Pin It

Richtersveld | Die pad na die Richtersveld (en ander verhale)


Picture20

Seerowers, diamante, donkies, bokke, matjieshuise, rotse, rivier, vygies, kappies, baie groot slange, volstruise en ou mans. Die Richtersveld is dít alles, en nog meer, sê Chris Marais. En moenie vergeet van die wêreld se raserigste yskas en die vrou wat op ’n aardige manier gesoen is nie.

Reg, verbeel jou jou tasse is gepak. Klim in op die agtersitplek van my bakkie – wees net versigtig vir die kameras. Ek gaan jou saamneem op ’n reis na die Richtersveld, wat pas verklaar is tot ’n Wêrelderfenisgebied. Nogal ’n ding.

Ons gaan allerlei dinge ontdek – nuttige feite en nuttelose sweempies van bewerings. Jy gaan ’n paar windmakerige karakters teëkom en soms wakker word op plekke waaroor jy nog maande lank sal droom.

Maar voor ons wegtrek, laat ek jou eers vertel van die Vrou Wat Geval Het. Die een wat ons op Vanrhynsdorp, op pad Richtersveld toe, gesien het.

Jules, my vrou en reisgenoot, het haar buite die kafee van die vulstasie gesien waar ek ons stowwerige grys Isuzu vol diesel gegooi het. Dis die klassieke 2,5 liter-model wat in 2003 uit die fabriek gerol is. (As ek nou begin, sal ek teen Julie Mongolië haal in dié skoonheid. Betroubaar is haar ander naam – en dit is nie ’n geborgde opmerking nie.)

“Jissie, jy moet die stomme vrou sien,” het ’n effens kort-asem Jules gesê toe sy my die biltong, Fritos en Coke (deels die rede waarom ek reis so verslankend vind) aangegee het. “Dit lyk asof sy probeer het om ’n dorsmasjien oopmond te soen.”

Die arme vrou het iewers in die Richtersveld baie sleg geval – in die middel van die bloeityd van die blommetyd. Ons het probeer help, maar daar was heelwat mense om haar terwyl sy met bewende hande probeer het om ’n sigaret aan te steek.

Maar bêre nou eers dié prentjie in die agterkop en kom ontmoet vir Jopie Kotze, die eksentrieke uitgewer van Springbok.

Volstruise, stof en diamantmyne

Die afstandmeter was ’n paar honderd kilometer ouer toe ons Springbok binnegery het, ’n vreeslik bedrywige en belangrike dorp in die blommetyd. In die draaikolk van hierdie gelukkige geroesemoes is die Springbok Restaurant & Lodge.

En in sy bevelsentrum, met ’n 180 grade-uitsig oor die eetplek, boekwinkel, besprekingskantoor en wegneemhoekie, het ons die legendariese Jopie Kotze aangetref.

Jopie, in wie se bloed die diamantlegendes van die Richtersveld dik loop, gee boeke uit waarvoor ander te bang is, sit ’n meneer van ’n steak voor en besit geel-en-wit huisies waarin 210 toeriste kan bly “as jy hulle behoorlik opstapel”.

Daarna het ons verder gery, langs die N7 op met ’n oorvloed van wilde donkies langs die grootpad, vinnig ingeloer by die Creamy Games Shop op Steinkopf, oor die lekker Anenouspas geseil, en toe die reguit stuk na Port Nolloth gevat en oeps! … ’n man wat met sy hande in die lug staan en desperaat lyk.

“Ek het van Swakopmund gery, Meneer, maar die fuse connection moet ge-fix word en ’n mechanic kom uit maar ek het nie geld om hom te betaal nie, ag Here asseblief tog Meneer …”

Toe hy begin om die Here se naam in te sleep het ek hom gestop. “Hoeveel?”
“R120.”

Ek het hom die geld gegee.

“En asseblief Meneer, vir my vrou daar anderkant, kan ek ook ’n bietjie water kry?”

Dit was sy gelukkige dag. Hy het weggestap met ’n vyfliterbottel water en ’n hand vol kontant. En weer die bidposisie ingeneem. “Ek kan nie glo ’n wit man het gestop nie. Gewoonlik is dit net die swart mense …”

Port Nolloth lyk gewoonlik soos ’n dobbelhuis onder ’n grys tafeldoek van mis. Toe ons daar aankom, het dit soos ’n dobbelhuis in helder sonlig gelyk.

