Savuti | Kniediep in die modder

Dit gebeur nie aldag dat jy twee mense teëkom wat te voet deur die Savuti-reservaat in Botswana stap nie – en dit nogal in die reënseisoen. Francois Visagie deel ’n buitengewone verhaal…
Dis amper middernag. Die flitslig van die man voor ons skyn heen en weer oor ons lywe en pen ons dan vas in die donkerte. Ons is sopnat en besmeer met modder. Te moeg om te praat.
“Wat maak julle so laat hier buite?” kom die stem vanuit die donkerte, net buite Savuti-kamp se personeelkwartier. “Waar’s julle papiere?”
Ons weet nie eintlik wat om te sê nie …want waar begin ’n mens om die drama van die afgelope 12 uur te verduidelik?

“Jy kan ons mos uittrek …”
Dit was omtrent twaalfuur die middag en ek en my verloofde, Lindy, was op pad terug kamp toe om iets te eet en daarna ’n middagslapie te vang. By Leopard Hill, sowat 10 km van die kamp af, het ons twee mense in die pad sien aanstap. Effe uit die veld geslaan het ons langs hulle stilgehou.
“Hi!” het die man ons gegroet met ’n breë glimlag. “I am David and this is my wife, Klara. We are from Czechoslovakia.”
Ons het onsself voorgestel en toe het David en Klara hulle verhaal begin vertel.
Hulle het die vorige dag gaan wild kyk en – op advies van Savuti se personeel – die sogenaamde moeraspad gevat. Hul gehuurde camper was egter nie mans genoeg vir die nat toestande nie en kort voor lank het hulle vasgeval.
Hulle het die hele dag geswoeg om die kampeerwa uit die modder te probeer kry en later selfs die aandag van ’n vliegtuig probeer trek, maar tevergeefs. Hulle moes die nag daar slaap. Die plan was om die volgende oggend die voertuig daar te los en te gaan hulp soek.
Klara het vertel hoe bang hulle was vir wilde diere. Teen dagbreek, gewapen met ’n GPS en ’n bottel water, het die paartjie begin terugstap kamp toe.
“The sunrise was so beautiful …,” het David vertel.
Ek en Lindy het met ’n rilling besef die deel waardeur hulle gestap het, is dieselfde plek waar ons vroeër olifantbulle sien baklei het.
Al hulle kamptoerusting was steeds in die kampeerwa. Ons het net ’n tweeman-daktent gehad en ons voertuig was propvol bagasie.
Ons kon hulle nie help met slaapplek nie.
“I don’t want to sleep in the marsh again,” het Klara gesê. “The car is at a crazy angle and I am scared.”
David het na ons Land Rover gekyk. “Your car can pull us out?”
Ons het al baie voertuie herwin, ons het ’n satellietfoon vir ’n noodgeval en kos vir ’n bataljon gehad. Hoe moeilik kon dit nou wees om hulle kampeerwa uit te sleep? Wel, ons was op die punt om uit te vind …

Bl 2: Tot die redding!
Tot die redding!
Lindy en Klara het hulle op die agtersitplek van ons volgepakte Landie ingewurm. Gelukkig het David die posisie van hul gestrande camper op sy GPS gebêre. Ons het die koördinate in ons s’n ingetik om die beste roete daarheen te bepaal.
Buite het dit katte en honde gereën en ons het sukkel-sukkel gevorder. Die modder was seepglad en plek-plek het die grond se kors onder die Landie meegegee. Ons het in die diep tweespoorpaadjies probeer bly, maar daar was géén vastrapplek nie. Dit het keer gekos of die agterwiele steek die voorstes verby.
So het ons teen stapspoed aangekruie, al stoeiende om die kar in toom te hou.
“Is this bad?” het Klara vir Lindy gevra.
“No,” het sy gesê.
Mettertyd het die geselsery begin opdroog en het dit stiller in die kar geword, behalwe wanneer ek elke nou en dan “Hou vas!” geskree het voordat ons deur ’n diep poel modder geploeg het.
“Is this bad?” het Klara weer vir Lindy gevra.
“No,” het sy geantwoord.
Skielik het die wiele in die modder begin tol. Ssshhh-ssshhh. Die Landie het op sy asse gelê. Vas. Oukei, almal klim uit.
Met ’n ligter vrag het die Landie maklik losgekom. Almal het teruggeklim, nou tjoepstil. Klara se vrae het ook opgedroog. (Waarskynlik het sy nie meer heeltemal geglo wat Lindy sê nie.)
’n Entjie verder …dieselfde storie. Ons sit vas, almal klim uit, maar dié keer klim niemand terug nie.
Dit het ons bykans drie uur gevat om die sowat 24 km na David en Klara se camper af te lê. En toe ons hul voertuig die eerste keer sien, het ek en Lindy letterlik na ons asem gesnak.
Die camper het op sy pens in die modder gelê, met die een kant dieper weggesak en teen ’n gevaarlike skuins hoek gekantel.
Ons was nie net kniediep in die moeilikheid nie, maar tot by ons kieliebakke.
“Is this bad?” het Klara vir Lindy gevra.
“Yes.”

