Sederberge | Eerlik, maar hard
Net ’n hanetree van Kaapstad is ’n wildernisgebied waar jy kan baljaar op grondpaaie wat teen kranse uitklouter, deur sandsteenberge bergfietsry of net ontspan, het Johan de Smidt agtergekom.
Tydens die lang winterreën het oom Diël van Langkloof skielik baie siek geword,” vertel Rika. “Tien dae lank het hy daar gelê – in die huis waar hy saam met sy vrou, kinders en kleinkinders gebly het. Toe eers kon hulle hom uitkry.
“Intussen het die vloed hul klei-oond weggespoel – dit was al manier hoe hulle kon broodbak, en hulle het maar min gehad om te eet.”
Rika du Plessis, Kaapse Natuurbewaring se reservaatbestuurder by Matjiesrivier, bly ’n rukkie stil en neem nog ’n sluk koffie voor sy verder gesels oor die karakters van die Sederberge wat sy die afgelope ses jaar leer ken het in hierdie wildernisgebied tussen die Kaapse Weskus en die Karoo.
Karakters soos oom Daniël “Diël” Veloen, in sy sewentigs, wat in Julie verlede jaar siek geword het tydens die onophoudelike winterreën, wat dikwels nedersettings in die Sederberge van die buitewêreld afsny.
“Hoe het hulle hom toe by ’n hospitaal gekry?” wonder ek.
“Nee, hy was dood.”
Welkom in die Sederberge: ’n eerlike wêreld waar daar nie doekies omgedraai word nie, en waar die dun lagie bogrond lyk of dit net die gehardste plante kan onderhou.
Rika vertel van ’n boerevergadering waar voorgestel is dat sederboompies bemesting nodig het. In haar antwoord het sy gesê die boompies het nie kunsmis nodig nie, omdat ’n “sederboom nie in k . . . groei nie”.
Nogtans, uit hierdie oënskynlike ruheid ontvou babapienk Maartlelies in die laatsomer ná die oorvloed lenteblomme, bad ’n fisantpaartjie en hul kuikentjies teen skemer in die stofpad en skarrel ’n skugter vaalribbokfamilie op teen die berghange.
Al hierdie kontraste dra by tot die Sederberge se bekoring, wat in die winter sneeukykers lok en dan skielik weens die vloede saam met die tientalle klein nedersettings langer as ’n week van die buitewêreld afgesny kan word.
En aan die einde van ’n lang, droë somer kan die uitmergelende son weer die gebied in ’n stofkom verander.
Inhoudsopgawe:
- Sederberge | Eerlik, maar hard
- Bl 2: Die berge in
- Bl 3: Kunstige grotbewoners
- Bl 4: Kersliedere in ...
- Bl 5: Stof tot stof
- Bl 6: Vinnige feite
Soortgelyke stories
Gewilde artikels




Kommentare
Pos nuwe kommentaar