Wild, wakker, Weskus

As jy die woord Weskus hoor, dink jy onwillekeurig aan wind, yskoue water, verlate strande en ’n onstuimge see. Maar Gerrie van Eeden het atergekom daar steek meer in…
Dis nog gitswartdonker toe ons uit die Kaap ry. ’n Helse lang ent teen die kus op met die N7 tot by Groenriviermond lê voor, en ons wil van daar af nog die hele stuk grondpad teen die kus af terugry tot by die Olifantsrivier voor dit weer donker is vanaand.
Maar dis nog 450 km net om by die kus te kom, en tot dan is dit voet in die hoek.
Langpad, grondpad
Hier rondom tienuur sing-vra ou Bob Dylan op die CD hoeveel paaie ’n man moet stap voor hy ’n man genoem mag word, en net toe doem die afdraai op die N7 na links op na die Groenriviermond, sowat 30 km voor Garies.
Die grondpad sluk die Navara in en skielik is ons tussen die fynbos wat so ver van die teerpad af gelyk het. Die grond ruik soos reën en dit skud die laaste tamheid uit ons lyf.
Dalk kan ons vandag of môre nog ou Bob se vragie antwoord oor die paaie wat ’n man moet stap. Of ry.
By die eerste vurk in die pad haal ons die kaartboek uit om seker te maak watter rigting ons moet inslaan. Ons draai regs, al lyk dit aanvanklik of dit die verkeerde pad is (die bordjie sê dit loop Garies en Springbok toe).
Skaars ’n kilometer verder draai ons links. Ons is op soek na die gesoute veldwagter Piet Schreuder, ook bekend as Piet Skiet langs dié deel van die kus noord van Doringbaai wat hy voorheen as kreef-inspekteur gepatrolleer het. Hy kan help om te sê wat’s die beste paaie om te ry.
Sowat 40 km later sien ons ’n paar huisies en ons gaan vra waar sy huis is.
By Piet se huis kry ons, behalwe goeie aanwysings, ook ’n koppie koffie en ’n paar stories en staaltjies. Hy vertel ons van die laaste keer dat een van die riviere in vloed was en hoe hulle elke dag gaan kyk het hoe hulle spore van die volgende dag deur die stygende water weggevee is. En dan ook hoe hy al die nuwe werkers in die reservaat by ’n getypoel, die Bad van Bethesda, laat swem, ongeag die weer – “om hulle te laat welkom voel”.
“Jy’t twee opsies: Jy kan die harde grondpad vat en die kus misry,” wei Piet uit. “Of jy kan die pad teen die kus vat. Maar dit gaan jou lank vat. Dit vat my gewoonlik amper ’n halwe dag om daai sanderige pad te ry.” Dié uitgeryde tweespoorpad gaan jou laat rondskud “en gaan jou lyf lekker hou”.
Die twee paadjies is eintlik heel naby aan mekaar en jy kan dele van altwee ry om teen die kus af te beweeg. Elke nou en dan kom die kuspaadjie by die binnelandpaadjie uit, en dan kan jy weer verder gaan.
Piet loer onder die Navara in en stel voor ons blaas die bande nóg af. “So een punt vyf sal die ding doen, dan behoort julle nie te sukkel nie.”
Sy vrou, Mariaan, wys vir ons foto’s van die mak bleeksingvalke wat hier by hulle nes maak en later foto’s van ouens se spore wat op die strand loop en rommel wat rondlê. Ongelukkig is dit nie die laaste keer dat ons dit sien nie.
Kolie Nieuwoudt se gastehuis belowe van gevulde pannekoeke tot ’n warm stort en dis hier waar ons stop om ietsie vir die pad te kry. Hy is amper meer opgewonde as ons oor die lekker stuk pad wat vir ons voorlê.
Hy haal ook ’n handgetekende kaart uit wat ons al die punte langs die kus wys. By Breekskip, soos hy dit noem, lê die SS Namakwa wat in 1876 (of 1899 – hang af wie jy vra) hier gestrand het.
Uiteindelik viertrek

Die Groenriviermond-vuurtoring dui die suidelike grens van die Namakwa Nasionale Park aan. As jy hiervandaan suid ry, kan jy op enige plek ry en kamp, want daar is nie eintlik beheer nie.
Die enigste tekens dat hier enigsins ander mense is, is die Namakwa Sands-mynbedrywighede sowat 50 km van Groenriviermond af. Jy kan die goue sandduine hiervan al van ver af sien (sien kassie).
Ongelukkig ry vandale nog hier en daar op die strande en alle kampeerders vat nie hulle rommel uit nie.
Dié stuk kus is vol baaitjies, elkeen leeg en verlate.
“Sal ons terugdraai na die ‘snelweg’?” vra ek vir my kollega Johan nadat ons uit die hoeveelste baai uitdraai en voor ’n keuse staan. ’n Mens wonder of ou Bob Dylan dalk eens ’n draai hier gemaak het.
Die keuse is om op die tweespoorpaadjie te bly wat net bo die strand en rotse teen die see kronkel en in die baaitjies afsak, of om op die reguit tweespoorpad te ry wat honderd meter of wat dieper op die kusplato loop.
Nadat ons byna vier uur aan die eerste 35 km gery het op die paadjie reg teen die kus (jy kry nie elke dag ’n kans om so teen die see af te ry nie en elke baaitjie word ’n fotogeleentheid), besluit ons om die “snelweg” te vat om net ’n bietjie te vorder.
Stadig maar seker vorder ons suidwaarts. Die boonste pad loop al langs die jakkalsdraad wat die stuk kuslyn van die plase skei. Dis ’n lekker pad tussen die groenigheid van die fynbos en hier en daar ’n duiker of klipspringer wat voor jou verbyspaander.
- 1
- 2
- 3
- 4
- volgende >
- laaste >>
Inhoudsopgawe:
- Wild, wakker, Weskus
- Bl. 2 | Bad langs die pad
- Bl. 3 | Duine toe!
- Bl. 4 | Vinnige feite
Soortgelyke stories
Gewilde artikels




Kommentare
Pos nuwe kommentaar