Sentraal-Kalahari | Na die middel van die mooiste woestyn

Sentraal-Kalahari

Die Sentraal-Kalahari-wildreservaat is nie so ver van jou af nie, maar dis een van die mees afgeleë wildernisgebiede in Afrika. En ook een van die mooistes. Olof Bergh het vir agt dae die stadige lewe daar gaan lewe.

Ek is nog altyd mal oor die woord “Kalahari”, wat eintlik van Kgalagadi afgelei is. “Kgala” beteken “die groot dors” in Tswana en dis g’n geheim hoekom hierdie wye dorsland so genoem word nie. 

Die woord Kalahari proe sommer droog en stowwerig. As jy dit hardop sê, kan jy amper die sand en vlaktes op jou tong voel. 

En dit klink soos avontuur. Het jy al die veraf kyk in ou manne se oë gesien as hulle hiervan praat? Dis asof hulle voor hul geestesoog kan sien hoe die kampvuur nog smeul terwyl die nuwe dag bloedrooi oor die vlaktes breek. 

Die Kalahari is ’n geheimsinnige plek. Hier loop baie stories en legendes. Almal ken die stories oor die sogenaamde Verlore Stad en sy geheime skatte. Selfs die Boesmans verwys na ’n ou beskawing wat hier gebly het – hulle praat van die “ou mense”.

Baie fortuinsoekers se verbeelding is al hierdeur aangegryp en groot ekspedisies is al aangepak om die ruïnes te vind. Sommige van toentertyd se avonturiers het dit nooit terug gemaak nie. 

Baie het wel teruggekom met stories van die wind wat ’n antieke beskawing se murasies in die sand oopwaai, net om dit die volgende dag weer toe te waai. Niemand kon nog die koördinate vaspen nie.

Daar word nog jaarliks ekspedisies na die Kalahari gestuur om die Verlore Stad op te spoor, maar ’n mens vermoed dis vir die meeste hedendaagse deelnemers maar net ’n duur verskoning om whiskey langs ’n Kalaharivuur te drink.

In die somer lyk die Kalahari nie altyd soos ’n woestyn nie. In die reënmaande verander dit in ’n lowergroen paradys met groot troppe gemsbokke wat op die panne vergader wat in dié tyd ’n see van wuiwende gras is, blond en goud en hoër as ’n Land Cruiser se enjinkap. 

Vir die meeste Suid-Afrikaners is die Kalahari die rooiduin-bosveld wat iewers tussen Kuruman en Vryburg begin. Die grootste deel van hierdie dorsland lê egter in Botswana. Dit maak ook die wydste deel van die land uit, vanuit die suidweste tot bo in die noorde, waar die Okavangorivier in die sand uitsyfer. 

Die Sentraal-Kalahari-wildreservaat, diep in die binneland van Botswana, is een van die mees afgeleë plekke in die wêreld en vir alle praktiese doeleindes die middelpunt van die Kalahari.

Sentraal-Kalahari

Kommentare

Briljante artikel! Dankie, dis 'n puik oorsig wat reg laat geskied aan die onbeskryflike rykdom van 'n uiters spesiale stuk aarde. Ons het die Sentrale Kalahari gedurende Maart 2009 gedoen toe Tau-kampeerplek nog bestaan het. 'n Onvergeetlike wildernis-ervaring wat vergelykbaar is met die ongerepte weste van Tanzanië. Dankie vir 'n skitterende tydskrif. Groete. André Louwrens, Sentraal-Karoo(!)

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association