Pin It

Serengeti-reis | Deel 3


Serengeti-reis-3-1

Serengeti-reis | Deel 3

Op ’n Afrika-toer kan jy nie heeldag sit en voëltjies kyk en foto’s neem nie. Party dae steek jy grensposte oor, gesels met omgekrapte verkeersbeamptes en swaai heeldag vir slaggate uit. Villiers Steyn en J.I. de Wet word op hulle derde skof na Serengeti tot die uiterste getoets. 

Tot dusver was Villiers en J.I. se 70 dag lange reis na die Serengeti sonder ernstige voorval. Die tweede skof deur die ooste van Botswana en Zimbabwe was vol adrenalien en wild. 

Maar Afrika is nie net maanskyn, rose, hengeluitstappies en lui troppe leeus nie. 

In Zambië en Tanzanië het hulle byna hulle moses teëgekom. Dié moses het ook ’n naam: korrupsie. En op pad moes hulle deur en om ’n paar slaggate ry. 

Van Victoria Falls af deur Zambië tot in Morogoro, Tanzanië (6 dae, 2403 km)

Dag 13

Betaal is die wet van Transvaal

Dis net ná agt en my lyf voel asof Schalk Burger dit gister vir ’n oefensak gebruik het. Die witwaterroei het ons ordentlik uitgeput. Maar seer bolywe is nie ons enigste probleem nie. 

Aan die Zambiese kant van die Victoria Falls-grenspos weier ’n nors beampte om Amerikaanse dollar vir ons koolstofbelastinggeld te aanvaar, en dit terwyl sy twee vriendeliker kollegas geen probleem gehad het toe ons die padbelasting en derdepartyversekering daarmee betaal het nie.

Al waar ons nou Zambiese kwacha gaan kry, is by die onhebbelike geldsmouse in die parkeerarea, maar ons is bang ons beland in die tjoekie as ons hier op die grens dollars ruil. 

Uit desperaatheid oortuig ons een van die vriendeliker beamptes om dit vír ons te doen. 

“Hmmm. Ek sien julle het gou by die plaaslike bank ’n draai gemaak,” ontwikkel die ou knorpot uiteindelik ’n sin vir humor toe ons die koolstofbelasting in kwacha betaal. 

“T.I.A. my vriend. T.I.A.,” herinner J.I. my terwyl ons kar toe stap. Inderdaad. This ís Africa en ons sal vinnig moet besef dat hierdie nie sommer net ’n trippie af Kaap toe is. 

Agt uur later, net buite Lusaka, deel Afrika nog ’n hou uit, dié keer onder die belt. Ek word afgetrek vir ’n spoedoortreding – 73 km/h in ’n 65-sone – en dit nadat ek júis seker gemaak het ek bly binne die spoedgrens. En natuurlik het die spietkop reeds my lesing op sy kamera uitgevee. Dis nou my woord teen syne. 

“Jy kan nóú kontant betaal of jouself môre in die hof gaan verdedig,” verduidelik ’n polisievrou vanuit die agterste sitplek van ’n lugverkoelde BMW wat sy in haar “kantoor” omskep het. Vyf en veertig Amerikaanse dollars en ’n paar binnensmondse vloekwoorde later stoot ons aan.

Bl. 2 | Dag 14 -16

Dag 14-15

Die moeder van alle skofte

Ons bly twee luilekker aande by vriende in Lusaka, en die goeie geselskap, tuisgemaakte lasagne, skoon wasgoed en ’n Debonairs-pizza is ’n klein prys om te betaal om ’n dubbelbed te deel. Maar nou is dit tyd om Zambië oor te steek. 

Aanvanklik sou ons by navorsers in Noord-Luangwa oornag, maar ’n krisis dwing hulle om self in Lusaka ’n draai te maak. Ons besluit om deur te druk tot by Kaphishya Hot Springs in die noordooste van Zambië, ’n allemintige skof van 793 km op die Great North Road. Ná 11 uur op die pad kan ons onomwonde sê dit moet eerder na die Almost Undriveable North Road herdoop word.

