Waar’s Paulshoek?

Die Boesmanland Gastekamers op Loeriesfontein se mixed grill is dalk wat die Israeliete in gedagte gehad het met die terugverlang na die vleispotte:

 ’n Allemintige saddle chop (ek vermoed dis dalk die hele saal), ’n steak wat ’n cowboy sal laat grinnik en ’n stuk wors so lank soos Bakkies Botha se voorarm.

Dis net wat ek en fotograaf Ruvan Boshoff nodig het ná die dag se ry uit die Kaap tot hier; ons val weg soos ’n swerm rawe.
Soos die kos sak, kom ons stadig tot verhaal en gaan vir oulaas weer oor ons basiese plan: Môreoggend ry ons hier van Loeriesfontein grondpad langs tot op Kamieskroon, dan met ’n wye boog deur die Namakwa Nasionale Park en omstreke voordat ons op Kamies oornag. Sondagoggend is dit reguit suid tot op Garies en dan weer huis toe.

Loeriesfontein se naglewe is nie besonders opwindend nie, so ek gaan lê vroeg en slaap soos ’n dooie terwyl die muskiete hul bes probeer om my leeg te suig en die kerkklok elke uur eensaam uitbeier.


LOERIESFONTEIN
| ’n Dorp met baie pompe

Dis skaars nege-uur die oggend, maar die kwik kuier klaar in die vroeg dertigs. Die weerkaatsings vanaf die blink lemme piets my oë terwyl ons aanstryk na ’n klossie windpompe wat lui-lui die oggendlug omkarring: Die Windpompmuseum.

Batavia in Illinois, Amerika het lank met die enigste windpompmuseum ter wêreld gespog. Basta met hulle, het die mense van Loeriesfontein besluit. Windpompe het dit ook vir ons boere moontlik gemaak om in die dorre uithoeke van die land met vee te boer.

Só het die inwoners toe in 1996 met plattelandse ywer aan die werk gespring en vandag is daar al amper 30 windpompe hier langs die ou Baptiste-kerkie versamel: ’n Dandy, ’n Hercules, ’n Climax, ’n Southern Cross, ’n Dempster... almal pompe wat op hul dag iewers ’n paar stuks vee aan die lewe gehou het. 

Dis tyd om in die pad te val, maar ek moet eers gaan geld trek. Ek drafstap gou straat-af, verby mooi huistuintjies, die koöperasie en ’n vulstasie na die dorp se enigste kitsbank in die hoofstraat.

Daar wag klaar ’n lang tou mense by die kitsbank; die mense wat vir “dorpdag” van die plase af ingery het, soek ook geld. Anders as wag in ’n stedelike kitsbank-tou, is dié wag heel gesellig: Daar word oor en weer gegroet en gesels en bespiegel oor die middag se Super 14-wedstryde.

105 KM LOERIESFONTEIN NA KLIPRAND | ’n Koue Coke op Kliprand

By Johnny Dreyer se algemene handelaar op Kliprand hou Boelie die boerboel wag oor die blou posbussies in die buitemuur.

Johnny grawe vir my die koudste Coke heel onder uit die kisvrieskas en vertel dat hy al nege jaar hier die noodsaaklikste kruideniersware en ’n bietjie klere en skoene verkoop. Dan is hy sommer posmeester ook, want hy “het mos die tyd daarvoor”.

Kliprand bestaan letterlik uit ’n heldergeel skooltjie, ’n paar huisies, ’n draadheining vol wasgoed, die winkel, een dieselpomp en die verlate kantoor van ’n geoloog (daar is glo nikkel hier onder die grond).
Ons het nou net van Loeriesfontien af hier op Kliprand aangekom met die R355, ’n grondpad wat so tien kilometer voor Loeriesfontein (Niewoudtville se kant) afdraai.

Die pad tot hier loop deur plat bossiewêreld: Hier en daar is daar droë rivierlopies en ’n kokerboom of twee wat soos spookvroue met ’n wilde perm in die veld staan, breek nou en dan die eentonige landskap.
Reg rondom vorm klein platobergies ’n skans wat die hitte binne ’n natuurlike kom laat opdam en alles lamlê. Windpompe toring soos tempels in die veld en die kleinvee wat nie skaduwee opsoek nie, staan hoopvol by hul krippe en wag vir uitkoms.

’n Ent verder, net buite Kliprand, draai jy regs op die R358, die langste reguit stuk pad in Suid-Afrika (of so sê die mense). Die pad is sanderig en dit is moeilik om te glo dat dié futlose omgewing binnekort met plate veelkleurige blommetjies gaan spog.
Hier hou net die kraaie partytjie en hulle is só heilig op die flentertjies road kill dat ons elke keer tot téén die bloederige toneeltjie moet ry voordat hulle al vloekend wegflap tot op die naaste telefoonpaal.

Gelukkig was daar genoeg musiek aan boord om ons deur te dra tot by ’n yskoue Coke op Kliprand..

 

Kommentare

Baie dankie vir die pragtige artikels. Het dit baie geniet ek is van daardie deel van die wereld.

Baie dankie vir die pragtige artikels, ek is van daaedie wereld en het dit baie geniet om te lees

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association