Bl 3: Veels te diep

Veels te diep
David en Klara het darem ’n graaf en ’n sleeptou gehad, en ons ’n kinetiese strop, draagbare wen-as, sandsakke en sandlere – ’n skaflike arsenaal vir die probleem wat ons in die gesig gestaar het.
Die grond aan weerskante van die spore het ook taamlik vas gelyk. Ons het die Landie daar getrek, sowat 40 m agter die camper, die naaste wat ons kon staan sonder om self in die pappery weg te sak. Ons het die strop aan die sleeptou gelas sodat dit lank genoeg was om by die camper uit te kom … wat nie ’n sleepstang óf herwinningspunt gehad het nie.
Na ’n bietjie gesukkel het ons die sleeptou aan ’n kruisbalk op die onderstel vasgemaak. Klara het dapper agter die stuurwiel van hul voertuig ingeklim.
“Go!” het David gebulder. Ek het in trurat vet gegee en gevoel hoe die tou styf span. Vir ’n oomblik het die voertuie gebeur, daar was ’n harde slag en die Landie het agtertoe geskiet.
“It’s broken!” het Lindy en David geskree. Die tou het in slap krulle voor die Landie gelê. Genadiglik het ek die enjinkap voor die tyd opgeslaan.
“Wat het gebeur?” “Hoekom het dit gebreek?” “Wat gaan ons nou doen?” Almal het gelyk gepraat.
Gelukkig kon ons die tou las, maar die tweede probeerslag het nes die eerste een geëindig. Nog nooit vantevore het ek ’n sleeptou gesien wat sommer net breek nie. Ek kon my oë nie glo nie.
Dit blyk toe dat die kampeerwa se veselglasbakwerk ’n skerp randjie aan die onderkant het wat doodeenvoudig deur die sleeptou gesny het. Ons het toe maar onder die camper ingekruip om ’n laer punt te kry waaraan ons die tou kon vasmaak.
Die derde poging het niks buiten tollende wiele opgelewer nie. Die spanning was tasbaar.
“We must try again!” het David angstig aangepor.
Die Landie se dieselenjin het gebrul en doodgeruk. Die camper het nie eens geroer nie.
“Wait, I look,” het David geskree. Hy het onder die agterkant van sy voertuig ingewurm.
“No more pull!” het hy gegil en gewys na waar die tou aan die onderstel vasgemaak was. Die camper se raam was besig om te buig.
Ek het ook gaan kyk, maar daar was geen ander hegpunt onder hulle kar nie. Ek kon hulle dus ook nie met die wen-as probeer uitsleep nie.
Geen herwinningspunte, geen sleepstang, ’n lae bakwerk, ’n sagte onderstel. Wat nou?

