Uganda | 5 goeie redes om te gaan


Op pad Uganda toe moes Nico en Marianne Roets hard op hulle tande kners om nie van hul doelgerigte reisplan af te wyk nie. Maar 5 weke en 12 000 km later was hulle nie spyt daaroor nie.

Uganda is nie baie hoog op die prioriteitslys van die meeste 4×4-reisigers nie, waarskynlik omdat dit geografies effens ongemaklik “weggesteek” lê agter die Victoriameer, wat dit skei van Oos-Afrika se meer gewilde en bekende bestemmings.

Maar daar is talle goeie redes hoekom Uganda ’n verkenning van minstens drie weke werd is: bedreigde berggorillas, seldsame “boomleeus”, die skaars skoenbekooievaar, ongelooflike natuurskoon, verstommende kratermere, die magtige Nyl, vriendelike mense …

Om hierdie redes het ek en my vrou, Marianne, vooraf besluit om soveel as moontlik tyd in Uganda self deur te bring, en so min as moontlik tyd aan die 12000 km lange reis heen en weer deur Botswana, Zambië en Tanzanië. (Die terugreis wou ons deur Kenia aanpak, maar politieke onstuimigheid het dié planne in die wiele gery.)

Dít het ongelooflik baie selfbeheersing gekos, want op pad daarheen ry jy verby soveel landskappe en plekke wat om aandag skreeu – soms moet jy letterlik net jou oë toeknyp en ry.

Vir ons was daar hoofsaaklik vyf groot redes om Uganda te besoek: Die berggorillas van Mgahinga en Bwindi, die “boomleeus” van Ishasha, Rwenzori se Mountains of the Moon, die sjimpansees van Kibale en die Murchison Falls.

Bl 1: Die berggorillas van …

1 Die berggorillas van Mgahinga en Bwindi

’n Paar jaar gelede het ons die westelike-laaglandgorilla (Gorilla gorilla gorilla) in Gaboen gesien, en om die berggorilla (Gorilla beringei beringei) in sy natuurlike habitat te sien was daarom heel bo-aan ons Ugandese doenlys.

Sowat die helfte van die wêreld se berggorillas kom in Uganda voor, en spesifiek in twee nasionale parke. Die een is die Mgahinga Gorilla Nasionale Park in die suidwestelike hoek van die land. (Daar waar die drie lande aan mekaar grens, vorm dié park ’n oorgrenseenheid met die gorillabewaringsgebiede in Rwanda en die DRK.)

Die ander is die Bwindi Impenetrable Forest Nasionale Park (BIFNP), ook in die suidweste van die land. Hierdie park het die grootste versameling van berggorillas en is al tot Wêrelderfenisgebied verklaar. Dít het die deurslag gegee vir ons besluit om die park te besoek.

Om die berggorillas te sien en tyd saam met hulle in die woud deur te bring is ’n uitsonderlike ervaring. Op die staptog na die gorillas, deur die digte woud, hoor jy net jou voetstappe, voëlgeluide en die kapmesse van die gidse.

Dit is besonders om te sien hoe die groep gorillas ongestoord met hul gewone “dagtakies” voortgaan: Party eet, die jonges speel, die mannetjies slaan van tyd tot tyd op hul bors trom en die silwerrug hou wag. Dit alles terwyl hulle deurentyd met mekaar met sagte geluidjies kommunikeer.

Dit was beslis een van die hoogtepunte van my lewe.

Bl 3: Die “boomleeus” van …

2 Die “boomleeus” van Ishasha

Nog ’n plek wat baie toeriste na Uganda lok, is die Queen Elizabeth Nasionale Park (QENP) op die oewer van die Edward-meer, veral omdat jy hier twee seldsame dinge kan sien: die “boomleeus” van Ishasha en die skoenbek-ooievaar.

Anders as “gewone” leeus verkies hierdie leeus om eerder in bome as op die grond te rus. Die enigste ander plekke waar leeus glo dié eienaardige gedrag openbaar, is in Tanzanië en Kenia. (Ek moet sê, niks voel reg daaraan om ’n uitgegroeide leeu in ’n boom te sien slaap nie …)

Die uiters skaars skoenbekooievaar, die grootste ooievaarsoort, kom voor in die digbegroeide oewer van die Edward-meer. Ons was egter ongelukkig en het nie hierdie skugter voël te sien gekry nie.

Omdat ons net ná die kort reënseisoen in Uganda was, was die moerasse óf nog onder water óf te modderig om in te beweeg, en dit het ’n stokkie gesteek voor ons plan om die skoenbek-ooievaar te sien.

Die QENP is in twee verdeel en word redelik verbeeldingloos die noordelike en suidelike deel genoem. Die toerismegeriewe van die suidelike deel is goed ontwikkel, maar die ware Jakob is egter die onontwikkelde noordelike deel, ook genoem Ishasha.

Met die uitsondering van ’n baie eksklusiewe en baie duur lodge kampeer jy hier. Die meeste mense bly in die twee rivierkampe teen die Ishasha-rivier, wat die grens tussen Uganda en die DRK vorm.