Ons het reguit na die Bedrock Cottages gery, ’n plek wat seevaarders se hart vinniger sal laat klop. Dit het gelyk en gevoel asof Robert Louis Stevenson en die opperseerower Kaptein Kidd langs ons moet bly.

Sonder om verder tyd te mors het ons saam met ’n paar plaaslike vriende uitgegaan en stories gehoor van diamantduikers waaroor iemand nog ’n boek moet skryf. En ’n vrou ontmoet wie se broer die soort siekte het wat my werkloos sal laat.

“Hy is net een van drie mense in die wêreld wat epileptiese aanvalle kry as hy aan enige vorm van ink blootgestel word,” het sy ons oor ’n glas wyn of twee vertel. “Boeke, koerante, dit maak nie saak nie.”

Ná nog ’n partytjiesessie met die diamantduikwêreld van Port Nolloth en ’n diepe slaap by Bedrock, het ons die volgende oggend aangestoot na Alexan-derbaai, die myndorp waar mans nog van diamante droom en die duiwe versigtig vlieg.

Die voëls is maar skrikkerig, want sedert hulle betrap is dat hulle met klein sakkies diamante uit die afgesperde diamantgebied gevlieg het, is hulle uit die lug oor Alexanderbaai afgeskiet.

Daarna het ons die Groot-dermgrondpad langs die Oranje-rivier getakel, heelpad tot by Cornellskop, genoem na my gunstelingprospekteerder, Fred Cornell, wat nooit ’n diamant in sy hele salige lewe gevind het nie, maar die fabelagtige en roerende boek The Glamour of Prospecting geskryf het. En jy-weet-wie het dit uitgegee.

Dis ’n vermaaklike reisboek wat gaan oor sy wedervaringe in dié droë streek, oor hoe hy geslaap het net waar hy sy kop neergelê het en hoe hy met ’n immer winderige medeswerwer moes saamleef.

Langs die pad was dit volstruise, stof en diamantmyne net waar jy kyk, met darem ’n stukkie kronkelende rivier tussenin en massiewe pers berge aan die Namibiese kant van die rivier.

Jimi Hendrix op RSG

Later het ons aangekom by die Sendelingsdrifkamp, die ingang na die Ai-Ais-Richtersveld-oorgrenspark.

Ons chalet was ’n oulike sink-en-hout-ensemble waaroor ons mal was. Die drie-uur-in-die-oggend yskasgeraas was nie so gewild nie. Stel jou voor: die geluid van ’n klomp jillende ape in harmonie met ’n peloton Russiese soldate wat op sneeu marsjeer. En om die kroon te span, ’n olifant wat aan ’n plastieksak stik.

Ek het opgestaan en probeer om ’n einde aan die kakofonie te maak deur die prop uit te trek, maar kon nie die muurprop kry nie. Dit was amper soos die eiesinnige rekenaar Hal in 2001: A Space Odyssey. Net tot die oggend, natuurlik, toe Jules die probleem kon regdokter.

Die vreemde ding van ons chalet was dat dit net langs die plek was waar die Vrou Wat Geval Het, geval het. Ons het die storie daar opgetel: Sy was op ’n toer vir senior burgers, het ’n drankie of twee gedrink, van haar chalet se balkon getrap, geval en op ’n heining doer onder te lande gekom.

Sy is die volgende oggend daar aangetref. As dit ’n paar grade kouer was, sou sy nie oorleef het nie.

Die park was soos ’n droom wat jy op geen ander plek ter wêreld sal aantref nie – hulle kan my vandag, môre of oormôre as ’n natuurbewaarder daar aanstel.
Ons en die Isuzu het oor die grootste deel van die park gery, ons pad onverskrokke en dapper oor die ontsagwek-kende, klipperige passe gevind en aan die uitsig na onder verkyk. Plat op ons mae het ons ons verlustig in die vetplantblomparadys op die wit rotse.

Ons het die God se Hand-klip en die Akkedispas gevind, en teen die tyd dat ons by die Koeroegab-vlakte gekom het, moes ek eenvoudig vir Jules in ’n veld vol geel blomme soen. Daar is dit, in swart op wit – ek soen my vrou dikwels as ons reis. En soms soen ek ook my ou Isuzu.

