Pin It
print

Sentraal-Kalahari | Na die middel van die mooiste woestyn

WOORDE: Olof Bergh FOTO'S: Christo Giliomee
Sentraal Kalahari-17_used

Die Sentraal-Kalahari-wildreservaat is nie so ver van jou af nie, maar dis een van die mees afgeleë wildernisgebiede in Afrika. En ook een van die mooistes. Olof Bergh het vir agt dae die stadige lewe daar gaan lewe.

Ek is nog altyd mal oor die woord “Kalahari”, wat eintlik van Kgalagadi afgelei is. “Kgala” beteken “die groot dors” in Tswana en dis g’n geheim hoekom hierdie wye dorsland so genoem word nie.

Die woord Kalahari proe sommer droog en stowwerig. As jy dit hardop sê, kan jy amper die sand en vlaktes op jou tong voel.

En dit klink soos avontuur. Het jy al die veraf kyk in ou manne se oë gesien as hulle hiervan praat? Dis asof hulle voor hul geestesoog kan sien hoe die kampvuur nog smeul terwyl die nuwe dag bloedrooi oor die vlaktes breek.

Die Kalahari is ’n geheimsinnige plek. Hier loop baie stories en legendes. Almal ken die stories oor die sogenaamde Verlore Stad en sy geheime skatte. Selfs die Boesmans verwys na ’n ou beskawing wat hier gebly het – hulle praat van die “ou mense”.

Baie fortuinsoekers se verbeelding is al hierdeur aangegryp en groot ekspedisies is al aangepak om die ruïnes te vind. Sommige van toentertyd se avonturiers het dit nooit terug gemaak nie.

Baie het wel teruggekom met stories van die wind wat ’n antieke beskawing se murasies in die sand oopwaai, net om dit die volgende dag weer toe te waai. Niemand kon nog die koördinate vaspen nie.

Daar word nog jaarliks ekspedisies na die Kalahari gestuur om die Verlore Stad op te spoor, maar ’n mens vermoed dis vir die meeste hedendaagse deelnemers maar net ’n duur verskoning om whiskey langs ’n Kalaharivuur te drink.

In die somer lyk die Kalahari nie altyd soos ’n woestyn nie. In die reënmaande verander dit in ’n lowergroen paradys met groot troppe gemsbokke wat op die panne vergader wat in dié tyd ’n see van wuiwende gras is, blond en goud en hoër as ’n Land Cruiser se enjinkap.

Vir die meeste Suid-Afrikaners is die Kalahari die rooiduin-bosveld wat iewers tussen Kuruman en Vryburg begin. Die grootste deel van hierdie dorsland lê egter in Botswana. Dit maak ook die wydste deel van die land uit, vanuit die suidweste tot bo in die noorde, waar die Okavangorivier in die sand uitsyfer.

Die Sentraal-Kalahari-wildreservaat, diep in die binneland van Botswana, is een van die mees afgeleë plekke in die wêreld en vir alle praktiese doeleindes die middelpunt van die Kalahari.

Sentraal%20Kalahari 15 Sentraal Kalahari | Na die middel van die mooiste woestyn

Bl.2 | Renoster-karma

Renoster-karma

Sentraal%20Kalahari 13 Sentraal Kalahari | Na die middel van die mooiste woestyn

Ná ’n stewige spek en eiers by die Buffalo bed-en-brekfis in Mafikeng is ons vroegoggend by die Ramatlabama-grenspos. Van hier af is dit nog 600 km tot by die Matswere-hek. Dis al laatmiddag toe ons van die A1 af wes draai op die A14, op pad na die Khama Rhino Sanctuary waar ons die aand oornag.

Botswana het in die negentigs erg deurgeloop onder renosterstropers. Die land se renosters is al twee keer amper uitgewis. Die Khama Rhino Sanctuary is geskep op aandrang van pres. Seretse Khama om die diere te beskerm.

Die reservaat is 4300 ha groot en hier is 34 witrenosters en 4 swartrenosters onder streng bewaking van die Botswana-weermag. Dis gerusstellend om te sien iemand doen iets om hierdie kosbare diere te beskerm nadat die eksotiese mark oorlog op hulle verklaar het.

