Weskus | Rooikat-ekoroete

Vat die rooikat se spoor

’n Geil Namakwa Nasionale Park het die oranje tapyt vir Johan de Smidt uitgerol toe hy die park se nuwe 4x4-ekoroete gaan ry het. Op tweespoorpaadjies na die Weskus het hy afgekom op senuweeagtige gemsbokke, sopbordgroot vygies en Boesman-potskerwe. 

Die hemel alleen weet wat die eerste gaan opraak as dié roete enigsins nóg beter raak – geheuekaarte of beskrywende naamwoorde in die oortreffende trap.

Die klompie wakker rooihartbeeste met hul elegant gekrulde horings agter ’n klompie kokerbome aan die ander kant van die spruit vorm só ’n perfekte poskaartfoto dat ek bekommerd is my kamerasensor gaan kraak.

Om die waarheid te sê, ek sal glad nie verbaas wees as dieselfde hulpvaardige parkpersoneel, wat met ’n bietjie hulp van die natuur die oranje tapyt in die Skilpad-veldblomreservaat vir ons uitgerol het, die hartbeeste gevra het om só te poseer nie.

Net so perfek is die tydsberekening om die roete in Julie bekend te stel, om saam te val met die eerste lenteblomme en bruisende riviere in dié andersins dorre park, sowat 20 km noord van Kamieskroon in Namakwaland.

Sedert ons ’n uur gelede weggetrek het, is ons só stomgeslaan dat ons nog net 10 km van die ekoroete se nagenoeg 200 km afgelê het.
Ja, dis nogal ’n lang roete, maar hou in gedagte dit strek van Skilpad heelpad tot by die Groenriviermond aan die Weskus – in die verste suidwestelike hoek van die nuwe deel van die park.

Teen dié pas sal dit ons drie dae in plaas van die beplande twee neem om by die huis van Piet Schreuder, bewaringsbestuurder in dié nuwe deel, by die Groen-riviermond uit te kom.

Om die kroon te span is ons “geheime wapen” in die Navara die entoesiastiese wildbewaarder Dirk van Schalkwyk, wat heelwat van die park se geheime met ons deel: potskerwe by ’n rots waar Boesmans hul pyle geslyp het, en ’n rots waar olifante hulself geskuur het.

En dan is daar onrustige gemsbokke, wie se gedrag daarop kan dui dat onwettig in die park gejag word. “Ek sal vanaand moet terugkom om te kyk wat aangaan,” sê Dirk hardop.

Boesmans se jagplek

Ja, jy kan seker die roete in vier tot sewe uur ry – as jy al die kortpaaie vat en ry asof jou huis aan die brand is.

Ons s’n was nie, en dit het ons 14 uur geneem – ook omdat ons dikwels stilgehou en te voet verken het.
As jy glad nie haastig is nie, kan jy Piet se raad volg en die roete oor ses dae ry.

In die hoop dat Skilpad se tapyte skugter glansooggousblomme (Ursinia cakelifolia) hul ware kleure in die ysige wind sal begin wys, het ek en Vanessa ons eers 11.30 van ons gerieflike kothuis weggeskeur en teen die Kamiesberg begin afry.

Jy kan ook laat in die pad val as jy oornag by Luiperdskloof, ’n bergkothuis sowat 50 km van Skilpad af, omdat dit jou sowat vyf uur tot daar sal neem as jy die ompaaie ry.

Maar as jy na Platduin mik – die roete se eerste kampplek, sowat 11 uur se ry van Skilpad af (as jy dit rustig vat) – gaan jy saam met die hoenders moet opstaan.

Die maklike ekoroete het vyf dele, wat ’n matige 3 op sy moeilikste gegradeer is. Die eerste deel is ’n makkerige 40 km van Skilpad teen die Kamiesberg af tot op vlaktes wat wemel van wild soos die gemsbok en springbok, voor jy ’n rowwe, bergagtige stuk van sowat 20 km tref.

’n Grondpad van sowat 30 km verbind dié bergagtige stuk aan die vierde deel, sowat 45 km deur droë fynbos. Die laaste been is sowat 60 km kuslangs van die Spoegriviermond af tot by die einde van die roete by die Groenriviermond.

Buiten ’n ou Boesmannedersetting langs ’n permanente rotspoel en ’n oase rondom die fontein van Kookfontein is die hoogtepunte van die eerste deel van die roete oorvloedige wild, soos daai fotogeniese rooihartbeeste.

Sowat 16 km van Skilpad af kry ons die eerste van 14 genommerde roetetekens, elkeen gemerk met ’n rooikat-simbool.
Dié tekens beteken jy gaan nie sommer verdwaal nie, selfs sonder ’n GPS.

Hou nou jou oë oop vir wild, omdat jy hier, net ná die afdraai, die grootste kans het om wild te sien – veral in die droë somermaande.

Maar wees op jou hoede vir blitsvloede as dit gereën het.
Gelukkig is die Swartlintjiesrivier, aan die voet van ’n heuwel vol kokerbome, net ’n stroompie toe ons deurplas.

Hier draai ons af na die nabygeleë Kookfontein waar palmbome lekker skadu gooi oor ’n swemdam en daar ’n rots is met ’n glad verweerde reghoekige strook net onder skouerhoogte.

“Olifante het hulle waarskynlik teen dié rots geskuur,” bespiegel Dirk.
Kampeerders sal binnekort hul eie afleiding kan maak, want ’n kampplek met basiese geriewe word hier beplan.

’n Tydjie later staan ons op ’n hoogtetjie waar Boesmans tekens van hul nedersetting agtergelaat het. Sowat halfpad tussen die derde en vierde tekens, by ’n plek wat hy Dikmelk-khous (Dikmelk-drinkplek) noem, het Dirk ons op ’n sypaadjie laat afdraai.

Die standhoudende rotspoel aan die einde van dié paadjie het waarskynlik die Boesmans aangemoedig om hulle hier te vestig.

Dirk snuffel rond en kom op potskerwe en stukkies volstruisdop af.
Hy wys ons ook drie parallelle, glad verweerde groewe in ’n rots waar jagters waarskynlik hul pyle geslyp het.
As jy hier staan, voel hulle so naby jy verwag ’n Boesmanjagter gaan binne oomblikke agter ’n dikmelkbos uitspring.

Terug in die hede draai ons weer van die roete af – dié keer op ’n bergagtige sirkelpaadjie na die Luiperdskloofkothuis en die Wildeperdehoekpas.

As jou huis wel aan die brand is, hou verby die afdraai en vat kortpad na die kusgedeelte van die roete. Gelukkig is al krisis nou die gebrek aan radiokommentaar oor die rugbytoets tussen die Bokke en die All Blacks.

Kommentare

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association