Bl 4: Rwenzori se …

3 Rwenzori se Mountains of the Moon

Die volgende park aan die beurt was die Rwenzori Mountains Nasionale Park, op die grens tussen Uganda en die DRK. Die gelyknamige berge is ook meer bekend as die Mountains of the Moon.

Die infrastruktuur vir toerisme is nog nie goed ontwikkel nie, maar die plaaslike gemeenskap besit en bedryf twee kampe.

Albei is ’n goeie plek waarvandaan jy ’n dagstap in die voetheuwels kan aanpak en het restaurante met heerlike plaaslike geregte.

Die Rwenzoriberge spog met die derde hoogste piek in Afrika. Stappers kan hier kies uit ’n paar moontlikhede – van ’n sewedagstaptog na die hoogste kruin wat jou deur alpynse moerasse en oor ’n gletser neem, tot ’n korter twee- of driedagstaptog. ’n Gids moet jou op alle staptogte begelei. (Lees meer by www.uwa.or.ug/RM_Guidlines.htm)

Bl 5: Die sjimpansees van …

4 Die sjimpansees van Kibale

In die Kibale Nasionale Park met sy talle kratermere kan jy sjimpansees in hul natuurlike omgewing sien. Daar is talle bekostigbare verblyfkeuses buite die park, en dan hoef jy ook nie die taamlik stywe parkgeld te betaal nie.

Uganda is op die vloer van die groot Afrika-skeurvallei geleë, en jy kom onder die indruk dat dit vroeër uiters woes en onherbergsaam moes gewees het.

Maar dit was miljoene jare gelede, en al wat oorgebly het, is die besonderse landskap. Groot en klein kraters kom oral voor.

Die kraters word uitbarstingskraters genoem. Meer as 70 kraters kom voor in ’n gebied van slegs 300 km². Dié kraters wissel van ’n deursnee van net ’n paar honderd meter tot ’n paar kilometer. Van die kraters is vol water en ander weer is met ’n digte woud bedek.

Bl 6: Die Nyl in die …

5 Die Nyl in die Murchison Falls Nasionale Park

Die laaste van ons Groot Vyf was die Murchison Falls Nasionale Park. Die val is baie soortgelyk aan ons eie Augrabies-waterval, maar net veel groter.
Die Nylrivier word deur ’n sowat 7 m noue gaping in die rots gedwing, waarna dit 43 m na benede tuimel. Jy sien nie elke dag 300 m³ water per sekonde deur ’n skeur bars nie …

Waar het julle inligting gekry vir die beplanning?

Ons het al deur Botswana en Zambië gereis en reeds die meeste inligting gehad, buiten die stuk noord van
Kabwe in Zambië. Daar was min inligting hieroor in reisgidse of op die internet. Op Tracks4Africa is daar kampeerplekke gemerk, en ons het gehoop hulle sal daar wees. Dieselfde geld vir Tanzanië noord van Morogoro. Toeriste of oorlandreisigers kom nie dikwels hier nie, en buiten hotels in die dorpe is daar nie geriewe vir kampeerders nie. Soms het ons in hotels of die bos langs die pad geslaap, en selfs een keer by ’n vulstasie.
Uganda het ’n goed ontwikkelde toerisme-infrastruktuur met baie lodges en kampeerplekke. Daar is ook heelwat kampe wat die gemeenskap besit en bedryf. Hoewel dit redelik basies is, word dit goed bestuur, is dit skoon en die diens altyd vriendelik.

Nuttige webblaaie of boeke?
Ons het Bradt-reisgidse gebruik. Die internet is maar skraps met inligting oor die minder gewilde toeristegebiede. Ons het altyd minstens die Newman’s Birds of Africa en ’n boek oor bome byderhand.

Moes julle vooraf bespreek?
Ons het vooraf vir die gorilla-ekspedisie in Bwindi bespreek. Net ’n paar mense word per dag toegelaat, en dis baie gewild. Dis duur ($500 per persoon, sowat R5 000*), maar iets wat jy nie kan misloop nie. Bespreek by www.uwa.or.ug/gorilla.html. 

Wenke vir grensoorgange?
Voor ons vertrek het ek die visums vir Tanzanië in Pretoria gekry, maar al die visums kan sonder ’n probleem by die grensposte gekry word. Ek het ’n Carnet de Passage gebruik. Dis noodsaaklik vir Tanzanië en Uganda, maar nie vir Zambië nie. Ek maak gewoonlik ’n lys van die items wat op die tydelike invoerpermit (TIP) gespesifiseer moet word, maar sit nie ’n reeksnommer by nie. As jy ’n nommer neerskryf, sal die een of ander amptenaar verplig voel om die korrektheid daarvan na te gaan. Jy spaar baie tyd by die grens omdat jy nie alles hoef neer te skryf nie. Die lys is ’n aanhangsel by die TIP en dit word deur die doeanebeampte gestempel. Dit werk uitstekend. As jy sonder ’n Carnet de Passage ry, moet jy ook die besonderhede van die voertuig daarby insluit.