Ons ontmoet ons mede-toerlede Marinus de Beer en Francois Boonzaaier onder ’n groot maroelaboom by kamp no. 5. Marinus ry ’n Land Rover en sleep ’n netjies ingerigte veldwaentjie wat vir die volgende tien dae ons kombuis gaan wees. Die res van ons groep bestaan uit Christo Giliomee en sy pa, oom Piet Giliomee. Hulle ry ’n Land Cruiser 76-stasiewa gelaai met ’n indrukwekkende hoeveelheid kameras en lense en ’n paar bottels goeie whiskey.

Ek ry saam met Bee de Klerk in sy Land Cruiser-bakkie. Bee en Christo is altwee ervare lede van die Land Cruiser-klub van Suid-Afrika. Hulle twee het hierdie toer gereël wat spesifiek fokus op die Sentraal-Kalahari. Ons gaan vier dae in die Passarge-vallei kamp en dan vier dae teen die Deception-pan by die Kori-kampplek. Die bedoeling is om genoeg tyd te hê om die Kalahari behoorlik in te drink en al sy klein geheime te kan ontdek. Dit word gesê dat die Kalahari ’n bietjie geduld vinnig beloon.

Die opgewondenheid oor die toer is tasbaar, en die kampvuur brand hoog in Khama, al is hier nie roofdiere nie.

Sentraal Kalahari 10 Sentraal Kalahari | Na die middel van die mooiste woestyn

Brakwater by Brakah

Van Khama af swenk ons eers noordoos om ’n draai te maak by Kubu-eiland. Dis Paasnaweek en die kampeerplek van hierdie eensame en eiesoortige eiland is volbespreek.

Ons word vriendelik ontvang deur Whiskey, die byderwetse opsigter by Kubu. Hy lyk soos ’n rockster met sy donkerbril en Metallica-hemp. Hy stel homself voor as die “mobile office” en ons bespreking is gelukkig in sy boek.

Dit voel amper soos ’n karavaanpark langs die Vaaldam met al die mense. Dis ’n ongelooflike mooi plek en die atmosfeer is gemoedelik.

Mondfluitjies en kitare klink op langs gesellige kampvure wat vroegaand al hoog brand. Iewers weergalm ’n koor van jong stemme met ’n geïnspireerde weergawe van ’n Live-liedjie: “Like a rollin’ thunder chasing the wind, Forces pullin’ from the center of the earth again, I can feel it…”

Teen negeuur is die hele eiland doodstil.

Bl. 3 | Die wildreservaat

Ná twee dae van kremetarte en sonsondergange is ons egter reg vir leeus. Dit reën hard tussen Letlhakane en Rakops en ons vorder maar stadig. Ons besluit om by Brakah in die Haina-konsessie in die noorde van die Sentraal-Kalahari-wildreservaat te kamp. Hier is longdrops, bosstorte en krane, maar die water is baie brak – dis seker waar Brakah se naam vandaan kom.

Hier’s ook ’n lodge by Haina as jy die pitte wil uithaal. Vir buitelanders kos dit $300 per persoon per nag, drank ingesluit, en vir Suid-Afrikaners R800 per nag, drank uitgesluit.

Sentraal Kalahari 04 Sentraal Kalahari | Na die middel van die mooiste woestyn

Die Sentraal-Kalahari-wildreservaat

Na gistermiddag se reën gly ons erg rond op die kaplyn tussen Haina en die Matswere-hek.

Ons kry ’n groot koedoebul met drie draaie in sy horings wat skugter vir ons loer en dan geruisloos in die bosse verdwyn. Ons sien telkens vars olifantmis en gebreekte takke in die pad. Die heining is selfs op ’n paar plekke platgetrap, maar dit lyk of hulle al teen die pad hou.

Die Tswanas aan diens by die hek sê ons het die olifante net gemis. Die vriendelike personeel deel ’n stuk wildewaatlemoen met ons. Dis sappig maar nie so soet soos ’n plaaswaatlemoen nie. In die volgende paar dae sien ons baie van hulle in die veld lê – dié nederige vruggies het al menige verlore reisiger se lewe gered.

By die hek is ’n skedel met ’n naamplaatjie van elke diersoort wat in die reservaat voorkom. Francois en Christo neem foto’s van die leeuskedel. Hulle maak grappies oor die massiewe slagtande, maar Francois lyk ook effens bekommerd. Hy het ’n heilige respek vir dié roofdiere en glo ’n mens “moet nou nie stupid wees nie”.