Bl 4: Deursettings …
Deursettingsvermoë vs. weerstand
“Why we don’t dig? We push! You drive!” het David voorgestel.
Klara het verslae gelyk, Lindy moedeloos en ek … wel, ek het geweet ek sou nie tou opgooi totdat absoluut alles probeer is nie.
Ons het die spore agter die kar met die graaf gelyk geskraap en ’n paar takke onder die wiele ingedruk. Modderige hande was gereed op die enjinkap.
“Een, twee, drie … stoot!” Niks. Hoe kan dit wees? Ek het die camper se bande bekyk. Goeie hemel, pad bande!
Teen hierdie tyd was almal geestelik en fisiek uitgeput. Die son het al laag gehang, die humiditeit was oorweldigend en niemand het sedert die oggend iets te ete gehad nie.
Ons het koppe bymekaargesit en besluit om die wen-as se kabel onder die camper se as en dan na die onderstelsybalk te laat loop. Die wen-as self het ons aan die Landie se bosbreker vasgemaak. Die kabel was te kort, maar ons het dit met die sleeptou langer gemaak. As ’n voorsorgmaatreël is van die oorblywende stukkies gebreekte tou om die kabel en tou gedraai.
Ons het die enjins aangeskakel en die Landie se enjinkap oopgemaak. Met die afstandbeheer van die wen-as in die hand het ek agter die oop passasiersdeur gaan skuil, van waar ek vir David kon sien. Ek het die knoppie vir ’n kort rukkie ingehou om die kabel styf te trek.
“Ready?” het ek uitgeroep.
“Yes!” het hy bevestig.
“Go!” het ek geskree, en die wen-asknoppie ingedruk.
Nnnnggggnnnngggg. Die wen-as was goed aan die gang. Skielik is ek van agter af gestamp. Dit was die deurraam van die Landie. Dis ons kar wat gesleep word!
“Stop! Stop!” het ek geroep.
“Wat gaan aan?” “Dit werk nie!” “Wat gaan ons nou doen?” “Waarom kan ons nie uitkom nie?” ’n Babelse verwarring.
Ek kon net aan een ander oplossing dink. En as dít nie wou werk nie …
Ek was effe huiwerig om dié troefkaart te speel, maar nou ja. Ek het ’n koevoet uitgehaal en dit in die grond ingekap tussen die Landie se een voorwiel en die bosbreker om die voertuig te anker. Ons het een wielblok gehad en dit het ek voor die ander voorwiel ingedruk.
Almal het geweet dis ons laaste kans.
Ek onthou bitter min. Ek het die wen-as se knoppie gedruk en daar was ’n geraas … en skielik het almal gejubel en mekaar omhels. Die kampeerwa was op vaste grond!
“Thank you! How can we repay you?” David en Klara se vreugde het oorgeborrel. “You come visit us in Prague! We buy you tickets!”

Bl 5: Nag, ou grote

Nag, ou grote
Die vreugde was van korte duur … Ssshhh. Binne ’n paar minute het die camper weer in die modder weggesak.
Gelukkig het ons nie die wen-as weggepak nie. Ons het besluit om David en Klara daarmee te tou. Hierdie keer het hul voertuig sonder ’n groot gesukkel losgekom, maar weer nie lank nie.
Die son was nou al amper onder en die erns van ons situasie het aan ons gevreet.
Ek het voorgestel almal stoot terwyl David bestuur. ’n Uur later het ons daarin geslaag om hulle kar om te draai.
Die son was al onder en ons het uiteindelik in die pad val, met Lindy wat die camper se vordering agter ons in die truspieëltjie soos ’n valk dophou.
“Uh, liefie, hulle kom nie meer nie,” het Lindy na skaars 30 m gesê. Haar stem kon nie die paniek verbloem nie. Agter ons word hoofligte geflits. My moed sak in my skoene.
Ons maak die sleeptou aan hulle voertuig se bosbreker vas en probeer om hulle na harder grond te trek.
“Probeer bietjie vinniger ry wanneer jou kar vastrapplek kry,” stel ek aan David voor.
“Maybe I drive through bushes? There will be more traction,” stel hy voor.
Voor my geestesoog sien ek hoe die camper die bosse in verdwaal. “No, I am not sure that it’s better in the bushes,” sê ek.
Ons begin weer ry en wag vir David en Klara om te volg. Skielik vang my oog ’n beweging: Die camper wat met bokspringe deur die bosse langs die bospaadjie aangehop kom.
Ek gee vet om voor hulle te bly, maar dit is onnodig. Binne sekondes is hulle weer vasgeval en die keer – so lyk dit – gaan ons hulle nie los kry nie. Dus is daar geen gelukkige einde nie. Nie vanaand nie.
“We stay here tonight,” klink Klara se bewerige stem in die donker op.
“Maar ons kan julle nie hier alleen los nie!” sê ons.
“No, we stay. You get help,” sê David en sit sy arm om sy vrou.
Ons het die camper na ’n harder, platter stuk grond getrek en met ’n swaar gemoed vir hulle ’n kan water gegee.
Dit was aaklig om David en Klara alleen en weerloos agter te laat. Ons het in ons truspieël gekyk totdat ons hul dowwe figure nie meer kon sien nie.

