Oostelike Sederberge | Dassiepiepie, 4×4-roetes en ’n gietysterbad

In die ruwe oostelike deel van die Sederberge (of die Rooi Sederberge, soos die plaaslike mense daarna verwys) het Deryck van Steenderen op ’n wondermiddel afgekom, agtergekom duur bande is die geld werd en ’n goeie kaart ononderhandelbaar.
Ek is nie naastenby familie van Darwin nie, maar ek is oortuig daarvan dat snork ’n evolusionêre meganisme is om wilde diere af te skrik.
Danksy my reisgenote op ’n besoek aan die oostelike Sederberge is hierdie revolusionêre evolusionêre teorie deeglik getoets… en dit werk. Vier nagte lank het ons (hulle) onder die sterre in luiperdland geslaap, maar soggens was daar geen spoor van spore om ons kamp nie.
Ek was natuurlik salig onbewus van hierdie unieke selfverdedigingsmeganisme toe die toergidse Chris McDuling en Philip Sackville-Scott my saamgenooi het op ’n avontuur om ’n roete uit te lê wat verskeie 4×4-roetes in die Sederberge aaneenskakel. Die plan was om die minder bekende oostelike Sederberge te verken – die deel wat grens aan die afgesonderde Ceres-Karoo en Tankwa-Karoo.
Vyf dae, vier (slapelose) nagte, amper 900 km en ’n behoorlik verkwikte siel later het ons ’n nuwe evolusieteorie bewys, die genesende eienskappe van dassiepiepie ontdek, ’n Duitse egpaar ontmoet wat ’n afgeleë plaas gekoop het nadat hulle gedink het dis naby Somerset-Wes, ’n 200 jaar oue turksvybos gesien, en vasbyters teëgekom wat steeds boer soos ’n eeu gelede.
O ja, ons het ook ernstig uitdagende roetes gery, en onsself gate uit geniet.
Bladsy 2: DAG 1
DAG 1: Alles behalwe die bad
Ons slaan in die donker kamp op en raak aan die slaap onder die sterrehemel. Iewers in die nag raak ek wakker van ’n diep gerommel en wonder verward en verskrik wat aan die gang is.
’n Volmaan verlig die naglug, vol soveel helder sterre dat ek sukkel om die Suiderkruis te kry. Toe eers besef ek die geraas is nie ’n honger Kaapse bergluiperd se grommende maag nie, maar my reisgenote se gesnork.
Nogtans lê ek daar met ’n glimlag. Wat ’n dag…
Vroeër vandag – veels te vroeg vir ’n Saterdagoggend in Desember – het ons mekaar by Chris se huis in Kaapstad gekry, waarvandaan ons in Philip se Land Cruiser sou vertrek. (Ek het Phil se aggressiewe veldrybande só gekyk en by myself gedink dis oordaad in oormaat, maar later moes ek dié gedagtes sluk.)

