Noord-Zambië | Waar water en lug een word

'Bangweulu Swamps’. Dit was al inligting op ons kaart oor dié omgewing noord van die Kasanka Nasionale Park. Dit klink nie juis aanloklik nie – eerder soos ’n plek wat ’n mens in die reënseisoen moet vermy – het ons aanvanklik gedink toe ons die toer beplan het.
Die naam was spoedig vergete, tot ons dit weer in ’n reisgids raakgelees het terwyl ons reeds op pad was. En toe het alles verander.
Nou, ná ’n hengse lang reis, met skroeiende hitte en stortreën, is ons hier, op ’n uitgestrekte grasvloedvlakte.
Maar die vlakte is nie leeg nie. Swartlechwe wei rustig net so ’n entjie van ons af, en die trop strek van die een kant van die horison tot die ander. Agter hulle skop spelerige tsessebes stof op.
Voor ons maak ’n swerm geelbekooievaars wit spikkels teen die blou lug voor hulle in ’n klossie bome gaan sit.
Die lug ruik soet en ek vat ’n paar diep teue. Ons is hier!

‘Nee, nee, nee!’
Bangweulu – “waar die water en lug bymekaarkom” – is een van die wêreld se grootste vleilandstelsels. Dit bestaan uit die Bangweulu-meer, die standhoudende Bangweulu-moeras en die Bangweulu-vloedvlakte wat sekere seisoene oorstroom is.
Dis minstens so groot soos die Okavangodelta, en lê op die groot vlakte van die Noord-Zambiese plato. Die kom waarin dit geleë is, word gevoed deur 17 riviere, maar net een vloei uit die vlakte.
In die middel van die kom is die water net 1 tot 2  m diep, maar die vloedlyn styg en trek terug met tot 45 km. Dié seisoenale polsslag van vloedwater voed die geil lewe in Bangweulu se moerasgebied.
’n Groot deel van die gebied suidoos van die meer word deesdae beskerm as deel van die Bangweulu-wildreservaat. Sy oorvloedige wild sluit die swartlechwe in, wat eie aan die gebied is, sowel as die baie skaars skoenbekooievaar – vir voëlkykers Afrika se mees gesogte voëlspesie.
’n Klein beweging in die verte onderbreek my gedagtes. ’n Wit spikkeltjie torring van die horison los en verander geleidelik in ’n bonsende wit bakkie.
Ek en die bestuurder klim uit en skud blad. David sê hy is die bestuurder van Shoebill Island.
Hy lyk skepties toe ek vra of ons na die eiland kan gaan. “Nee”, sê hy, “jy kan nie.”
Nou’s dit my beurt om skepties te lyk. Maar hy hou voet by stuk: “Nee, jy kan glad nie na Shoebill Island gaan nie, dis toe!”
Ek probeer weer, maar hy skop vas.
Ek’s stom. Platgeslaan. Ons het baie ver gery om hier uit te kom en op pad wonderlike goed gesien. Waar die Kaombe-rivier oor die Muchinga-platorand stort, het die son skielik sy strale deur ’n donderstorm op die glinsterende Kundalila-waterval gegooi. Dis ’n gesig wat ek nie sommer sal vergeet nie.
Ons het die Nsalu-heuwels uitgeklim tot by grootse grotte hoog bo die golwende bosveldkoppies. Binne-in het ons eerbiedig geword voor ’n paneel rotskuns van 8 m hoog en 20 m breed.
Die een dag ry ons nog so op ’n paadjie deur digte miombo-woud toe die woud skielik oopmaak en die stil water van die Waka Waka-meer voor ons lê. Honderde vuurvliegies het die aand deur ons kamp op die meer se oewer gedobber. Dit was ’n wonderlike en heilsame ervaring.
En heeltyd bly Bangweulu by ons spook. Dit het ons gedryf, dit was die hart en siel van die reis. En nou dié gemors …
David gee uiteindelik in, net effens. “Oukei,” sê hy, “as ek môreoggend terugkom, kan ons mekaar by die kamp kry en kyk of ons ’n plan kan maak.”
Sy kop draai in die rigting van sy uitgestrekte arm. “Julle kan vanaand hier by Godfrey bly. Ek ken hom goed.”
Dié aand slaap ons toe by die Nsobe-kamp, waar Godfrey en sy twee tieners ons verras met warm stortwater.
Ons kon ontspan, agteroor sit. Weerligstrale het agter die wolke geflikker, die voëls het vir oulaas voor sononder hulle vere reggeskud en die eerste vuurvliegies het uitgekom om te dans. ’n Gees van baldadigheid was in die lug. Maar tog was ons effens swaarmoedig.
Ons het opgewonde probeer praat oor al die lekker dinge wat ons reeds op die toer gedoen het, maar in die agterkop het ons gewonder wat die oggend sou inhou.



Kommentare

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association