Suid- en Oos-Kaap | Op die spoor van ou Thomas Bain

Suid- en Oos-Kaap | Op die spoor van ou Thomas Bain

’n Sirkelroete deur die Langkloof, Wildernis, Swartbergpas – en ’n afdraai Gamkaskloof toe – en uiteindelik die Baviaanskloof klink na iets waarvoor jy jou voortande sal gee. Anton Strooberg van Grahamstad sê dis die beste 1000 km wat hy al gery het.

Die skoolvriende Anton Strooberg en Werner Gouws het nie veel oorreding nodig gehad om die Suid- en Oos-Kaap op ’n uitgebreide sirkelroete te verken nie. Albei het hul wortels in die Oos-Kaap en het die Oos- en Suid-Kaap al platgeloop op al wat ’n wandelroete is.

Hulle het ’n sirkel getrek op ’n kaart van die omgewing, en fyn gekyk om soveel as moontlik grondpad en interessante passe te ry. Oktober is die beste tyd om te toer – die weer is lekker, jy hoef nêrens te bespreek nie en buiten Oudtshoorn was hulle oral die enigste mense wat gekamp het.

Dag 1 | Trap waar Fiela se kind geloop het

Suid- en Oos-Kaap | Op die spoor van ou Thomas Bain

Die eerste ruk van Jeffreysbaai op die N2 in ’n westelike rigting vlieg verby. Die kilometerlesing op die Toyota Condor TX 3 liter-diesel-4x4 staan op presies 105 000 km.

Die Langkloof-pad, die R62 deur Kareedouw, Joubertina en die nedersetting Haarlem en reg langs die Langkloofberge, bring ons al nader aan die plek waar ons eintlike grondpadtoer begin.

By Avontuur draai ons links op die R339 na die Prins Alfredpas. En hier, by ’n bordjie langs die grondpad wat sê Knysna lê nog 84 km ver, is ons opnuut beïndruk met Thomas Bain se vermoëns om ’n pas oor ’n berg te prakseer. Dit wemel van poele, stroompies en watervalle en ons ry oor die mooiste bruggies.

Die reën en mistigheid trek ’n sluier oor al die berghange en klowe wat ons eintlik wil sien, maar die pas is nietemin loutere ryplesier.

Ná sowat 19 km deur die poort kry ons die piepklein De Vlugt, hoofkwartier van die Prins Alfredpas met ’n paar huise en ’n kerk en skoolgebou.

’n Ent verder met die pad, verby die bord Diepwalle, draai ons regs op Kom se Pad, wat verby die die Gouna-bosboustasie tot in Knysna loop. Nou’s ons op Fiela se kind se turf en die pad kronkel deur die Knysnawoud.

Ons ry verby die mooiste geelhoutbome, en kan nie dink hoe dit vroeër sommer vir brandhout of dwarslêers gebruik is nie. Die bos voel kompleet of dit aan ons kleef en ons verwag dat daar enige oomblik ’n trop olifante uit die ruigtes op die Condor afgestorm kan kom…

In Knysna draai ons regs op die N2 en mik in George se rigting, maar darem nie te lank nie. By die Rheenendal/Millwood-afdraai swaai ons regs en ry die paar kilometer tot in Rheenendal. Nou’s ons op die bekende Sewepassepad, wat teenaan die voet van die Outeniquaberge loop. Dis minder ruig as Kom se Pad en het meer oop dele as gevolg van die plase, maar dis steeds ’n lus vir die oog.

Stop gerus by Millwood by van die ou myntonnels wat nog behoue gebly het. Oppas net vir die duisende vlermuise so groot soos rotte as jy dieper die tonnels inloop.

Hiervandaan is dit weer grondpad oor die Homtinipas (Kraaibosch) na die bosboudorpie Karatara. Sowat 6 km ná Karatara kry ons die Hoogekraalpas. Plek-plek is die pad lekker sinkplaat en gaan dit stamperig, maar die natuurskoon vergoed hiervoor. Ná 18 km draai ons regs in George se rigting op die Forest Road.

Net ná vyf kom ons by die George-kampterrein aan in Yorkstraat. Ons slaan die tent op voor die groot reën en die nag van storms. Dis bitter koud...

Suid- en Oos-Kaap | Op die spoor van ou Thomas Bain

Kommentare

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association