Om plek te kry vir al ons toerusting en voorraad vir vyf dae (ons sou nie langs pad stilhou om dit aan te vul nie) was uitdagend, om die minste te sê. Gelukkig was daar nie plek vir die gietysterbad wat Chris wou saamvat vir ’n vrou wat besig is om ’n gastehuis naby Wuppertal te bou nie.
Ná ’n paar laaste inkopies op Ceres – begelei deur harde, diep basklanke uit ’n paar locals se motors, met winkelvensters wat ritmies saam vibreer – het ons koers gekies Sederberge toe oor Prince Alfred Hamlet, die Gydopas en Op die Berg, waar ons noordoos na die Koue-Bokkeveld afgedraai het.
Sowat 18 km verder met die teerpad langs draai ’n grondpad regs af, en 5 km later beduie ’n teken die pad na Klein Cederberg en Lord’s Acre. Nuuskierig het ons afgedraai.
’n Sonverbrande man met ’n buitelandse aksent het ons begroet. Werner Wullschleger – kunstenaar, filosoof, boer en sendeling – bedryf Klein Cederberg saam met sy vrou, Ludvika.
Hulle het ’n ou pioniershuis uit 1774 omskep in ’n kunsgalery en ontbytkamer vir hul bed-en-ontbyt-kothuise. Lae deuropeninge en min vensters danksy vreemdsoortige Nederlandse en Britse belastings hou die huis verbasend koel in die dag.
Buite groei ’n 200 jaar oue turksvyboom en binne, opgestapel in die hoek van die kroeg, is bottels Dassie Force. Werner beweer dié medisinale dassiepiepie kan omtrent elke kwaal genees – van kanker tot diabetes.
Die San het dassiepiepie van die rotse geskraap, dit met water gemeng en as medisyne gebruik, maar Werner se moderne brousel word met wildekruietee gemeng. Blykbaar glo veral buitelanders aan die brousel se genesende kragte, maar ek was nie heeltemal dapper genoeg om dit te proe nie…
Dit was besig om laat te word, en ons het koers gekry oor die Katbakkiespas na die Kagga Kamma Private Natuurreservaat, ’n luukse uitspanplek met ’n San-tema.
Ons moes voor halfsewe by die hek wees om daar te kon kampeer, maar die hek was reeds gesluit. Gelukkig het ’n wakker werknemer ons ligte gesien en kom oopmaak. Effe verleë het ons ons situasie aan die bestuurder gaan verduidelik.
Bladsy 3: DAG 2
DAG 2: Roetekaarte en regte kaarte
Vanoggend mik ons eers na die Swartruggensberge om Kagga Kamma se netwerk van 4×4-roetes te verken. Dit voel goed om oplaas op ’n roete te wees, in die middel van nêrens, met die stres van die stadslewe wat uit my begin verdamp. Plek-plek is die roetes erg besaai met los klippe en steil afdraandes.
Later hou ons stil by Joubertskloof, ’n paradys vir voëlkykers, waar ’n navigasiefout ons ’n ruk lank in afkophoenders verander (ter verdediging, die roetekaart, GPS en verouderde topografiese kaart het almal verskil). En ons kom agter vir wilderniskampering by ’n kampplek soos Martiens se Werf moet jy beslis alles bring wat jy nodig het, ook die graaf.
Uiteindelik kry ons weer ons koers, ry uit die reservaat en draai weg op ’n grondpad na Die Mond, sowat 10 km verder noordwes. Op pad steek ons die Noord-Kaapse grens oor met sonverbrande, verlate vlaktes en stowwerige plante om ons soos die Ceres-Karoo haarself skaam-skaam begin onthul.
Die lewe is ’n reeks verrassings. Waar die Matjies- en die Grootrivier by ’n klein meer saamvloei, is een só ’n verrassing – ’n lowergroen oase wat effens onvanpas lyk in die sonverbleikte landskap van die Ceres-Karoo.
Die Mond met sy private kampplek en chalets is ’n goeie plek om van jou stowwerige klere ontslae te raak, in die koue, helder water in te duik en die dag se hitte van jou verlepte lyf af te was.
Terwyl ons oor die pad vorentoe besin, staan die kampeerders Bokkie Duvenhage en Alex “Die Bergman” Basson nader. Alex is ’n afgetrede onderwyser wat die Sederberge al sowat vyftig jaar lank verken.
Hy het glo al op elke voetpaadjie en in elke bergreeks in die Sederberge gestap, baie van vandag se staproetes uitgelê, en ’n wavrag vol inligting oor die geskiedenis van die omgewing versamel. En natuurlik is hy die een wat sal weet wat die beste roetes is.
Ons wil graag die Ou Kaapse roete na Calvinia ry, wat hiervandaan langs ’n tweespoorpad loop na Aspoort, ’n paar kilometer verder noord. Die Bergman waarsku dat ons dalk nie deur die driffie in die Doringrivier by Aspoort sal kan kom nie, maar ons besluit nogtans om self te gaan kyk.
Hy is reg. Nadat ons ons pad deur ’n oormag bosse probeer oopkap en deur klipperige terrein geswoeg het, gooi ons die handdoek in, en besluit ons sal liewer die Land Cruiser-klub nooi om ’n paar kettingsae te bring en die oorgroeide drif weer oop te kry.
Ons ry terug na die grondpad deur uitgestrekte vlaktes, draai weg na Elandsvlei en die Tankwarivier, 35 km verder noord deur die verweerde en dorre Jagvlakte, en daarvandaan noordwes na Koeskop en Cobusegat.
Op die Cobusegat-4×4-roete steek ons die Tra-tra-rivier oor en mik in die rigting van Karretjies in die Tra-tra-berge. Die Karretjiespas vat ons tot bo-op die plato waar ons stomgeslaan staan deur ’n netwerk van canyons wat onder ons ineengestrengel lê.

