Sederberge | Die Sederberge se stil(ler) kant

Op ’n onlangse besoek aan die Sederberge het sy agtergekom jy kan verdunde dassie-urine drink vir artritis.  Scarlett Steer het ook agtergekom sy ken nie die Sederberge so goed as wat sy gedink het nie.

Al weer die Sederberge? Ek weet wat jy dink – ek het ook so gevoel. Ek was al daar, het dit op my doendinge-lysie afgemerk en die foto van my voor die Maltese Kruis is op die yskas geplak.

Nes ek, het jy waarskynlik al onder die hoë bome in Algeria gekampeer, ’n tjoppie langs die Rondegatrivier gebraai, jou misgis met die afstand van die Wolfbergboog na die Wolfbergskeure, en ’n stap- of 4x4-roete of twee gedoen. 
Ja, die Sederberge se oeroue berge is dalk al gevorm nog voor die Dooie See sy siekverlofvorm ingevul het, maar hulle val nie eintlik meer in die kategorie van ongebaande weë nie. So het ek gedink …

Toe word ek saamgenooi op ’n be-geleide toer. Laat ek dit duidelik stel: Tot nou toe was ek effens lugtig vir enige soort begeleide toer. Net die gedagte daaraan roep beelde op van ’n 60-sitplekbus en purple rinses.
Maar binne net drie dae sou ek agterkom ek is op meer as een manier mislei.
Ek het ook besef daar is meer aan die Sederberge as voetslaanroetes en kampeer-uitstappies saam met die gesin.

Miskien is dit omdat ek nie een nie, maar twee gidse gehad het …

Rotsvas

Ons reis begin waar alle goeie Suid-Afrikaanse uitstappies moet begin – by die Wimpy.
“Die meeste mense loop die helfte van die Sederberge mis,” sê Jurgens Schoeman, een van die gidse, oor ’n hoop spek en eiers op Ceres.
“Jy gaan binnekort die ware Jakob sien,” belowe hy.
Douwe Vlok, die ander gids, skud sy kop bevestigend in stilte.

Ons drie dag lange verkenningstog van die Sederberge sal ons op grondpaaie neem na en deur die minder bekende oostelike deel van die gebied, onder meer plekke wat tot dusver vir my net kolle op ’n Slingsby-kaart was: ’n stuk wildernis in private besit, ’n geheime canyon, ’n plonspoel in ’n waterval en dalk een van die bes bewaarde passe wat met die hand gebou is.

Ná ontbyt en die koop van ’n stewige biltongvoorraad ry ons noord met die R303, op met Gydopas en deur Op die Berg. Net buite Op die Berg neem ons die pad na die Kagga Kamma-reservaat. Ná sowat 7 km met dié pad sal jy Boplaas aan jou linkerkant kry.

Dié geskiedkundige plaas (en geboorteplek van die Afrikaanse digter Boerneef) is in 1743 aan die eerste Van der Merwe toegeken en is al 12 generasies lank in dieselfde familie hande. Party mense beweer dis die langste dat ’n plaas in ’n familie se besit is.

Sowat 11 km verder aan vurk die pad en ons hou links na die eintlike Sederberge.

Hier groet jy die teer, en Jurgens se Land Cruiser 80-reeks kom tot sy reg.
Ons vat ’n versteekte grondpad wat uit die groter pad afskil en oor ’n droë bultjie verdwyn. Langs dié pad ry ons sowat twintig stowwerige minute tot ons by die eerste rotstekening kom.

Ons is nou op die plaas Jonkershoek, wat sowat 3 000 ha van die Suurvlakte-wildernis beslaan. Op dié plaas is ’n paar vreemde goed: ’n rotstekening wat die Abominable Snowman (in Afrika?) kan wees, ’n “dieretuin” van rotsformasies, onder meer die Sederberge se eie “kameel”, en groot sandboë wat jare lank deur die wind uitgekerf is.

Dis waar, verweerde rots en rotstekeninge is nie ’n nuwigheid in die Sederberge nie, maar om dit te sien sonder om in ’n ry te staan of ’n foto van iemand anders se gesin te neem, is dalk wel.

Maar die ding wat my voete onder my uitslaan, is die Riet-riviercanyon op die plaas. Hoe enigiets so kolossaal (party mense beweer dis die tweede langste canyon in die land) so goed weggesteek kan bly, is ’n wonder.

Aanvanklik het ek gedink Jurgens neem ons met ’n nou paadjie na nêrens toe die grond skielik wegval en ’n diep kloof besaai met hompe sandsteen sy kake onder ons oopsper.

In die harde daglig lyk die plek soos een van die patroonprente waarna jy moet staar tot ’n eenhoring of ’n hond met twee koppe veronderstel is om in 3D na jou spring. Dis duiselagtig.

Ons sit in salige stilte op ’n reuse plat rots en staar af na die groot plooi wat oor duisende jare in die aarde gevorm het.

Later, voor ons vertrek, hou ons stil by Koos en Adriette Mouton, eienaars van Jonkers-hoek, en die driebenige Tom begroet ons.

Hoewel Tom een van sy bene weens gangreen verloor het, probeer die swart labrador glo steeds om skaap te vang (met toevallige sukses).

Die Moutons gee ons ’n kort geskiedenisles oor hul plaas en verduidelik waarom die plek besoekers bly aanlok. Een van Adriette se sinne bly my die res van die reis by: “Mense kom om weer sin in die lewe te vind.”

Terug op die groter grondpad, draai ons noord en ry 13 km noord van Jonkershoek, oor die Blinkbergpas na Mount Ceder, bykans halfpad tussen Ceres en Clanwilliam, waar ons vanaand slaap. 

As jou idee van luuksheid ’n louwarm bier, gedeelde ablusiegeriewe en ’n nylonseil tussen jou en die elemente is, kan Mount Ceder se viersterverblyf jou dalk ietwat oorweldig: klipkothuise, houtdekke reg rondom, perdekampe en die Grootrivier wat daardeur vloei.

Ons kom laatmiddag daar aan en het net genoeg tyd om vinnig af te koel in die Grootrivier wat voor die kothuise verbyloop. ’n Uur later, nes die son begin sagter word, ry ons 16 km verder noord, op dieselfde pad waarmee ons van Jonkershoek gery het. Ons bestemming is die Stadsaalgrotte.

Maar eers hou ons stil by ’n paar groen-en-wit natuurbewaringshuisies om Rika du Plessis, reservaatbestuurder van die Cederberg-wildernis- en Matjiesriviergebied, op te laai.

Dis ’n goeie ding, want as dit nie vir haar was nie, sou ek nooit die verrassende waarheid oor dassie-urine gehoor het nie.

Die rotstekeninge in die Stadsaalgrotte skuil vir hul eie beskerming agter ’n neerdrukkende munisipale heining; ek voel veral jammer vir die okerkleurige olifante agter tralies. Dis nie hulle skuld dat hulle ’n toeristemagneet is nie, maar ongelukkig ontneem dit iets van hul betowering. 

Gelukkig het ons vir Rika by ons – haar vertellings van hoe die kunstenaars eeue gelede moes geleef het, laat kry sommer die tekeninge lewe.

Toe ons later in die vroeë skemer na Mount Ceder terugry, moet ek aan myself begin erken dat Jurgens miskien ’n punt beet het – dalk is daar inderdaad meer aan die Sederberge as wat ek vermoed het.

Kommentare

It's like you're on a mssioin to save me time and money!

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association