Tanzanië | Tarangire (die Serengeti sonder die stormloop)

Die Tarangire Nasionale Park in Tanzanië is ’n heelwat stiller alternatief vir die leërskare besoekers in die Serengeti, het Matt Covarr agtergekom.

Bwana, hierdie plek hou baie, baie ver aan,” beduie een van die wildbewaarders van die Tarangire Nasionale Park terwyl ons leun oor ’n droë seisoen-kaart van hierdie oënskynlik eindelose wildernis in die noorde van Tanzanië.

Ek en my vrou, Halszka, ’n dierkundenavorser, het besluit om in dié omgewing ’n sebra-navorsingsprojek te begin as deel van ’n jaar lange uitruilprogram tussen die Tanzaniese natuurlewe-navorsingsentrum en die Universiteit van Pretoria.

Voor dit het ek nog nooit eens van Tarangire gehoor nie, maar binne die eerste paar uur daar was dit vir my duidelik dat dit ’n miskende stuk van die Tanzaniese natuurlewelegkaart is.

Britse swierbolle soos Finch Hatton en die baron Bror von Blixen van Out of Africa-faam het dit “The Tarangire” genoem toe hulle in die 1920’s en 1930’s oordadige jagekspedisies na dié afgesonderde deel onderneem het om te verseker dat hul kliënte “net die beste leeu of die grootste olifant in die sak kry”.

Buiten die handjie vol buitelandse besoekers wat deesdae ook een van Afrika se groot natuurlewe-ervarings wil beleef, het die Tarangire Nasionale Park, soos dit sedert die 1970’s bekend staan, baie min sedert Hatton en Von Blixen se tyd verander. Die landskap is nog besaai met kremetartbome, wemel van olifante en word deurlopend deur die Tarangire-rivier gevoed.

Met ’n veel digter olifant-bevolking as enige ander Tanzaniese reservaat, en naas die Serengeti die grootste soogdierdigtheidstal in Tanzanië, word Tarangire onregverdig oorskadu deur die luisterryke name van sy noordelike bure – Serengeti (± 200 km daarvandaan), die Ngorongoro-krater (± 110 km) en Lake Manyara (± 90 km).

Vir die al meer Suid-Afrikaners wat Oos-Afrika in hul eie voertuie begin verken, is Tarangire net die plek vir ’n eiesoortige natuurervaring.

En moenie afgeskrik word deur die afstand nie – ons reg-streekse rit van Plettenbergbaai af langs ’n goeie teerpad was ’n rustige nege dae in ’n Land Rover.

Tarangire lê net 120 km suidwes van Arusha, die safari-mekka van Tanzanië. Boonop kan jy daar uitkom met ’n goeie teerpad wat net 10 km van die park se ingangshek eindig.

Ná die teer begin jy ry op die eerste van duisende kilometers se stowwerige grondpaadjies wat soos spatare deur ’n ver-skeidenheid van landskappe en ekostelsels vleg.

Kommentare

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association