Tussen hemel en aarde | Marcus wie?

DO44_WR26_Roetes_1

Die Marcuskraal-4x4 naby Citrusdal in die Wes-Kaap is nie ’n roete vir ouens wat die beursie styf toeknyp nie, maar jy gaan beslis waarde vir jou geld kry, sê Philip Sackville-Scott.

“Wie was hierdie Marcus-ou en hoekom is sy kraal bekend?” vra ek vir Krisjan Mouton terwyl hy sy rondes doen. Die laaste gaste het sopas vertrek en hy stap in die kampterrein rond en fynkam die grond vir vullis en stompies.

Krisjan is die eienaar, die sesde geslag Mouton wat op dié stuk aarde boer. Hy behoort te weet.

Die naam, verduidelik hy, kom uit die dae van die ossewaens, toe ’n mens nog plek-plek op die groot transportroetes ’n kraal gekry het waar jy jou vee vir ’n paar dae kon los. Ene Marcus was die eienaar van so ’n kraal naby die boskamp op die plaas.

Die Marcuskraal-4x4 naby Citrusdal is skaars twee uur se ry uit Kaapstad. Dit lê op ’n fantastiese plek in die westelike hange van die Sederberge en die Sandveld wat afloop Elandsbaai toe, in die weste.

Ek het pas hier aangekom en is klaar beïndruk. Die evaring sover is uitstekend, van die webwerf en hoe die besprekingsnavraag hanteer is, tot die warm ontvangs van die eienaars.

DO44_WR26_Roetes_2

Teken gou hier…

Voor ons die veld invaar, kom ons by die plaashuis bymekaar om te hoor wat gaan vir wat. Ons teken die vrywaringsvorms, kry kaarte en blaas bande af.

Nege kontrolepunte op die kaart stem ooreen met duidelike bordjies op die roete.

Die roete van 24 km loop antikloksgewys, hoofsaaklik op uitgetrapte plaaspaadjies wat jare gelede gemaak is om heinings reg te maak, veevoer aan te ry en rooibos en proteas te oes.

Jy ry op na Osberg, van waar jy ’n ongelooflike uitsig het – reg tot by Elandsbaai! – en dan verby Maanberg tot by ’n boskamp met braaigeriewe en lopende water. Van hier af daal die pad tot in ’n reusesandput voordat jy teen die meedoënlose Dwarsrug uitklim. Jy ry very ’n uitkykpunt en bereik uiteindelik weer die kampterrein.

Ons ry ’n kort entjie terug op die toegangspad na die begin van die roete. By Punt 1 op die kaart draai ons links van die toegangspad af in die sanderige rooibosteeplantasies.

Die eerste kilometer loop parallel met die teerpad voordat dit teen ’n opdraandetjie opswaai. Die rooibosplantasies maak plek vir digte fynbos en die paadjie kronkel kwaai deur rotsagtige riwwe. Oral sien jy enorme koningsproteas en erikas.

Nou vorder ons stadiger. Dit kos fyn bestuur om deur die skerp draaie en oor steil heuwels te kom. Teen die uitgetrapte afdraandes pak ons klippe sodat die Nissan Terrano in die konvooi se ewenaar nie seerkry nie. Ons kom darem sonder teëspoed aan die ander kant uit.

Ons ry verby die plaashuis en begin die 600 m klim na Osberg, op pad na Punt 2 op die kaart. Tot dusver wissel die pad tussen ’n moeilikheidsgradering 2 en 3, maar Osberg se opdraande maak dit ’n eerlike 3 – totdat jy by die besonder steil graad 4-deel kom wat nie ’n ontsnaproete het nie. Op die los klippe sal jy jou vastrapbeheer of agterste ewenaarslot moet gebruik.

Ons klim uit en blaas ons bande nog verder af voor ons verder ry.

Ons ry oor ’n stuk gladde, plat rots. Dis heeltemal onbegaanbaar wanneer dit nat is, sê Krisjan, maar daar is ’n alternatiewe roete.

Ná die rots kry jy ’n afdraai na die uitkykpunt op die kruin – by Punt 3 op die kaart. Elandsbaai lê doer in die deinserigheid. Terug by die afdraaipunt is dit nie ver tot by die westelikste punt van die roete, by Punt 4, nie.

Ons ry verder suid, verby Punt 7 by Veekraal, ’n kamp wat nie meer gebruik word nie, tot by Punt 6, Palmietfontein se Kloof, waar ons afdraai na ’n wonderlike boskamp. Ons eet middagete in die koelte van groot ou bloekombome. Op die agtergrond ruis ’n rustige stroompie.

Ná middagete ry ons verder op ’n graad 2-paadjie verby Maanberg (Punt 7), die suidelikste punt van die roete.

Van hier af draai ons noord vir die laaste stuk, terug deur die rooibosplantasies, na die sandgat en speelput toe. Hier kan jy speel, of eenvoudig verbyry. Die speelput toets omtrent al jou vaardighede met ’n reeks diep sanderige klofies en ’n modderige afgrond.

Die roete loop verder noord verby lemoenboorde en twee damme tot by Punt 8, die begin van ’n kort, steil klim teen Dwarsrug uit.

Dié opdraande met los klippe neem jou verby die kontrolepunt tot op die rand van ’n afgrond. Omdat die steilte baie min vastrapplek het en voertuie met ’n lae grondvryhoogte hier sukkel, is hier ’n ompad.

Nou is dit net ’n klein entjie teen ’n afdraande af tot by die kampterrein, waar ons parkeer en kyk hoe die son agter Osberg sak.

Ná ’n veeleisende dag verdien ons die skaduryke staanplekke op die groen gras, en die vooruitsig van ’n warm stort in die nuwe ablusieblok.

WegRy sê: Kom eerder vir ’n naweek as vir ’n dag. Dis nie net ’n roete hierdie nie – dis ’n ervaring van ’n wonderlike omgewing waarvoor jy meer tyd nodig het.

Kommentare

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association