Suidelike Drakensberg | Oor die stert van die Draak

Oor die stert van die Draak

In sy soeke na die berugte Vyfponddraai in die bergpasse van die Oos-Kaapse Drakensberg het Chris Marais verstrengel geraak in ’n week vol avontuur, fabelagtige vertellings – en amperse rampspoed …

Nou luister,” sê André Conradie, en gee my bakkie se sleutels vir my, “ek wil hê jy moet die Vyfponddraai gaan soek as jy daar bo in die berge is.”

André en sy span kyk voor elke lang reis na ons Isuzu.
Hy was eers ’n plattelandse polisieman op omtrent elke plek met ’n Kerkstraat, en daarom gee hy my sommer ook reisadvies voor ek iewers heen ry.

En hy ken die sogenaamde stert van die Draak, die suidelike Drakensberg, sommer baie goed.

“Dis daar iewers aan die bopunt van die Barklypas,” sê hy. “In die ou dae moes die ossewaens om ’n haarnaalddraai gaan, en omtrent elkeen het sy voor-as gebreek.
“ ’n Boer wat daar onder gebly het, het hulle vyf pond per as gevra om dit reg te maak. Hy’t soveel geld gemaak hy’t sy boerdery gelos, maar met die koms van motors het sy inkomste op-gedroog. In elk geval, iewers daar op ’n rots is ‘vyf pond’ uitgekrap – ek het dit al gesien.”

Nou maar reg. ’n Plan binne ’n groter plan, ’n draai binne ’n groter draai om die bekende Agt Passe van die Oos-Kaapse Drakensberg te ry: Joubert, Volunteershoek, Carlisleshoek, Naudésnek, Lundeansnek, Otto du Plessis, Barkly en Bastervoetpad.

 

Wawiele vir knope …

Onder ’n metaalgrys wolkmassa kom ek en Jules, my vrou, by ons eerste stilhouplek aan, die Lupela Lodge buite Lady Grey, waar ons gashere vir die volgende paar dae, Kate Nelson en Phil Harrison van Wild Mountain Adventures, op ons wag.

Hmm. Nou van watter lady Grey praat ons hier?
Sophie Grey die argitek, wat volgens my soms ylhoofdige vriend Martin Rattray “op die rug van ’n kerk rondgery en perde ontwerp het”?

Of is dit genoem na Lucy Grey, die vrou van goewerneur sir George Grey?

Volgens Google is dit laasgenoemde.
Ha! Lucy en sir George het ’n uitvalletjie gehad op ’n seevaart van Engeland af, onthou ek nou. Dit het iets te doen gehad met ’n briefie wat sy skelm vir ’n medereisiger, sir Harry Keppel, gegee het.

Wat ook al in dié briefie gestaan het, dit het sir George so woedend gemaak dat hy haar in Rio de Janeiro afgelaai het – diensmeisies, bagasie en al – voor hy oor die Atlantiese Oseaan terug is Kaapstad toe. Dit was daai lady Grey …

Maar hierdie Lady Grey lyk vandag al te fraai terwyl die middagson goud op die Moederkerk skyn, die dorpie teen die Witteberg aanvlei en plesierige klanke uit die plaaslike watergat stroom.

Daar bo, op die hoogte, lê Joubertspas, wat ons môre gaan aanpak.

Ons bly in ’n slim omskepte silo by Lupela Lodge, wat aan Alf en Denise Ross behoort.
Oor ontbyt die volgende oggend vertel Alf ons van die legenda-riese Cloete-broers, supersterk jong mans wat hier naby, op Benjamin Heights, gebly het. 

Een dag, terwyl een van die Cloetes op die land gewerk het, het ’n vreemdeling nader gestap.
“Waar is die sterk Cloete?” wou die man weet.
“Hy woon daar bo,” het die “ander” Cloete gesê, en die hele ploeg uit die grond gelig om na die plaashuis te beduie. 

Ag ja, hierdie wonderlike stories hoor jy net in die berge. Dit herinner nogal aan Paul Bunyan, die fabelagtige houtkapper in heelwat Amerikaanse volksvertellings.

Vyf reuse-ooievaars, wat mekaar moes aflos, het glo die baba Paul by sy ouers afgelewer. Toe hy ’n week oud was, was hy so groot hy moes sy pa se klere dra. En op ’n jaar het hy wawiele vir knope gebruik …

Ja, die Cloete-broers en Paul Bunyan sou ’n formidabele trio gewees het.

Kommentare

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association