Botswana het tot dusver vanjaar buitengewoon goeie reëns gehad. Die binneland kry gewoonlik 700 mm reën per jaar, maar teen April het daar reeds
600 mm geval.

Gistermiddag se bui het die pad van Matswere na die Deception-pan in ’n rivier verander. Ons ry op ’n smerige mengsel van sand en klei wat soos sement aan die karre klou.

Dis baie uitdagend om dié paadjie te ry: Jy ry onophoudelik wipplank op taai modder en dit voel of dit ’n ewigheid aanhou. Ons stop by die Deception-pan toe dit lyk of die ergste modder agter ons is.

Jy mag uitklim, maar jy moet binne ’n radius van 25m van jou kar bly. Hier is nie regtig iemand wat kyk nie, maar wees versigtig – hier’s ’n hele paar ongediertes in die reservaat wat binne sekondes ’n hoofmaaltyd van jou kan maak.

’n Gehuurde Hilux kom in die modder aangegly tot op die harde grond langs die pan. ’n Bekommerde Hollander spring uit en wil weet of al die paaie in die plek só lyk, want hy het nie baie vertroue in die flouerige Hiluxie nie.

Hy is ook glad nie in sy skik met die toerusting op die kar nie: die jerrykanne lek en die GPS werk nie lekker nie. Maar hy en sy vrou is stomgeslaan deur die uitgestrekte vlaktes en die asemrowende natuurskoon. Ons sien nog ’n hele paar Europese avonturiers wat Afrika so op eie houtjie aandurf in gehuurde 4×4’s.

Bl. 4 | Manne van die panne

Manne van die panne

Sentraal%20Kalahari 16 Sentraal Kalahari | Na die middel van die mooiste woestyn

Die Sentraal-Kalahari het nie so romantiese naam soos die Savuti, Moremi of Chobe nie, maar hy dra veel meer stories en geheime en is baie gevaarliker om te besoek.

Die groot gevaar lê in die eindelose ruimte. Die reservaat beslaan 5 280 000 ha. Dis die tweede grootste reservaat in die wêreld (naas Selous in Tanzanië). Dis drié keer groter as die Krugerwildtuin, groter as Denemarke en amper so groot soos Ierland.

Jy ry ver, baie ver. As jy alleen ry en iewers vassit, kan jy letterlik weke wag voor nog ’n siel by jou verbykom, indien enigsins. Dit word sterk aanbeveel dat jy ten minste twee, verkieslik drie, voertuie saam ry. Die voertuie moet in radioverbinding met mekaar wees en een moet ’n satelliettelefoon hê.

Mac Mckenzie, van McKenzie 4×4 in Maun, is ’n Skot wat al jare lank voertuie herwin wat vassit, onklaar raak of sommer net moed opgegee op Botswana se ver-verlate vlaktes. As jy teen dag twee vasgesement sit op ’n godverlate pan en jou planne is op, bel hom op jou satellietfoon (00267 713 03 788). Hy sal jou kom haal.

Sorg dat jy ten minste 200 liter brandstof het as jy ’n week in die reservaat wil rondry. Onthou, die plekke van belang is ver uitmekaar en ’n mens kan maklik 100km op ’n dag ry. Dit sal jou ook waarskynlik heeldag vat om 100km te ry.

Die paaie is rof en die sand en modder is dik. Die doringtakke op kronkelende tweespoorpaadjies veg hard om die paadjies terug te vat. Dis heeltyd ’n uitdaging om hier te ry.

Die park se spoedgrens is 40km/h, maar dis eintlik bitter selde dat jy hierdie topspoed bereik. Vat dit eerder rustig en soek leeuspore in die sand.

En dis ook nie nodig om ’n Boesman te wees om hier spoor te sny nie – die sagte sandpaaie vertel elke oggend die storie van die nag se manewales.

Omdat die paaie so stil is en omdat groot roofdiere eerder in sandpaaie loop as deur die bos, is dit maklik om hulle spore te sien. Een aand net ná sononder loop twee leeumannetjies in die pad voor die Passarge 3-kampplek verby. Ons hoor hoe hulle brom-brom in gedempte gesprek met mekaar. Dit klink of hulle nader aan ons beweeg.

Ons sit nog so gespanne en luister toe dit klink of hulle hier reg by ons voete brul. Francois skrik so groot ’n mens hoor net ’n ritssluiters fluit soos hy in sy tent in duik. Die volgende oggend sien ons hulle spore in die pad – hulle was nader as 100m van ons kamp af.