Bl 6: Pasop
Pasop: Olifante!
Die bospaadjie was in ’n aaklige toestand en ons kon skaars die spoor van die pappery onderskei. Teen ’n slakkepas het ons verder aangekruie.
Toe … Ssshhh. Ons was weer in die moeilikheid. Trurat, koppelaar uit … niks. Weer … niks.
“Ek sal moet grawe.”
“Jy kan nie in die donker uitklim nie!” het Lindy gemaan. “Wie weet wat is daar buite!” Ek het die enjin afgesit sodat ons na die naggeluide kon luister.
“Laat ek ten minste help,” het sy gesê en ’n kopflits gegryp.
Ons kon darem min of meer onderskei tussen grond, modder en water. Ek het rondgegly en gestrompel, en myself probeer troos dat geen dier met selfrespek vir so ’n modderbesmeerde maaltyd sal kans sien nie.
Ná wat soos ’n ewigheid van grawe gevoel het, het ek in die kar neergesyg, my arms en bene soos lood.
Vir die volgende paar kilometer was die enigste geluid die sagte gedreun van die dieselenjin.
In die weerkaatsing van die instrumentpaneel kon ek sien hoe afgemat Lindy is.
Toe val ons vas. Rêrig vas.
Terwyl ons die omvang van ons benarde situasie probeer begryp, het vae beelde en woorde by my opgekom: afgeblaasde bande, sentrifugale krag, ballon-effek, dun lagie water, verminderde wrywing … Woorde so reg uit ’n wetenskapfiksieboek, maar vir my moeë verstand was hulle tekens van hoop.
Vergeet heeltemal van vastrap en geleidelike versnelling en al daardie dinge.
Maksimum spoed is wat nou nodig is. Derde rat, laestrek. Trap die petrol diep, laat kom die clutch vinnig …
Die enjin dreun, die wiele tol, die kar begin vibreer, die lawaai is oorverdowend, en net toe dit begin voel of die enjin gaan ontplof, lig die Landie homself uit die modder, skiet vorentoe en begin jaag, gly-gly oor die modder. Ons is uit!
Skaars was ons terug op die spoor of ’n groot, grys voorwerp doem op aan ons
regterkant, 15 m van die spoor af. Olifant! Met kele toegetrek van angs, ry ons verby.
“Daar is nog een!” fluister Lindy. “En nog een!” My regterbeen begin bewe en dis moeilik om dit op die versneller te hou.
Net verby die laaste olifant begin die omgewing bekend te lyk – ons is amper
waar die moeraspad en Sand Ridge Road bymekaar aansluit.
Omtrent 30 km en drie uur later, nadat ons Klara en David in die bos gelos het, kom ons by Savuti-kamp aan. Ons wil dadelik hul benarde situasie aan die kamppersoneel rapporteer.
Gelukkige einde?
“Wat maak julle so laat hier buite? Waar’s julle papierwerk?” Die hekwag is duidelik baie omgekrap.
“Meneer, luister,” begin ons nadat ons hom verseker het ons is wettige besoekers, “daar’s mense wat dringend hulp nodig het!”
Ons beskryf David en Klara se posisie en situasie aan hom.
Die man beduie met sy hand. “Sien julle die 4×4-trekker daar anderkant? Ons sal hulle môre daarmee help. Moenie bekommerd wees nie, gaan slaap nou.”
Wonderlike woorde! Verligting spoel oor ons.
Ek is vroeg die volgende oggend by die kampkantoor. Dieselfde man is aan diens. “Die trekker ry eers die rommel weg uit die kamp. Ons sal daarna gaan help.” Ek sukkel om my humeur te beteuel.
“Mense se lewens is op die spel!” Ek is ontsteld en gefrustreerd en probeer om nie te skree nie. Hy deel duidelik nie my kommer nie.
Ons wag vir bevestiging dat die trekker wel weg is om vir David en Klara te gaan help, dan vat ons die pad Kasane toe. Later vertel ander reisigers hulle het gesien die trekker ry in die rigting van die moeras.
Ons reis verder, hoewel ons die heeltyd aan David en Klara dink. Daar is steeds geen amptelike bevestiging dat hulle veilig is nie.
Een middag, net toe ons 90 km duskant Noordoewer in Namibië van die pad af trek met ’n rokende waaierband in hitte van 43°C, kry ons ’n SMS. Dis Klara!
Hulle het gewag en gewag, maar niemand het opgedaag nie. Die trekker kon hulle blykbaar nie opspoor nie. Uiteindelik het hulle besluit om nie langer te wag nie.
Hulle het sonder hulp uit die moeras gery: Eers het hulle te voet die hardste stukkie grond gesoek en dan versigtig van graskol na graskol gery. Die 30 km na Savuti-kamp het hulle 6 uur geneem.
Kort nadat ons weer by die huis is, kry ons ’n e-pos van Klara – hulle beplan al klaar hul volgende reis. Afrika toe.
Oorspronklik gepubliseer in WegRy #9 | Okt-Nov 2008
| WR_Savuti.pdf | 1.4 MB |