Aanvanklik lyk die teerpad soos die N1 – in ’n goeie toestand met duidelike strepe en ’n breë skouer – maar noord van die dorpie Serenje verander dinge drasties. 

As jy gedink het daar’s groot slaggate in Van Niekerk-straat in Vryburg, wag tot jy hier kom. 

Eers dwing gate so groot soos DStv-skottels ons heen en weer oor die pad. Dan raak dinge belaglik. Die teerpad verander in ’n modderige slagveld met slaggate, of eerder kraters, so groot soos my Hilux. Ek en J.I. doop hulle die Trokroller, Bandvreter en Bodemlose Put soos ons een vir een verby die kraters kruip. 

Om ons spoed verder te breek word ons voor en na elke dorpie by ’n padblokkade gestop. Omtrent elke beampte vra vir “geskenke”, insluitend tydskrifte, eet en drinkgoed, en selfs een van my kameras. Gelukkig is al ons dokumente in orde en kos dit ons slegs twee pakkies koekies en ’n hand vol suiglekkers om deur te kom. 

Suid van Mpika sien ek ’n man met ’n reuse wit sambreel onder ’n boom. Of wag… dis ’n paddastoel daai! Ons blaai vinnig deur die Bradt-gids om meer inligting te kry en besef dis die wêreld se grootste sampioen (Termitomyces titanicus). Met ’n eetbare kop van tot een meter wyd is dit maklik een van die indrukwekkendste goed wat ek nóg gesien het. 

Halfses kom ons uiteindelik by Kapishya Hot Springs aan. Die woudagtige ingangspad laat ons sprakeloos en help ons om van die Great North Road te vergeet. Met moeë lywe slaan ons tent op langs die Manshyarivier.

Serengeti-reis | Deel 3

Dag 16

Hemel op aarde… tot ons wegspoel 

Vanoggend slaap ons laat. Ná ontbyt drentel ons af na die warmwaterfontein waar ons die grootste deel van die dag deurbring. Die koel, bewolkte weer maak dit nog lekkerder om in die stomende water te lê. 

Hierdie fonteintjie is dalk nie op dieselfde gewildheidskaal as die Makgadikgadipanne of die Victoriawaterval nie, maar dis net so indrukwekkend. Die water is kristalhelder en bly dwarsdeur die jaar 40°C. Boonop ruik dit nie soos vrot eier nie. 

Jy’s omring deur ’n digte raffiapalmwoud wat rooikuifloeries en ander skaars voëlspesies lok. Dis oomblikke soos dié wat die toer – met al sy uitdagings – die moeite werd maak.

Net ná vieruur steek J.I. ’n vuurtjie aan. Dankie tog vir die gasbottelverlengstuk, want nie eens twee sakke Blitz sal hierdie klam hout aan die brand kry nie. 

Kort voor lank dwing ’n reënbui ons om ’n afdakkie met sinkplaat oor die vuurtjie te bou. Maar dan stort dit neer en ek en J.I. vlug onder een van die palmblaarafdakkies in. Papsopnat en rasend honger kry ons dit reg om ’n paar kole te red – net genoeg vir ’n platgevalde potbrood en ’n stukkie boerewors. 

Terwyl ons onsself oor die vuur probeer droog kry, besef ons dié trippie nie vir sissies is nie. Dit het 150 mm in die laaste drie uur gereën en saam met al die slaggate, padblokkades en korrupte spietkops het ons die laaste twee dae behoorlik getoets. 

Gelukkig het ons dit oorleef, en nou kan Afrika enigiets na ons kant toe gooi. Ons sal dit ook oorleef… of hoe?

Bl. 3 | ’n Kille verwelkoming

Dag 17

’n Kille verwelkoming in Tanzanië 

’n Goeie vriend het ons gewaarsku teen Tunduma, die grenspos tussen Zambië en Tanzanië. “Daardie plek is ’n malhuis. Daar’s honderde mense oral om jou en almal wil jou agent wees.”