Sentraal Kalahari 01 Sentraal Kalahari | Na die middel van die mooiste woestyn

Bl. 5 | Ons reis net deur…

Ons reis net deur…

Sentraal Kalahari 07 Sentraal Kalahari | Na die middel van die mooiste woestyn

Passarge 3 is in die mees afgesonderde deel van die reservaat. Ons kamp die eerste vier aande hier. Nie een enkele kar ry in dié tyd by ons verby nie.

Die woord Passarge is eintlik ’n verbuiging van die Engelse “passage”. Hierdie was glo vroeër ’n gewilde deurgangsroete van Gaborone na Maun.

Hier is geen water vir menslike gebruik in die reservaat nie. Jy moet alle stort-, skottelgoed- en drinkwater saambring. Dit raak baie warm deur die dag en jy gebruik meer water as gewoonlik.

Die naaste dorp is Rakops, sowat 46 km van die Matswere-hek af. Daar gaan nie veel aan nie, maar daar’s basiese kruideniersware en soms brandstof (maak voor die tyd seker).

Die Passarge-vallei is ’n indrukwekkende droë rivierbed wat plek-plek ’n groot pan word. Op baie plekke verskyn ’n falanks gemsbokke soos ridders met hulle lang skerp horings en swart maskers op die horison. Jy sien dit so baie, jy aanvaar later gemsbokke in die Sentraal-Kalahari is so volop soos rooibokke in die Krugerwildtuin.

Ander vlaktewild soos springbokke, blouwildebeeste, volstruise en ’n paar verdwaalde rooihartbeeste wei ook saam.

Sentraal Kalahari 08 Sentraal Kalahari | Na die middel van die mooiste woestyn

By die Passarge-watergat buk drie kameelperde die een na die ander potsierlik om in die vlak water te drink terwyl die ander die omgewing dophou vir leeus. Ek en Bee bekyk hulle vanuit die Land Cruiser. Hulle lyk gespanne. Dalk is dit ons teenwoordigheid. Dalk weet hulle iets wat ons nie weet nie.

Toe hulle uiteindelik spore maak, gaan ons nader en kry vars olifantspore by die watergat. Oupoot kom eintlik glad nie hier voor nie, maar as gevolg van vanjaar se goeie reën kom hulle van die Delta en die Botetirivier af om nuwe weivelde te soek.

Die veldwagters by die Matswere-hek bevestig dit: jy kry hulle glad nie hier in die droë maande nie. Die ou grotes ontduik ons egter heeltyd, ten spyte van daaglikse vars tekens van ’n hele klomp olifante in die reservaat.

Suid van Passarge loop die pad ’n oper meer klassieke Kalahari in, met groter kameeldorings wat soos sambrele al verder uitmekaar opstaan op die golwende grasveld. Die pad kronkel later in die Phukwi-pan in, wat eintlik meer ’n droë rivierloop is wat later in die Tau-pan uitmond.

Die Tau-pan is baie groot, hier’s baie water en nog meer wild as by Passarge. Ongelukkig bestaan die Tau-kampterrein nie meer nie. Hier is slegs ’n luukse lodge op die oewer. Dis jammer, want dis baie mooi hier.

As jy die vierkantroete van Passarge 3 tot by Tau-pan en terug wil doen, moet jy sorg dat jy voor eenuur die middag in die pad val om teen sononder terug te kan wees. Die parkmense gee jou ’n halfuur ná sononder om in die kamp te kom, maar om in die nag te ry en met soekflitse te skyn, is streng verbode.

Die personeel maak gereeld vroegaand ’n draai in die kampe. Hulle kom eintlik jou rommel optel en hoor of jy tevrede is, maar as jy laataand iewers op ’n pan sit, gaan hulle dink jy’t moeilikheid langs die pad gekry en ’n soekgeselskap agter jou aanstuur.

Passarge se staanplekke

Die kampe by Passarge (CKPAS 1-3) lê 20 tot 30 km uitmekaar. Jy sal nie eens weet as jou buurman heelaand “De la Rey” deur sy Isuzu se nuwe klankstelsel laat blêr nie.

Passarge 3 is ’n baie mooi kamp met heelwat koeltebome op ’n redelike hoë, beboste duin. Die uitsig is effens beperk omdat die omliggende bos baie ruig is.