Met
die son wat agter ons sak en die Bobbejaanskloof voor ons, hang my mond behoorlik oop. Ek het nog altyd aan die Sederberge gedink as ’n klipperige berggebied met ruwe, nou klowe – ek het nooit geweet van dié uitgestrekte en aaneengeskakelde netwerk van canyons nie. En môre gaan ons ’n 4×4-roete takel wat hierdie einste canyons deurkruis.
Ons kampeer weer onder die sterre op ons tweede nag, en vergaap ons aan die grootsheid van die canyons terwyl ’n ligte briesie die verskroeide omgewing afkoel.
Die evolusieteorie word weer getoets, en weer werk dit. Óf dit óf die Sederberge se luiperds is regtig so skugter soos mense beweer.
Bladsy 4: DAG 3
Dag 3: Vasgegom aan die sitplek
Die Kliphuiskloof-4×4-roete pak jy nie sommer sonder handskoene nie. Dié roete van Agterfonteinskloof na die Doringrivier, deur Kliphuiskloof, loop oor van die rofste, klipperigste terrein van ons hele reis. (Die enigste “kliphuis” wat ons teëgekom het, is ’n skaapwagtershuis naby die Doringrivier.)
Een besonder steil afdraande draai laat ons maag na ons keel opskuif. Die paadjie is wyd genoeg vir een standaardvoertuig, maar die Cruiser met sy vet veldrytekkies is net-net te breed.
Niemand in die Cruiser haal asem nie, en niemand sê ’n woord nie. In my geestesoog sien ek al hoe reddingsdienste hulle in helikopters na die Cruiser haas doer onder op die vloer van die canyon… Stukkie vir stukkie en katvoet skraap ons bitter naby aan die kant verby terwyl die afgrond ver onder ons wink.
Sjoe!
Die wilderniskampplekke langs die Doringrivier aan die einde van die Kliphuiskloofroete het genoeg bergwater en skaduwee en kyk uit oor die dorre berge wat tot in die verkwiklike rivier afrol, maar ons moet aanstoot.
Die rivieroorgang – op netjies gepakte klippe – is maklik genoeg, maar as jy kyk na die klomp hardgebakte wielmodderspore sal dié oorgang in die reënseisoen ’n heeltemal ander storie wees.
Van die Doringrivier af ry ons met ’n tweespoorpad op teen die koppe aan die ander kant van die rivieroorgang. Op Slingsby se kaart hou dié tweespoorpad daar op, maar die pad gaan aan en dit neem ons na ’n grondpad in die Tankwa-Karoo wat die landbounedersettings Elandsvlei en Reenen verbind.
Die skerp kontras tussen die bergfynbos en droë fynbos van die canyons die vorige dag en die plat, dorre Tankwa-Karoo met sy vetplante is surrealisties.
Op pad in die rigting van Uitspankraal kry ons ’n duikertjie wat van ’n heining hang, sy agterpoot in die draad vasgevang. Onderstebo, vol bloed en met sy neus in die stof, is hy gereed om die stryd gewonne te gee. Ons bevry die bokkie, maar oomblikke later raak sy oë dof.
Ons is nou op die grondpad tussen Wuppertal en Calvinia. Op Slingsby se kaart word die pad tussen Gryskoppies en Uitspankraal gemerk as een bedoel vir 4×4’s, maar ek kan nie help om te wonder wat Slingsby begeester het om dit so te merk nie.
Net verby die afdraai na Uitspankraal stap ek en Chris eers deur die Doringrivier voor ons dit met die Cruiser daardeur waag. Die watervlak is redelik laag, net hoër as kniehoogte op die diepste plekke. Die klippe onder die water maak die deurgang egter stadig, en dit sal selfs nog moeiliker wees as die watervlak sou styg.
Veilig aan die ander kant gryp ons ons bio-afbreekbare seep en dans oor die warm sand water toe. Daar is iets baie besonders daaraan om in ’n rivier in die wildernis te was terwyl klein vissies aan jou tone knibbel.

Die sekondêre grondpad wat Uitspankraal en Mertenhof, 33 km na die weste, verbind, is in ’n goeie toestand en ’n welkome afwisseling ná die geskud van die vorige twee dae.
Later ry ons verby ’n sjokoladeboksprentjie van twee perde wat voor ’n klein wit huisie wei. Ons kan nie die fotogeleentheid weerstaan nie, en hou stil – en besef toe eers dis ’n gasteplaas met ’n interessante storie.

