Oostelike Sederberge | Dassiepiepie, 4x4-roetes en ’n gietysterbad

In die ruwe oostelike deel van die Sederberge (of die Rooi Sederberge, soos die plaaslike mense daarna verwys) het Deryck van Steenderen op ’n wondermiddel afgekom, agtergekom duur bande is die geld werd en ’n goeie kaart ononderhandelbaar.

Ek is nie naastenby familie van Darwin nie, maar ek is oortuig daarvan dat snork ’n evolusionêre meganisme is om wilde diere af te skrik.

Danksy my reisgenote op ’n besoek aan die oostelike Sederberge is hierdie revolusionêre evolusionêre teorie deeglik getoets… en dit werk. Vier nagte lank het ons (hulle) onder die sterre in luiperdland geslaap, maar soggens was daar geen spoor van spore om ons kamp nie.

Ek was natuurlik salig onbewus van hierdie unieke selfverdedigingsmeganisme toe die toergidse Chris McDuling en Philip Sackville-Scott my saamgenooi het op ’n avontuur om ’n roete uit te lê wat verskeie 4x4-roetes in die Sederberge aaneenskakel. Die plan was om die minder bekende oostelike Sederberge te verken – die deel wat grens aan die afgesonderde Ceres-Karoo en Tankwa-Karoo.

Vyf dae, vier (slapelose) nagte, amper 900 km en ’n behoorlik verkwikte siel later het ons ’n nuwe evolusieteorie bewys, die genesende eienskappe van dassiepiepie ontdek, ’n Duitse egpaar ontmoet wat ’n afgeleë plaas gekoop het nadat hulle gedink het dis naby Somerset-Wes, ’n 200 jaar oue turksvybos gesien, en vasbyters teëgekom wat steeds boer soos ’n eeu gelede.

O ja, ons het ook ernstig uitdagende roetes gery, en onsself gate uit geniet.

Kommentare

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association