Passarge 2, in die middel van die Passarge-vallei, is die gewildste. Dis ’n bi
etjie kleiner as Passarge 3, maar met ’n baie mooi uitsig op groot hoeveelhede wild wat in die pan staan en wei. Die kamp lê onder ’n klompie bome aan die voet van die pan en ’n troppie wildehonde hou glo hier rond.

Sentraal Kalahari 11 Sentraal Kalahari | Na die middel van die mooiste woestyn

Bl. 6 | Koedoes en versamelvoëls

Koedoes en versamelvoëls

Verder suid lê die meer bekende Deception-vallei wat bekend geword in die boek Cry of the Kalahari, oor die Amerikaners Mike en Delia Owens wat vanaf 1974 vir 7 jaar op ’n boomeiland in die Deception-pan navorsing doen het op leeus en bruinhiënas.

Dit was op hulle aandrang dat die Botswana-regering ingestem het om die veeheinings in die park te laat sak. Lees die boek as jy hierheen kom. Die Deception-kampeerplekke lê nie by die Deception-pan nie, maar ’n entjie die bos in.

Dis ruig hier. Koedoewêreld. ’n Mooi trop koedoes met ’n baie groot bul loer vir ons in die bosse langs die onbemande Deception 3. Die plantegroei hier is so ruig soos oewerwoud in die Krugerwildtuin.

Die sogenaamde Kori-staanplekke is naby Deception. Dis natuurlik vernoem na die kori bustard, of gompou, wat jy hier oral sien. Hulle vlieg nie juis nie en skrop meestal op die vlaktes. En dis opvallend hoe baie ’n sekretarisvoëlpaartjie altyd naby ’n gompoupaartjie te vinde is.

By die kampeerplekke is duisende versamelvoëls met ’n nes iewers in ’n koelteboom. Jy kan heeldag vir die sepie van versamelvoëls se lewe sit en kyk. Daar word nes gebou, oorlog gemaak teen kraaie en laksmanne, kuikens gevoer en onderling getwis.

Ons kry ook by elke kamp ’n rooiborslaksmanpaartjie wat in die omgewing jag en kleintjies grootmaak.

Sentraal%20Kalahari 14 Sentraal Kalahari | Na die middel van die mooiste woestyn

Deception en Kori se kampplek

Deception-pan (CKDEC1-7) se kampeerplekke is klein en opmekaar, maar hier is baie koelte. Deception 6 is goed vir ’n groot groep – dis groter as die ander en is redelik afgesonder.

Die Kori-kampeerplekke (CKKOR1-4) is teen die pan en nie baie ver uitmekaar nie. Hier is heelwat meer besoekers as by Passarge en mini-verkeersknope ontstaan selfs by leeus of jagluiperds. Kori 3 en 4 is die beste staanplekke, met baie plek, mooi koelte en ’n goeie uitsig oor die Deception-pan. Kori 1 is meer beknop met bitter min skaduwee.

Elke kampeerplek in die reservaat is uitgerus met ’n sementblad om op te braai, ’n netjiese long drop en ’n eenvoudige bosstort, wat uit ’n staalemmer met ’n stortprop en ’n kraantjie bestaan. Dit werk heel effektief en ons stort gerieflik, hoewel ons die laaste paar dae ons water moes rantsoeneer.

Die jaarlikse Kalahari Indaba

Sentraal Kalahari 03 Sentraal Kalahari | Na die middel van die mooiste woestyn

Een middag laat, op pad terug na ons staanplek by Kori 4, hoor ons oor die radio dat ’n trop leeus in ons rigting op pad is. Ons trek net daar af en wag in spanning in die laatskemer naby die Deception-kampeerplekke.

Skielik verskyn twee leeus vlak voor ons in die pad, dan nog en nog. Soos geruislose verkenners beweeg hulle doelgerig deur die bos. Groot wyfies en ’n paar jong mannetjies kom verby, tien van hulle.

Heel agter stap twee groot mannetjies. Die een lyk soos ’n Hell’s Angel met sy ruie baard, lang, vuil hare, woedende oë en ’n gesig vol littekens. Sy jonger trawant is ook besonder groot. Hierdie ouens lyk nie lus vir speletjies nie. Hulle verdwyn so geruisloos in die donker nag as wat hulle verskyn het – twaalf leeus.