Nou, vyf uur nadat ons by Kapishya weg is, lê Tunduma skaars 3 km voor ons. ’n Ellelange ry vragmotors blokkeer die linkerbaan en die regterbaan dra aanhoudende verkeer. Uiteindelik beduie ’n groep mans ons om óór die regterbaan te ry, tot op die oorkantste sypaadjie, en hulle dan te volg tot by die grenspos. 

Die volgende twintig minute neem ’n ewigheid om verby te gaan en voel soos iets uit ’n storieboek. Oral om ons is voertuie, fietse en mense. Ons ry in ’n baan wat nie bestaan nie, soms reg teen die verkeer, en druk die Hilux in gaatjies waarin dit nie veronderstel is om te pas nie. Soos ons vorder, word die groep mans voor ons al groter.

Ons vriend was reg: Almal wil ons agent wees. Ons besef dat ons nie hierdeur gaan kom sonder hulp nie en kies die enigste man met ’n knoophemp
voordat ons uitklim. “Jy gaan ons help!” probeer ek selfversekerd te klink. Ek bied die man VSA$15 aan om ons voorspoedig deur Tunduma te lei en so kom ons ooreen – Nixon is ons agent.

Tunduma is nie soos ander grensposte met ’n duidelike gebou of toonbank vir immigrasie, polisie, doeane of versekering nie. Nee. Hier sit die onderskeie beamptes almal ver van mekaar af in verskuilde, ongemerkte kantore. Jy het nie ’n kans om hierdeur te kom sonder plaaslike hulp nie. 

Met Nixon aan ons sy kom ons in ’n japtrap deur die Zambiese kant, maar net toe ons dink alles verloop seepglad, tref ons ’n struikelblok. ’n Doeanebeampte aan die Tanzaniese kant (wat SMS’e tik en kougom kou terwyl jy met hom praat) weier om ons SARS-vorm met al die kameratoerusting en elektriese gereedskap op te stempel. Blykbaar moet ons ’n soort deposito ter waarde van al die toerusting op die grenspos betaal – ’n bedrag wat ons eers kan terugkry wanneer ons Tanzanië oor ’n maand verlaat. 

Ons vriend was reg. Hierdie plek ís mal.

Uiteindelik laat ek die situasie aan Nixon oor. Hy is immers ons hulp en ek gaan hom tog betaal vir sy diens. Ná ’n mooipraatsessie met die vrou en VSA$20 omkoopgeld, kry ons ons stempel, maar nie voor ons elke liewe stuk toerusting op die lys (altesaam 16) vir haar wys nie. Hierdie keer is dit Nixon wat sy skouers optrek: “T.I.A. guys. T.I.A.”

Enkele minute voor die grenspos sluit, en amper R2000 later, ry ons Tanzanië binne. Ná donker kom ons by die Karibuni Centre in Mbeya aan, honger, gespanne en geheel en al uitgeput. Nog ’n dag en nog ’n Afrika-uitdaging agter die rug.

Serengeti-reis | Deel 3

Dag 18

Die eerste voorsmaak van die Serengeti

Die doel van hierdie skof is om afstand te dek en vandag het ons nog 660 km wat voorlê. Ons mik vir Morogoro noord van Selous, die volgende wildtuin op ons lys van 12. Ons vorder stadig op die hoofpad deur Tanzanië. 

Hier is steeds padblokkades voor en na elke dorpie en glo my, hier’s baie dorpies. Met ’n spoedgrens van 50 km/h (en op plekke selfs 30 km/h) in beboude gebiede en meer hobbels as wat ’n mens kan tel, sou ons dalk vinniger te voet gevorder het. 

Die hoogtepunt van die dag is die stukkie pad deur die Udzungwa Mountains Nasionale Park en daarna die Mikumi Nasionale Park. Ons sien dertig olifante, ’n trop kameelperde, ’n paar families vlakvarke en natuurlik ’n trop bobbejane langs die pad. 

