Op ’n Harley deur Baviaans

Die pad deur die Baviaanskloof is een van dié roetes om jou voertuig tot die uiterste te beproef.
Dit loop deur een van die laaste ongetemde wildernisgebiede in Suid-Afrika, met ’n ongekende natuurskoon. Maar as die riviere afkom, is die pad nog moeiliker begaanbaar.

Diep rivierdriwwe, steil op- en afdraandes met groot dongas en heelwat onvoorspelbare padoppervlakke is ’n paar van die uitdagings wat jy moet trotseer.

Ek en twee vriende, Frans Smit en Pieter Mouton, ry gereeld op ons avontuurmotorfietse op veldrypaaie.
 Nog ’n vriend, Ricus Serfontein, ry ’n Harley-Davidson, en toe ons ’n ruk gelede skerts dat dit jammer is hy kan nie saam met ons die veldroetes van die land verken nie, het hy dit nie as ’n grap gesien nie.

Dit het die saadjie geplant vir ’n uitdaging, en ’n ruk later het ons ’n uitnodiging gekry vir ’n rit deur Baviaans. Wat begin het as ’n grap, het nou ’n werklikheid geword …

In ’n ander wêreld

Ons epiese tog begin op 11 Junie by Mosselbaai op twee BMW 1200 GS’e, ’n Yamaha 660 Ténéré en Ricus se Harley-Davidson Fat Boy.

Die eerste deel ry ons teerpad, en draai hier en daar van die N2 af. Sonder probleme kom ons daardie aand op Patensie aan, ons oornagplek omdat ons besluit het om die Baviaanskloof van oos na wes te ry. (As die Harley nie kon deurry nie, was die pad terug teerpad toe korter.)

Saterdagoggend vroeg pak ons die Baviaans in alle erns. Dis ’n pragtige oggend, ideale motorfietsweer, en van die eerste oomblik af is die omgewing oorweldigend. Ons voel so opgewonde soos kinders.

Ná sowat 10 km hou ons stil, en Ricus pink eers ’n traan weg oor al die stof en modder wat op sy Harley begin saampak.
Ná ’n bietjie troos van die ander drie “geharde grondpad¬ryers” spring ons weer weg, want hoe erg kan dit nou wees?
Min het ons geweet wat voorlê …

Ná ons by Komdomo deur die reservaathek is, het die opdraandes begin. In ’n stadium het ek begin twyfel oor die wenslikheid van ons besluit. Ons drie “veldryers” het ’n paar beterweterige blikke gewissel en net ons koppe geskud vir hierdie raserige gedoente so na aan die grond dat dit hier en daar skaars oor die gate, klippe en rotse gery het.

Stadig maar seker is ons die Combrinkspas op, en ons het kort-kort stilgehou om die uitsig te bewonder. (Of moet ek eerder sê dis van moegheid van klou aan die handvatsels?)

Oral is daar blinde hoeke en loodregte afgronde wat onheilspellend vir jou loer, so al asof dit jou uitnooi om jouself in sy diep bek af te gooi …
’n Paar keer kom ons amper ons moses teë met voertuie van voor af, maar uiteindelik is ons bo-op die berg.

Ons hou anderkant Bergplaas se afdraai stil, en skielik voel dit of ons in ’n ander wêreld is met die uitsig van die golwende grasvlaktes voor ons.
Die pas af is egter ’n perd van ’n ander kleur. Hoewel daar duidelik aan die pad gewerk was, is dit steeds ’n gestoei om uit die gate te bly en op die meer gelyke deel van die pad te ry.

Tussendeur moet jy oppas vir die afgrond en die los klippe ontwyk – en dan is jy ook veronderstel om die natuurskoon te bewonder!
Ek ry op die ligste fiets van die vier, en sukkel om nie te gly nie. Ek kan egter nie my vlag laat sak nie – hoe sou ons as “avontuurryers” dan lyk as ek teenoor Ricus moet erken dat dit maar ’n gesukkel is?

Voor ons ons egter kon kry, en in ’n baie korter tyd as waarvoor ons beplan het, is ons onder. Hier kry ons ’n paar 4x4-voertuie wat met verwondering na die Fat Boy-gedoente kyk. (Stilweg was ek meer bekommerd oor party van hulle.)

 

Kommentare

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association