoer. Jy kan dit ook met jou bergfiets doen.
Beste tyd om te gaan? Die hitte in die laatsomer is meer draaglik, maar daar is dan steeds ’n sterk moontlikheid van reën. Van Maart tot Augustus reën dit minder gereeld en is die weer ook meer matig. As dit reën, raak sommige van die paaie ’n moddergemors.
Ligte, asseblief. Elektrisiteit is skaars hier. Probeer dus om nie ’n paloeka te wees en die ligte oral aan te los nie. Gebruik eerder ’n kopliggie.
4×4 of 4×2? As dit droog is, sal jy met ’n 4×2 met goeie grondvryhoogte die pad kan baasraak. Soms is die opdraandes kwaai steil en ’n 4×4 laat jou net meer vas op die aarde voel. As dit reën, is dit ’n heel ander storie…
Brandstof. By Lusikisiki, Port St. Johns en Mthatha is petrol en diesel beskikbaar. Jy behoort met ’n vol tenk maklik die hele kus te kan verken.
Hoe weet ek waar ek is? Tracks4Africa se nuutste GPS-kaarte sal jou by jou bestemming uitkry. Peter Slingsby se Wild Coast-papierkaart is ook uitstekend.
Waar bly ek? Die Drifters-kampe lê op gemaklike afstande reg teen die kus af tussen Msikaba en Port St. Johns. Elke kamp het genoeg slaapplek vir 24 mense asook warmwaterstorte en spoeltoilette. Kontak Drifters Adventours vir besprekings by hulle hoofkantoor in Johannesburg *011 888 1160; *drifters@drifters.co.za; *www.drifters.co.za. Tussen die Luputhana- en Manteku-kampe kan jy gerus by Mboyti River Lodge oorbly. Kontak Nita Ross vir besprekings by *039 253 7200; *nitaross@mboyti.co.za; *www.mboyti.co.za