Om geld te spaar slaap ons by die Masuka Village Hotel in Morogoro – die plek met die goedkoopste dubbelkamers in die dorp. Die kamers lyk skoon, maar die kombuis het vanaand net hoender op die spyskaart. Ons ry om die hoek tot by Mama Pierina’s-restaurant waar ons steak en chips eet. J.I. lig ’n Serengeti, een van Tanzanië se plaaslike biere: “Op die Serengeti Trip! Die groot trek is nou agter die rug en ons het dit oorleef. Môre sit ons voet in Selous.”

In die volgende uitgawe: Ons maak ’n draai in Afrika se grootste wildtuin, Selous, eet samoesas op ’n spierwit strand suid van Dar es Salaam, kry ’n omgekrapte maag in die skadu van Kilimandjaro en bring ’n onvergeetlike dag deur saam met die Masai.

Bl. 4 | Lesse & blyplek

Die derde skof se lesse

Maak seker jy kan sien. Moenie Zambië en Tanzanië se paaie in die donker aanpak nie. Hier is heeltemal te veel slaggate en mense in die pad.

Slaap wakker. Wees ekstra versigtig wanneer een van Tanzanië se kleurryke busse naby is. Hierdie ouens is baie erger as Suid-Afrikaanse taxibestuurders. Hulle huiwer nie om jou van die pad af te dwing as daar slaggate in hulle baan is nie. 

Vra ’n vriend. Vra die eienaar van die kamp waar jy bly of hy weet van ’n lekker blyplek by jou volgende bestemming. Eerstehandse inligting is altyd die beste. 

Ruil jou tent vir ’n bed. Dis ongelooflik wat ’n aand of twee van gemak vir ’n mens doen. Bederf jouself ten minste elke tweede week deur in ’n gastehuis of goedkoop hotel te bespreek, of bly by vriende. 

Serengeti-reis | Deel 3

Hier het ons gebly

Kapishya Hot Springs, Zambië 

Waar? 793 km noordoos van Lusaka, ±32 km van die T2-hoofpad af.

Koste? ZK50000 (R70) per persoon per nag vir kampering.

Geriewe: Die kampterrein lê op die oewer van ’n rivier en het groen grasperke met braaiplekke by elke staanplek. Hout is gratis. Hier is ’n paar gerieflike afdakkies met tafeltjies, bankies en wasbakke. Die ablusieblok het spoeltoilette en donkiestorte. Die hoofkuiergebied het ’n restaurant, kroeg, TV en swak Wi-Fi-internetverbinding, sowel as ’n swembad. 

Kontak: Mark Harvey by +260 (0)97 697 0444; kapishya@shiwasafaris.com; www.shiwasafaris.com/kaishya.html 

WegRy sê: As jy Zambië se Great North Road (die T2) gebruik om Tanzanië toe te ry móét jy minstens twee nagte by Kapishya slaap. Jy gaan ’n volle dag in die warmwaterfontein wil deurbring.

Karibuni Centre, Tanzanië

Waar? In Mbeya in die suidweste van Tanzanië.

Koste? Ts3000 (R13) per persoon per nag vir kampering. ’n Verskeidenheid van kamers is ook beskikbaar.

Geriewe: Baie basies met eenvoudige kamers en ’n grasperk vir tentjies. Die gemeenskaplike badkamers het tipiese Oosterse hurktoilette en geen warm water nie. Hier is ’n klein restaurantjie.

Kontak: +255 (0)25 250 3035; www.twiga.ch/TZ/karibunicenter.htm 

WegRy sê: Die Karibuni Centre is ’n veilige oornagplek vir reisigers met ’n klein begroting.

Masuka Village Hotel, Tanzanië

Waar? In Morogoro, ±200 km wes van Dar es Salaam.

Koste? Ts15000 (R66) per nag vir ’n dubbelkamer met muskietnette, warm stort en gewone spoeltoilet.

Geriewe: ’n Klein kroeg met ’n pool-tafel. 

Kontak: +255 (0)754 280223 

WegRy sê: Hoewel die kamers baie basies is, bly dit waarde vir geld.

