Tot by die Nyl | Nie altyd maanskyn en rose nie

Om ’n kinderdroom te verwesenlik het vyf vriende meer as 11 000 km in 35 dae gery en die oorsprong van die Nyl gaan soek. Francois van Wyk sê soms was hulle op ’n moderne dubbelpad, maar andere kere was die pad vol duwweltjies.

Die meeste mense hoor die eerste keer van die Nyl in die Kinderbybel of in die godsdiensklas. En dis waar die saadjie geplant is by ’n groep familievriende om self by dié geskiedkundige rivier uit te kom.

Francois van Wyk, sy vrou, Trui, en drie vriende – almal ouer as sewentig – het dié droom bewaarheid en die tog van 11 300 km met ’n Cruiser en ’n Condor aangepak. Ja, ’n 4x2 Condor...

En op dié reis, twee jaar gelede, het hulle nie net die oorsprong van die Nyl gaan soek nie, maar ook die Serengeti, die Masai Mara-wildreservaat en die Ngorongoro-krater.

Alles het nie altyd so ordelik verloop as wat hulle gehoop het nie, maar daar was ’n hele paar ligpunte. Hier is hulle storie:

Tot by die Nyl

Geduld vir Afrika

Lank voor douvoordag op ’n koue Augustus-oggend in 2009 spring ek en Trui weg uit Pretoria in die Condor. Halfnege daai aand klok ons in by die kampterrein op Kasane. Als het goed gegaan deur Botswana, ondanks die slegte pad anderkant Nata. Die laaste ent tot by Kasane het die Chinese darem ’n mooi stuk pad gebou met katogies en al – ideaal vir die donker.

Ná die ordelikheid van die grenspos aan die Botswana-kant en die oortog met die pont oor die Zambezi by Kazungula (die plesiertjie kos net R160), wag die georganiseerde Afrika-chaos jou in aan die Zambiese kant van die grens.

Ek weet nie waar om te begin beskryf aan die wanorde nie, maar ek volstaan deur te sê die selfaangestelde fasiliteerders is oorlams en uitgeslape en reken hulle dienste is minstens VSA$50 werd.

Ons reisgenote, Malie Alberts van Windhoek en Pieter en Baby Kok wat naby
Grootfontein in Namibië boer, het die oggend van die plaas af vertrek en die nag by Katima Mulilo geslaap. Soos afgespreek, kry ons mekaar te midde van ’n klomp lastige muggies by die aansluiting langs die pad Livingstone toe.

Van Zambië se kant af is die Victoriawaterval met die pragtige reënboog in die middagson ’n ongewone gesig wat ons altyd sal bybly. En dit laat ons uitsien na die res van die tog.

Net voor sononder bring die GPS ons uit by die Nyala Lodge se Bushfront-kamp, met goeie geriewe, mooi gras en ’n kragpunt. (Die naam van die plek is intussen na die Bushfrond Lodge verander.)

Paaie ís daar, maar dis meesal oorblyfsels van ’n vroeëre era. En om die verkeer te rem, is daar ’n spul spoedwalle aangebring wat eintlik ’n groter gevaar inhou as die slegte pad as jy dit miskyk. Gelukkig is die Chinese oral besig om nuwe paaie te bou.

Van Lusaka af neem ons die T2. Dis ’n lang pad wat voorlê, maar met die tenk vol petrol is ek selfversekerd en ons stoot aan in die rigting van Tanzanië. By Kapiri Mposhi draai ons noordoos, en onwetend laat ons die “ontwikkelde” koperstreek agter en sal ons eers weer by Mpika ’n petrolpomp teëkom...

Daardie aand kamp ons die eerste keer in die veld, net daar langs die pad naby Serenje. Dis rustig en vreedsaam, en die tarief natuurlik ideaal. 

Die volgende oggend trek ons verder. Die teer het lankal plek gemaak vir grond en die gate in die pad word al groter. Die Condor se petrolliggie brand al ’n hele ruk en ek raak stadigaan bekommerd. Ons hou ook so baie stil vir foto’s dat Pieter-hulle te ver voor ons is, buite bereik van ons tweerigtingradio.

Gelukkig kom ons af op ’n groep Tanzaniërs wat op pad is na Lusaka – met ’n kattebak vol kanne petrol. ’n Kan met twintig liter petrol het ons by Mpika gebring, waar Pieter-hulle al vir ons wag.

Kommentare

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association