Enjolife se eienaars, Moritz en Andrea Conrad, ’n jong Duitse egpaar van München, het gedink die plaas is naby Somerset-Wes toe hulle dit gekoop het. As jy afstand skat, hang dit seker af waarvandaan jy kom…
Ná ’n vlugtige gestry tussen my en Chris oor die laaste twee Slingsby-kaarte (ek het die nuutste 7.1-weergawe gekry), slaan ons kamp op in Enjolife se skaduryke kampplek. Die wie-gaan-eerste-warm-stort-geveg is vreedsaam en van korte duur, en die uitsig oor die stroom van die spoeltoilet (met die deur oop) verfrissend.
Die debat oor watter voertuig vir watter terrein geskik is, woed hard en tot laat om die kampvuur terwyl ons weglê aan Chris se ongewone maar heerlike “kookkuns”.
Bobbejane het vroeër die middag van die berg gekom om die plaashuis te plunder, en ons hoor hulle tot laat rumoer. Maar die evolusieteorie bewys homself weer doeltreffend en ons slaap sonder inmenging.
Bladsy 5: DAG 4
DAG 4: Donkies, muile en sederbome
Die donkie – in al sy gedaantes en kleure – is onlosmaaklik deel van die bestaan van plaaslike mense in die oostelike Sederberge. Dié verskeidenheid laat my heimlik hoop dat ons dalk ’n kwagga in ’n versteekte klofie gaan teëkom.
By Kouberg, sowat 50 km padlangs van Enjolife af, draai ons skerp regs, noordwes na Heuningvlei, een van Wuppertal se 11 satellietgemeenskappe.

Abraham Ockhuis, een van die gemeenskapsleiers, wys ons rond in die nedersetting wat met die hulp van die departement van omgewingsake en toerisme en Kaapse Natuurbewaring opgeknap is.
Die inwoners het ’n selfsorgslaaphut gehou (bekostigbaar, funksioneel en netjies), ’n klein sederboomaanplantingsprogram begin en vat ook toeriste op donkiekarritte. Vir ’n klein bedraggie kan jy op ’n donkiekar van Heuningvlei af, langs die erfenisroete na die Pakhuispas en terug ry – ’n “kidney belt” is nie by die prys ingesluit nie…

Die Koubergpas, wat tot by Wuppertal afloop, het baie uitkykplekke om poskaartfoto’s te neem, maar dis ook die strooi wat die rug van ’n ou lorretjie se koppelaar gebreek het.
Die lorretjie se bestuurder het ons (aanvanklik) vrolik gegroet en verseker alles is reg, maar ons steek hom nog twee keer verby en sy optimisme is elke keer merkbaar minder, terwyl die Koubergpas in sy mou lag.
Wuppertal is ’n ou Morawiese sendingstasie op die pad tussen Calvinia en Op die Berg. Die plan is om ’n verbindingsroete tussen Wuppertal en Cobusegat te kry, oos oor Agterfonteinskloof.
Met dit in gedagte ry ons die grondpad van Wuppertal oos na Beukeskraal, al langs die Tra-tra-rivier, deur Prins-se-kraal, en tot by Gert en Magrieta Farmer se plaas, Agterfonteinskloof (jy kan net in die droë seisoen met ’n tweespoorpad tot daar ry).
“Swaarkry” kry nuwe betekenis as jy sien hoe Gert en Magrieta ’n bestaan op hul afgesonderde plasie uitkerf. Hulle vertel ons van ’n “pad” wat die bokwagters gebruik het, maar ons is nie seker of ons die Cruiser daaroor sal kry nie. Ná heelwat beraadslaging besluit ons om daardie avontuur vir ’n ander dag te los, en draai terug in ons spore.
By Wuppertal draai ons suid in die rigting van Eselbank en kampeer by die Eselbank-waterval met sy diep rotspoel, wat ’n welkome ontsnapping is aan die hitt
e en stof van die dag.
Bladsy 6: DAG 5
Dag 5: Swaar harte en stil beddens
Nóg ’n nag onder die sterre, nóg ’n nag met saaggeluide wat my slaap van links én regs onderbreek… Nie net het die wilde diere ’n wye draai om ons kamp geloop nie, maar ook Klaas Vakie.
Die pad wat Eselbank en Onderhuis verbind, is “slegs vir 4×4’s” op Slingsby se kaart gemerk, maar iemand het seker vergeet om die bestuurder van daardie volgelaaide Hyundai Getz daarvan te vertel.
Ná ’n middagete van die grootste geroosterde toebroodjies suid van die Sahara by die Cederberg Oasis, begin ons die korterige terugtog na die Kaap.
My hart is swaar om die eensame skoonheid van die oostelike Sederberge en sy kleurryke karakters agter te laat, ek is dankbaar vir Phil se bande, en sien uit na die vooruitsig van ’n warm stort en ’n goeie nagrus sonder saaggeluide, evolusionêr of nie.
Agter ons lê vyf dae en 880 km, uitgestrekte canyons, angswekkende haarnaalddraaie, ’n deeglik getoetste evolusieteorie en – uiteindelik – ’n wilderniskamp sonder telefoonlyne en heinings.
Ek gaan beslis terug vir nog.