Serengeti-reis | Deel 3

Oos-Afrika se verkeerseine

Vir langer as twee weke in Zambië en Tanzanië krap ons kop oor waarom voertuie kort-kort vir ons ligte flits. Is daar spietkops voor of is daar fout met die bakkie? Uiteindelik verduidelik Mr. Octopus, ’n toeroperateur van Zanzibar, hoe Tanzanië se verkeerseine werk.

  • Wanneer iemand vir jou ligte flits, vra hulle of daar verkeerspolisie naby is. As jy nie binne die laaste paar kilometer verby ’n spietkop gery nie, flits jy terug. Die handsein hiervoor is ’n omgedraaide hand met jou vingers na onder, soos om ’n hondjie se kop te krap. 
  • Wanneer jy wel onlangs verby ’n spietkop gery het, beweeg jy jou hand op en af met jou wysvinger wat grond toe wys. Dan weet die ou dat hy sy spoed moet verminder. As die beampte ’n spoedkamera gehad het, sit jy jou regterhand op jou nek en jou linkerhand onder jou regterarm, sodat jou elmboog na voor wys. 

As die verkeerspolisie nie so korrup was nie en as die spoedgrens in die stede nie slegs 30 km/h was nie, sou ek skuldig gevoel het oor hierdie ontduiking. Maar tans is dit baie waardevol. 

WegRy sê: Wan
neer ’n voertuig voor jou in Zambië of Tanzanië sy regterflikkerlig aanskakel, beteken dit jy kan nie verbysteek nie. ’n Linkerflikker beteken die pad is skoon, maar die veiligste is altyd om te wag tot jy self kan sien.

Bl. 5 | Dokumente

Toerusting: Al die nodige dokumente

Die grootste oorsaak van stres voor ’n Afrika-toer is waarskynlik die onsekerheid oor watter dokumente jy nodig het en hoeveel dit gaan kos. Hier is ’n opsomming van die nodige dokumentasie en koste en ’n lys van ander items wat jy nie moet vergeet nie. 

Is daar plek in jou paspoort? Maak seker dat jou paspoort vir ten minste ses maande na jou toer eindig geldig is en dat jy genoeg bladsye oorhet vir stempels (ten minste vyf vir ’n soortgelyke Afrika-toer). As jy nie ’n paspoort het nie, doen ten minste drie maande voor jou vertrek aansoek.

Gebruik die AA. Die beste plek om te begin is by die AA. Vra dat hulle vir jou die Crossborder Information-vorm uitdruk. Dit bevat waardevolle inligting oor visums, gesondheidsrisiko’s en grensdokumente vir al die lande in Suider- en Oos-Afrika. Terwyl jy daar is, doen sommer aansoek vir die volgende twee dokumente:

Internasionale rybewys: Dit kos R284, en jy moet jou paspoort, rybewys en twee paspoortfoto’s saambring. 

Carnet de Passages en Douane (CPD): Dit kos R2800 vir 10 bladsye, en dit sluit ’n deposito van R500 in. Bring afskrifte van jou ID en voertuig se registrasiedokumente saam. Ons het dit by grensposte van Zimbabwe, Zambië, Tanzanië en Malawi gebruik.

Jy kan ook ZA-plakkers en rooi- en silwerweerkaatsband by die AA koop. Laasgenoemde is verpligtend in Zambië en Zimbabwe (twee silwer reghoeke op die voorbuffer en twee rooi reghoeke agter). 

WegRy sê: Die CPD is dalk duur, maar dit spaar jou baie moeite (en moontlik ook geld) by die grensposte.

Serengeti-reis | Deel 3

Internasionale inentingsertifikaat. By ’n reiskliniek sal ’n dokter vir jou kan sê watter inentings jy vir watter lande benodig. Skop die proses vroegtydig aan die gang, want sekere inentings is eers geldig na die tweede keer. Ek het die volgende gekry: geelkoors (verpligtend in Tanzanië en Zambië), hepatitis A en B, ingewandskoors (typhoid), kinkhoes (pertussis), witseerkeel (diphtheria), tetanus, polio en cholera.