Die volgende oggend douvoordag is ons op hulle spoor. Maar ons kom op ander leeus af – drie jong mannetjies. Volgens die Sentraal Kalahari-navorsingspan, ’n groep wetenskaplikes wat ons later daai middag langs die pad kry, was dié groepie leeus lank soek gewees. Hulle is glo drie maande laas in die omgewing van die Tau-pan gesien. En nou is hulle hier in ’n ander gróót trop leeus se gebied, met twee hardebaardmannetjies aan die stuur. Hier kom sports!

Ons bly ’n groot deel van die oggend by dié drie, kyk hoe een halfhartig ’n springbok probeer bekruip maar gou die aftog blaas. Die ander drink water uit modderdongas wat deur die Paasnaweekverkeer agtergelaat is. Net toe die son mooi uit is, gaan lê hulle onder ’n paar doringbome.

Teen laatmiddag, toe ons weer ’n draai maak, word hulle wakker. Die laaste mannetjie gaap vakerig in ons rigting en toe is hulle weg. Ons sien ook nie die vorige aand se trop nie, maar daardie aand is dit omtrent ’n kattemaaiery soos die leeus om ons brul. Van alle rigtings kom dit, ver en naby, ’n magdom Kalahari-leeus…

Sentraal Kalahari 02 Sentraal Kalahari | Na die middel van die mooiste woestyn

Bl. 7 | Suidwaarts en uit

Suidwaarts en uit

Sentraal Kalahari 06 Sentraal Kalahari | Na die middel van die mooiste woestyn

Ons besluit om nie weer by die Matswere-hek uit te gaan nie, maar eerder ’n draai suidwes deur die reservaat te ry en dan by die Xade-hek uit te gaan.

Van daar af ry ons met die reservaat se westelike kaplyn af tot by Kang. Ons wil graag die minder bekende suide van die reservaat sien. Min is nog geskryf oor dié gebied en niemand weet regtig wat om te verwag nie.

By die Piper-pan kry ons ’n waterpunt met vars water – die water van al die ander waterpunte wat ons gesien het, was brak, hoewel dit die diere seker nie veel pla nie. Dis baie mooi en seker baie gewild in die droë maande.

By Piper 1 het jakkalse ’n vorige kampeerder se rommel uit ’n vlak gat gegrawe en die hele kamp bestrooi daarmee. Onthou om genoeg plek in jou voertuig te los om al jou vullis uit te ry.

Die veld raak al droër hoe verder ons ry. Ons sien vir oulaas ’n trop gemsbokke, hier en daar ’n steenbok. En toe niks. Ons sien ook nie meer enige voëls of spore nie. As jy in ag neem hoe groot die Kalahari is, maak dit sin dat hier sulke lewelose stukke is, maar dit bly ’n aardige gevoel om so ’n dooie stilte te beleef.

Ons val in ’n ritme van bultjie op, bultjie af oor die lae duintjies. Die Land Rover sleep ’n waentjie en met die gewipplankryery kan hy nie anders nie as om teen loopspoed voort te kruip. Die res van ons bereik ook maar net-net 30km/h. Die sand is dik en die karre raak warm.

Ons stop gereeld om te kyk of daar nie ’n rokie onder ’n voertuig trek nie. Droë gras versamel in die onderstel en om die warm uitlaatpyp en voor jy jou hand op ’n brandblusser kan lê, is jou kar ’n brandende wrak.

Ons het dit skaars begin doen toe ons juis op so wrak afkom. Dit lyk soos ’n Jeep Wrangler. ’n Paar St. Louis-bierblikkies lê vars om die kar en ’n gesmelte brilboksie in die sand.

Dis nie lekker om te sien nie. Die personeel by die Xade-hek sê dit het in Februarie gebeur. Toe die vonke begin spat, was daar net genoeg tyd om almal uit die kar te ontruim en die satellietfoon te gryp. Ook maar goed hulle het een saamgebring, want hulle het alleen gery en sou daar gestrand gewees het vir ’n lang tyd.

Moenie te lui wees om te buk en onder jou kar in te kyk nie. Jy red dalk net jou hele vakansie.