Op Helshoogte het ons die skaars Pearson-aalwyn gekry, in hul menigte soos ’n brigade vuilerige keiserpikkewyne wat op die punt is om die v
allei onder hulle in te val. Die plek het my in die palm van sy hand gehad.

Die hoofnatuurbewaarder Andy Davies het ons op van die agterpaaie geneem, deur massiewe, loodregte, gekartelde, fier en (het ek gesê massiewe? Enorme) berge wat in pers, kersie, donker leer, bruinrooi en bokleer in die middagson gegloei het.

Hoe verpes ek nie die letsels wat die mynbedrywighede gelaat het nie – en geen rehabilitasie van enigiemand sal dit ten volle kan herstel nie.

Daardie aand het die reën hard geval. Jy wil nie onverhoeds in ’n blitsvloed daar betrap word nie – in ’n noodgeval sal jy ’n blitsvriendskap met ’n myn moet aangaan; dis die enigste werklike mediese hulp in die omtrek.

En terwyl die reën op ons chalet se sinkdak neergeplons het, het Jimi Hendrix op Radio Sonder Grense begin speel. Ons het killer rummy gespeel en ’n heildronk gedrink op die beste droë wildernis in die hele wêreld.

Bl 2: “God wil dit …

“God wil dit nie hê nie”

Die volgende dag het ons op Kuboes aangekom en oom Andries Joseph ontmoet. Hy was redelik gretig om toeriste “asbrood en potbrood, vleis en stampmielies” te voer en hulle te leer oor “Jan Twakblaar vir die pyn”. Vir hom beteken ’n Wêrelderfenisgebied op sy voorstoep hy kan met die eiesoortige kultuur van die Richtersveld by mense van buite spog.

Kuboes se toerismekantoor was toe, maar dit was bemoedigend om te sien dat die pos van toerismedirekteur geadver-teer word. Oom Andries het gesê hy stel dalk belang.

Klaas Phillips en Jakob Joseph, twee neefs, het gesê hulle sal nie daarvan hou as die Wêrelderfenisgebied hulle van ’n inkomste uit mynbou ontsê nie.

Ons het ’n blyplek gekry, net buite die dorp in ’n gemeen-skapsgastehuis tussen ’n paar bome. Die bestuurder het vir ons ’n ketel en ’n emmer gegee om-dat ons geiser “op die koffie” was.

Ek dink sy wou net nie elke dag die ent na die gastehuis stap om die vier eenhede se geisers na te gaan nie. Later het sy my verseker “al die geisers” is stukkend. Ag wat.

Daardie aand het ’n wind so sterk soos Adriaan Nieuwoudt se oorredingsvermoë deur die vallei gestorm, en ek moes gereeld buite gaan kyk of die bakkie nog nie op pad Kansas toe waai nie. Maar dit het stewig bly staan.

Die volgende dag het ons die pad na Lekkersing gevat, waar ’n interessante kêrel, Koos Stoffel, ’n lang man met ’n cowboyhoed, ons in die dorp rondgeneem het om sy vriende te ontmoet. Ek reken hy kan ’n hele paar rand as toergids verdien net deur sy vriende aan die wêreld bekend te stel.

Koos het ons gehelp om ons bagasie uit die bakkie na ons blyplek te dra. “Sjoe, julle reis nogal swaar,” het hy gesê terwyl hy ongevraagd ook my kamerasak ingedra het. Sy oë het gerek toe ek dit terugdra na die bakkie.

“Ry julle al weer?”

Oom Andries Isak, ’n Bosluis-baster (soos die afstammelinge van die Koi-Koi en wit Kaaps-Hollandse inwoners genoem is), was oor die trappies van sy voorstoep gedrapeer. Hy het die dag met oorgawe ingeasem met ’n breë glimlag op sy skraal gesig.

’n Entjie in die straat op het ons tannie Magrieta Cloete teëgekom. Sy het ’n tradisionele kappie gedra en het my hart bly gemaak. Toe begin sy vertel van roosterkoek en melkkluitjies, en my mond het nie ophou water nie.

Haar buurvrou, Johanna Diergaardt, het vir ’n foto ge-poseer terwyl haar kleinseun Roman aanhoudend probeer het om ook op film verewig te word. Tannie Johanna, wat nverbasend baie soos die Ameri-kaanse Cherokees lyk, het nog nooit haar hare gesny nie.