Bladsy 7: Vinnige feite
Ek wil ook gaan!
Wat moet ek saamneem?
Als wat jy nodig het vir wilderniskampering (buiten ’n bad).
Sleepwa of nie?
Die grootste deel van die roete kan jy met ’n sleepwa ry, hoewel ek jou beslis sal afraai om een oor die Kliphuiskloof-4×4-roete te neem. Die sandbank aan die ander kant van die Doringrivier waar jy by Uitspankraal oor die rivier ry, kan dalk te moeilik wees met ’n sleepwa.
Moet ek ekstra onderdele neem?
Dis altyd goed om ’n paar basiese onderdele by jou te hê. Dis ’n lang ent se stap tot by die naaste nedersetting vir hulp…
Hoeveel water is genoeg?
Philip se Cruiser het ’n 45 liter-watertenk, wat genoeg was vir vyf dae vir drink en kook (ons het dit oordeelkundig gebruik). Ons het waterbottels volgemaak waar ons kon, en in die riviere en rotspoele gebad.
Hoeveel brandstof is genoeg?
Plekke om vol te maak is skaars – die naaste is Dwarsrivier en Kromrivier in die westelike Sederberge. Maak dus seker jy het genoeg ekstra brandstof by jou.
4×4 of 4×2?
Die hele roete is toeganklik vir ’n 4×2 met ’n ewenaarslot, buiten die Kliphuiskloof-4×4-roete en die rivieroorgang by Uitspankraal, hoewel jy in die somer met ’n goeie wen-as deur die oorgang kan kom.
Moet ek ’n ervare bestuurder wees?
As jy beplan om die Kliphuiskloof-4×4-roete te ry en in een stuk aan die ander kant wil uitkom, is ervaring ’n voorvereiste. Op die res van die roete kan jy ervaring opdoen.
Watter kaart is die beste?
Ons het (uiteindelik) Slingsby se Cederberg 7.1-kaart gebruik, met GPS-koördinate, afstande en duidelik gemerkte paaie en roetes. Jy kan dit kry by www.themaps.co.za/cederberg.asp, of van die meeste inligtings- en blyplekke in die omgewing.
Waar kan ek bly of kampeer?
- Klein Cederberg/Lord’s Acre: Bed-en-ontbyt-kothuise.
Kontak Werner en Ludvika Wullschleger 023 317 0783;
nihleka@ilink.co.za - Kagga Kamma: Kampeer of bly in luukse kamers.
Kontak Peter en Hein de Waal 021 872 4343;
info@kaggakamma.co.za - Die Mond: Selfsorghuise en kampering.
Kontak Linda Hough 023 317 0668 - Cobusegat. Van selfsorgkothuise, slaapplek in ’n toegeruste grot tot kampering in die veld.
Kontak Ferdie Kotze 027 341 2131 - Enjolife Nature Farm: Van bed-en-ontbyt-verblyf tot kampering.
Kontak Moritz en Andrea Conrad 027 482 2869;
rocks@soulcountry.co.za - Heuningvlei: Van bed-en-ontbyt-verblyf tot ’n slaaphuis.
Kontak Abraham Ockhuis 027 492 3252
Ander nuttige kontakte
- Chris McDuling (Basic Tours) 082 566 7439
- Philip Sackville-Scott 082 446 1981; capesignworx@mweb.co.za
- Rika du Plessis (Kaapse Natuurbewaring in Matjiesfontein)
027 482 9922; rika@xsinet.co.za - Francois Smit (Saroof) 083 719 9135

| WR_Sederberge Oos.pdf | 1.1 MB |