GPS of nie?
Ek gebruik ’n Garmin 276C gelaai met Tracks4Africa en African Road Atlas. Die programme komple-menteer mekaar, omdat nie een in alle opsigte bygewerk is nie. Ek voel ’n GPS is noodsaaklik. Maar jy moet weet hoe om dit behoorlik en noukeurig te gebruik. Elkeen wat van die deurtrapte weë wil afwyk, moet ’n kursus volg oor hoe om ’n GPS behoorlik te gebruik.

Hoe ver het julle elke dag gery?
Op pad en terug het ons elke dag so ver as moontlik gery, sowat 900 km per dag. In Uganda het ons hoogstens 250 km per dag en soms selfs minder gery, en minstens twee dae by elke plek gebly.

Waarmee het julle gery?
’n 2003 Land Rover Defender 110 Td5. Al wat ek gedoen het, is om dit vooraf te laat diens. Dit het ’n langafstandbrandstoftenk en ’n watertenk.

Hoe goed/sleg is die paaie?
Oor die algemeen is die pad goeie teer. Daar is egter stukke slegte pad, soos die eerste 60 km ná Livingstone in Zambië, die 200 km grondpad tussen Manyoni en Igunga in Tanzanië en 150 km ewe slegte grondpad tussen Biharamulo en Bukoba, ook in Tanzanië.

Kan ek dit in my 4×2 ry?
In die droë seisoen kan jy dit in ’n 4×2 ry. As dit sou reën, gaan dit egter begin lol. Die grondpaaie word baie modderig en glad wanneer dit reën. Dan sal jy jou storie moet ken in ’n 4×2.

Meganiese probleme?
Die agterste regterewenaarseël het begin olie lek. Dit is baie goedkoop en vinnig in Mbeya, Tanzanië, herstel. Jy kry onderdele in elke dorp.

Watter onderdele het jy saamgevat?
Ek neem net voertuigspesifieke onderdele saam, byvoorbeeld ’n lugfilter, waaierband, waterpype en ’n turboslang.  Ek pak ook stroppe, kabelrepies, duct tape, sekerings, isoleerband, voertuigspesifieke moere en boute, en ’n volledige bandherstelstel.

Herwinningstoerusting?
’n Goeie sleeptou, kinetiese strop en ’n hoogligdomkrag.

Gereedskap?
’n Goeie stel skroefsleutels, ’n multimeter, tang, hamer en skroewedraaiers.
 
Hoeveel geld is genoeg?
Brandstof is sowat 30%-50% duurder as in Suid-Afrika. Maak maar jou sommetjie vir die sowat 12 000 km wat ons gery het … Bereken die hoeveelheid brandstofgeld volgens jou voertuig se brandstofverbruik. Vir kampering betaal jy tussen $5 en $20 (R50-R200*) per persoon per dag. Blyplek in ’n lodge gaan jou tussen $80 en $150 (R800-R1 500) per persoon per dag uit die sak jaag.

Grootste uitgawe?
Brandstof. Met die uitsondering van Botswana is dit baie duurder as in Suid-Afrika. Die prys wissel ook aansienlik tussen groter en meer afgeleë dorpe. Beplan mooi hoe jy gaan volmaak.

Kontant of kaart?
Jy kan kontant by elke grenspos kry; óf van die informele geldwisselaars of ’n Bureau de Change. Jy kan ook geld by ’n bank of tellermasjien in groter dorpe kry. Let daarop dat dié OTM’s óf MasterCard óf Visa neem. Maak seker jy het albei. Die rye in banke is dikwels lank en stadig. Ek het ook dollarnote vir onvoorsiene uitgawes saamgeneem. Dikwels kan jy net met dollar vir kampgeld betaal. Begroot vir etes by restaurante. Dit wissel van $10 tot $20 (R100-R200) vir ’n aandete. Plaaslike drinkgoed soos koeldrank en bier is redelik goedkoop, maar as jy wyn of hardehout bestel, gaan jy deur jou ore betaal.
 
Kos?
Local is lekker! Ons koop ons vars kos, groente en brood langs pad. Goeie vleis is altyd beskikbaar in supermarkte in groter dorpe.

Beste/slegste plaaslike bier?

“Slegste bier?” Ek het nie geweet daar bestaan so iets nie. Die bier in Zambië, Tanzanië en Uganda is uitstekend en bekostigbaar. Daar is min dinge wat ’n yskoue bier in ’n hitte van 43 °C klop.
   
Lesse geleer?
Niks klop ’n lang reis deur Afrika nie.

Beste wenk?
Hou die gewig dop! Die meeste mense neem te veel onnodige goed saam. Gewig knou jou voertuig, veral op die slegte paaie wat jy onvermydelik weg van die gebaande weë in Afrika sal teëkom.


 

WR_Uganda.pdf 1.2 MB