As jy by die Xade-hek uitgaan, kan jy die pad volg tot by Ghanzi, of jy kan links afdraai teen die kaplyn op die reservaat se westelike grens en tot by Kang ry. Hier is heelwat verblyf in Kang as jy dit teen laatmiddag bereik, maar van hier af is jy op die Trans-Kalahari-hoofweg wat jou sommer vinnig tot in Gauteng sal bring.

Die kaart dui die
grond aan die ander kant van die kaplyn aan as stamgrond, maar eintlik is dit dieselfde as in die reservaat want hier’s geen heinings wat die diere inhou nie – dis wilde, ongerepte Afrika wat van hier af strek tot waar die Kalahari aansluit by die Namib.

Ná tien dae voel dit vreemd om weer op ’n teerpad te ry. Dis ook vreemd om verkeer en ander mense en geboue rondom jou te sien. Die grootste skat van die Kalahari is dit wat nie daar is nie: Dit wat ’n mens nie sien nie en ook nie wil sien nie.

Ek sak eerder weg in my kampstoel en staar heeldag na ’n groep versamelvoëls.

Sentraal Kalahari 12 Sentraal Kalahari | Na die middel van die mooiste woestyn

Bl. 8 | Ek wil ook gaan!

Ek wil ook gaan!

Wat kan ek daar sien en doen? Jy is in die een van die mees ongerepte wildernisse ter wêreld. Ten spyte van die reservaat se grootte is hier baie wild – hier is duisende gemsbokke en jy’s gewaarborg om leeus te sien. Hier is na beraming 300 leeus in die Sentraal-Kalahari. Hier is natuurlik ook luiperds, jagluiperds, hiënas en wildehonde.

Hoe lank moet mens bly? Dit hang af hoe diep jy in die reservaat inry. As jy by Matswere ingaan, by Deception bly en net rondom die kamp rondry, kan jy dit in ’n langnaweek doen. Ons was agt aande in die reservaat: vier aande by Passarge 3 en vier aande by Kori 4. Op dié manier kon ons rondry en groot dele van die reservaat ervaar.

Op watter soorte terrein sal ek ry? Die paaie is rof: jy het óf dik sand óf ’n hoë middelmannetjie. As dit reën, is hier erge modderkolle. Wees versigtig vir dorings in die pad en diep dongas, dikwels met water of modder gevul. ’n Mens ry maklik 100km per dag teen gemiddeld 30km/h.

Sentraal Kalahari 05 Sentraal Kalahari | Na die middel van die mooiste woestyn

4×4 of 4×2? Jy sal die grootste deel van die pad kan ry met ’n 4×2, maar die sandpaaie is so onvoorspelbaar soos die weer. Jy sal nie oral waar ons gery het met ’n 4×2 kan ry nie. Bly liewer in 4×4 op die “sagte dele”; die sandpad word vinnig sinkplaat. Dis dwaas om alleen te ry, al is jy in ’n 4×4. As jy in 4×2-bakkie gaan, moet jy beslis saam met iemand in ’n groot 4×4 ry.

Wat moet ek saamvat? Alles. Hier is geen geriewe nie. Genoeg water om te drink, te stort en skottelgoed te was. Koop genoeg vuurmaakhout en ys langs die pad – geen voorraad is by die toegangshekke beskikbaar nie, hoewel ’n mens vars water (gratis) by Xade kan kry. Onthou ook ’n saadnet, brandblusser, satelliettelefoon en ’n GPS met Tracks4Africa se nuutste kaarte.

Hoeveel brandstof moet ek saamry? Minstens 200 liter per voertuig vir ’n week in die reservaat. Koop brandstof in Botswana – dit is Suid-Afrikaans vervaardig, maar word baie minder belas en jy kan tot R3 per liter spaar.

Hoeveel kos dit? Teen P300 per persoon per nag is dit beslis nie goedkoop nie, maar jy kry ’n ongerepte boservaring soos min.

Wat as ek nie wil kamp nie? Hier is verskeie lodges in en rondom die reservaat. Tau Pan Lodge is geheel en al op sonkrag aangewese met ’n indrukwekkende sonpaneel wat al hulle yskaste, televisies en jacuzzi’s van krag voorsien.

Deception Valley Lodge bied ’n unieke geleentheid aan gaste om saam met Boesmans in die veld te kan loop en tradisionele danse en opvoerings te sien.

Die luukse lodges mik meer vir ’n oorsese mark, maar dis dalk net die ding ná ’n week van harde paaie ry en in die bos kamp.