“God wil dit nie hê nie.”

Daarna was dit die beurt van oom Joseph Fieland, wat nes die akteur en regisseur John Huston lyk, en sy vrou, tannie Regina. Sy het ook ’n kappie gedra, en hulle het ons meer vertel oor die lief en leed van bokke oppas in die veld.

Ons dag het geëindig met ’n sonsondergang by ’n leiklipmyn wat oor die dorp uitkyk, met Koos Stoffel wat ons patrone in die klip uitwys en die Jantjie Berendplante (ook bekend as die kankerbossie) wat jy vir maagkwellinge gebruik.

En ek het gedink aan roosterkoek en melkkluitjies en boerewors wat net reg gebraai is en asbrood en potbrood en stampmielies  … En dankie tog vir Jantjie Berend.

“Daai blerrie bakkie”

Die pragtige Volenti van der Westhuizen van die toerismeinligtingsburo op Eksteenfontein het die volgende dag gemaak asof sy nie my vuil kortbroek raaksien nie. (Ek het op my maag rondgekruip om ’n paar sexy vetplante op ’n kwartsheuwel van nader te leer ken.)

Volenti het ’n polisiehond met die naam Sipho, en hy volg haar net waar sy gaan.
Sipho het buite die huis van die Uyse gelê en wag terwyl ons binne sit en geleer het oor die geskiedenis van die merkwaardige “bastermense” wat honderde kilometers van Boesmanland geskuif is om in ’n onherbergsame wêreld met berge, klippe en ylheid te kom leef.

Maar hulle het by die Richtersveld aangepas en dit is nou bitter na aan ’n perfekte plek vir hulle.

Nou trap die wêreld, sy neef en sy agterkleinniggie ’n paad-jie oor hul drumpel, meer as 50 jaar nadat die gemeenskap hulle uit die oog geskuif het vanweë hul gemengde bloed.

“In die ou dae wou die wit mense niks met ons te doen gehad het nie,” het Dirkie Uys met ’n satiriese glimlag gesê. “Nou lyk dit my hulle kan nie genoeg van ons kry nie.”

Die laaste keer dat enigiemand in Eksteenfontein soveel aksie van buite gesien het, was toe die bekende Isuzu-advertensie (“daai blerrie bakkie”) in die dorp verfilm is en almal ’n dag lank regisseur gespeel het.

Ons uitsonderlike reis na die beste plek in Suid-Afrika het die volgende oggend geëindig met ’n rit na die Wêrelderfenisgebied om ’n veepos in aksie te sien.
Oom Kous Joseph en sy vrou, tannie Sarah, het net ’n groot trop bokke klaar gemelk toe ons vroegoggend opdaag. Reg deur die onderhoud en die fotosessie het tannie Sarah ’n melkemmertjie bly vasklou.

Hul lewe lyk eenvoudig en wonderlik: melk bokke, drink tee en eet brood vir ontbyt, oom Kous wat saam met die bokke die veld in loop terwyl tannie Sarah aan haar kwilts werk en kos maak.

Die onlangse hoogtepunt van hul lewe was toe hulle in Namibië met ’n bus rondgekarwei is om die Namas daar te leer hoe om matjieshuise
van riete en houtrame te bou.

Maar as jy hierheen kom en hulle besoek, kyk net rond na die wonderlike wildernis wat hulle elke dag van hul lewe inasem.

En hoop met albei duime vasgeklem dat die ontwikkelaars van hierdie wêreld nog nie die artikel gelees het nie …

OP TOER

Waar bly ek?

  • Port Nolloth Bedrock Cottages 083 259 8865; 017 851 88 65/71
  • Sanparke (algemene besprekings) 012 428 9111; 
    reservations@sanparks.org

Nog kontakte?

  • Kuboes-inligtingsburo 027 831 2095
  • Lekkersing-inligtingsburo 027 851 8580
  • Eksteenfontein-inligtingsburo 027 851 7108
  • Ai-Ais-Richtersveld-oorgrenspark 027 831 1506
    (parkbestuurder en ontvangs);richtersveld@sanparks.org;
    www.sanparks.org/parks/richtersveld/

 

WR_Richtersveld Extra.pdf 619.5 KB
WR_Rightersveld.pdf 704.5 KB