Die eerste rondte kos my R2030. Onthou dat jy ná jou terugkeer boosters kan kry wat die immuniteitsperiodes van sekere inentings verleng.

WegRy sê: Gaan sommer op dieselfde dag AA en reiskliniek toe – minstens twee maande voor die vertrekdatum.

En wat nog?

Sekere lande vereis dat jy ekstra toerusting saamry. In Zambië en Malawi is twee nooddriehoeke verpligtend en ’n brandblusser en een glimjas per persoon word aanbeveel.

Onthou ook die volgende dokumente:

  • Jou voertuig se oorspronklike registrasiedokumente.
  • Polisieklaring van jou voertuig.
  • ’n Lys van al jou elektriese toerusting en reeksnommers vir die SARS-doeanevorm.
  • ’n Gelamineerde afskrif van jou paspoort, lisensies en inentingsertifikaat.
  • ’n Bewys van motorversekeringsdekking tydens jou reis.
Bl. 6 | Grensposte

Só pak jy ’n grenspos aan

As jy hom reg aanpak, kán ’n Afrika-grenspos ’n goeie ondervinding wees. Hier’s ’n paar wenke:

Hoe vroeër, hoe beter. Oornag so na moontlik aan die volgende grenspos. As jy vroeg in die volgende oggend in die ry is, is jy rustiger en minder gejaagd.

Show me the money. Jy gaan sukkel om Zambiese en Malawiese kwacha of Tanzaniese sjieling in Suid-Afrika te kry. Stop by die manne wat binne 5 km van die grenspos langs die pad staan. Hulle is minder intimiderend as die hordes by die grenspos. Ruil net genoeg om jou grensposkoste en volgende tenk brandstof te dek en trek die res by die volgende OTM. Maak seker hulle doen jou nie in met die wisselkoers of geldigheid van die note nie.

Kom voorbereid. Maak seker jy het al die nodige papierwerk en dokumente byderhand wanneer jy uit die voertuig klim. Hoe beter jy georganiseer is, hoe vinniger behoort die proses te verloop.

’n Bietjie hulp, asseblief. As jy baie onseker oor die grensposprosedures is, huur een van die menige agents wat hulle dienste aan jou wil afsmeer wanneer jy uit jou voertuig klim. Kies die netjiesste persoon en kom vooraf op ’n prys ooreen.

Doen dit met ’n glimlag. Wees altyd vriendelik, geduldig en gewillig om jou voertuig, of trommels wat bo-op of binne-in is, oop te maak wanneer ’n doeanebeampte daarop aandring. Hoe meer jy daarteen vasskop, hoe langer gaan jy op die grens sit.

Serengeti-reis | Deel 3

Koste by die grensposte

Hier volg ’n lys van ons grensposkoste vir twee mense in ’n 2,7 liter-Hilux-bakkie:

  1. Martinsdrif (RSA-Botswana): R166 (veelvuldige toegang)
  2. Pandamatenga (Botswana-Zimbabwe): R385 (eenmalige toegang)
  3. Victoria Falls (Zimbabwe-Zambië): R560 (veelvuldige toegang)
  4. Tunduma (Zambië-Tanzanië): R1575 + R315 vir agent-fooie en omkoopgeld
  5. Songwe (Tanzanië-Malawi): R335 (veelvuldige toegang)
  6. Kariba (Malawi-Zimbabwe): R385 (eenmalige toegang)

TOTAAL: R3386 

WegRy sê: Kry vir jou ’n sterk sakkie met meer as een kompartement wat om jou heupe vasgespe. Maak dit sommer aan jou gordel vas met een van daardie kleurryke carabiners wat jy by Outdoor Warehouse koop, net om 100% seker te maak dit val nie iewers af nie. Bêre jou paspoort, internasionale rybewys en inentingsertifikaat heeltyd hierin, sowel as ’n pen en genoeg kontant vir die volgende grenspos.