Serengeti-reis | Deel 3

Op ’n Afrika-toer kan jy nie heeldag sit en voëltjies kyk en foto’s neem nie. Party dae steek jy grensposte oor, gesels met omgekrapte verkeersbeamptes en swaai heeldag vir slaggate uit. Villiers Steyn en J.I. de Wet word op hulle derde skof na Serengeti tot die uiterste getoets.
Tot dusver was Villiers en J.I. se 70 dag lange reis na die Serengeti sonder ernstige voorval. Die tweede skof deur die ooste van Botswana en Zimbabwe was vol adrenalien en wild.
Maar Afrika is nie net maanskyn, rose, hengeluitstappies en lui troppe leeus nie.
In Zambië en Tanzanië het hulle byna hulle moses teëgekom. Dié moses het ook ’n naam: korrupsie. En op pad moes hulle deur en om ’n paar slaggate ry.
Van Victoria Falls af deur Zambië tot in Morogoro, Tanzanië (6 dae, 2403 km)
Dag 13
Betaal is die wet van Transvaal
Dis net ná agt en my lyf voel asof Schalk Burger dit gister vir ’n oefensak gebruik het. Die witwaterroei het ons ordentlik uitgeput. Maar seer bolywe is nie ons enigste probleem nie.
Aan die Zambiese kant van die Victoria Falls-grenspos weier ’n nors beampte om Amerikaanse dollar vir ons koolstofbelastinggeld te aanvaar, en dit terwyl sy twee vriendeliker kollegas geen probleem gehad het toe ons die padbelasting en derdepartyversekering daarmee betaal het nie.
Al waar ons nou Zambiese kwacha gaan kry, is by die onhebbelike geldsmouse in die parkeerarea, maar ons is bang ons beland in die tjoekie as ons hier op die grens dollars ruil.
Uit desperaatheid oortuig ons een van die vriendeliker beamptes om dit vír ons te doen.
“Hmmm. Ek sien julle het gou by die plaaslike bank ’n draai gemaak,” ontwikkel die ou knorpot uiteindelik ’n sin vir humor toe ons die koolstofbelasting in kwacha betaal.
“T.I.A. my vriend. T.I.A.,” herinner J.I. my terwyl ons kar toe stap. Inderdaad. This ís Africa en ons sal vinnig moet besef dat hierdie nie sommer net ’n trippie af Kaap toe is.
Agt uur later, net buite Lusaka, deel Afrika nog ’n hou uit, dié keer onder die belt. Ek word afgetrek vir ’n spoedoortreding – 73 km/h in ’n 65-sone – en dit nadat ek júis seker gemaak het ek bly binne die spoedgrens. En natuurlik het die spietkop reeds my lesing op sy kamera uitgevee. Dis nou my woord teen syne.
“Jy kan nóú kontant betaal of jouself môre in die hof gaan verdedig,” verduidelik ’n polisievrou vanuit die agterste sitplek van ’n lugverkoelde BMW wat sy in haar “kantoor” omskep het. Vyf en veertig Amerikaanse dollars en ’n paar binnensmondse vloekwoorde later stoot ons aan.
Inhoudsopgawe:
- Serengeti-reis | Deel 3
- Bl. 2 | Dag 14 -16
- Bl. 3 | ’n Kille verwelkoming
- Bl. 4 | Lesse & blyplek
- Bl. 5 | Dokumente
- Bl. 6 | Grensposte
Soortgelyke stories
Gewilde artikels




Kommentare
Jy het 'n baie groot webwerf www.wegry.co.za, bly ek het dit opgemerk deur yahoo.
Pos nuwe kommentaar