Namibië | Namibië se wilde ooste

Sand en ses oorblufte wildebeeste

Behalwe toe jy ’n kind was en bitter graag daai nuwe Raleigh Flyer-tienspoedfiets vir Kersfees wou hê, is bid dikwels ’n spontane reaksie in ’n moeilike situasie.

Vir die soveelste keer die afgelope twee dae stuur ek ’n skietgebedjie op: “Ag asseblief tog, moet net nie dat ons nou gaan staan nie.” Want as ons hier gaan staan, gaan ons láánk staan. Die moontlikheid dat iemand ons gou gaan kry, is so goed soos Noord-Vrystaat s’n om die Curriebeker te wen.

Daar’s ’n paar plekke in die wêreld waar jy nie gestrand wil wees nie. Dink aan die lughawepad in Bagdad, kamp 5 op Everest... en die 384 000 wilde en afgeleë hektaar van die Khaudum-wildreservaat in ’n ongetemde hoekie van Noordoos-Namibië.

Dis waarskynlik die mees ongerepte en afgesonderde bewaringsgebied in Namibië: Die enigste “infrastruktuur” is spinnerak-tweespoor-sandpaadjies, twee wildwagter-kantore en twee klein, afgeleefde kampplekke.

Dit was juis by een van die wildwagter-kantore dat ons gehoor het die laaste besoekers was ’n week voor ons daar. Hulle het ná ’n dag omgedraai; ons was op ons eie in 3 849 km2 wildernis.

Ja, Khaudum is die soort plek waarheen jy verdwyn as daai voorval tydens die jaareindfunksie met Ingrid die Sweedse uitruilstudent op die lappe kom.

Dis rowwe vierwieltrek-wêreld dié. Die soort plek waarvoor joubeginnerskursus by Bosbreker Benade se 4x4-skool jou nie eintlik gaan voorberei nie.

Khaudum se afsondering is miskien deel van die aantrekking, maar dis hoekom jy dit net met minstens twee voertuie moet aandurf (en genoeg proviand indien die papaja op die waaier val).
En dís hoekom ek ywerig begin bid het – die drie van ons was alleen.
Dit was net Hennie Fraser, ons gids, fotograaf Mouton van Zyl en ek in Hennie se Land Cruiser-dubbelkajuitbakkie in ’n stuk wildernis ’n vyfde van die grootte van die Krugerwildtuin.

Die plan was om die Khaudum van suid tot noord te deurkruis en dan, as ’n soet nagereg, ’n draai te maak in die Mahango-wildreservaat.

Oorspronklik was ons twee voertuie, maar ’n voetganger-vlakvark tussen Kalkfeld en Otjiwarongo het... wel, dis ’n storie vir ’n ander dag. Die boontjietellers by die kantoor sou nie dik van die lag wees as ons onverrigter sake teruggaan nie, dus ons moes maar deurdruk.
Kort ná die voorval met die vlakvark het ek in my kop begin lysies maak:

Negatief:
1. As ons sleg vasval of iets oorkom, is ons in groot bollie.

Minder negatief:
1. Hennie kén die Khaudum.
2. Ons is tot die tande toe gewapen met herwinningstoerusting, noodonderdele en gereedskap.
3. Ons het genoeg kos en water vir ’n paar dae.
4. Ons het ’n satellietfoon.
5. Die wildwagter het radioverbinding met die buitewêreld (as die batterye gelaai is).

Nie baie bemoedigend nie, maar dis al waarmee ek kon werk. En as daar niks anders is nie, is gebed nogal ’n staatmaker.

Kommentare

Hoe heerlik om die stuk te lees. Ons was juis die afgelope Junie/Julie 2010 vakansie daar. Was 'n groep van 3 voertuie en was heeltyd met radio verbindings met mekaar. Ongelooflik mooi. Het geslaap in albei kampe, vrek bang gewees want daar is geen heinings nie. Die waterkrane word in die aand afgehaal want die olifante kom pluk dit uit agter die water aan! Ons het deur die droë rivierlope gery en was dit nie die wonder van GPS'e nie het ons nou nog daar gesit! Daai kant van die ongerepte wereld bly maar mooi!

Dis eintlik jammer dat die plek gepromoveer word. Nou gaan elke ou wat sensasie soek seker op die plek toesak. Dit is mos nie eintlik 'n toerismebestemming nie.

Die Khaudum is nie vir "sagte" 4x4 nie. Ek het verlede jaar my KIA Sorento daar "verloor" - die enjin het sand deur sy lugfilter getrek. Gelukkig was ons 'n groep van 4 voertuie - die ander 3 almal Toyota's - en kon ons die bagasie en mense tussen die  ander voertuie verdeel. baie duisende Rand/N$ later met 'n nuwe enjin loop die KIA darem weer.  Dit is eintlik onverantwoordelik om die Khaudum met net een voertuig te besoek.

Ek het 40 jr. gelede in die ou SAP grensdiens gedoen in Rundu en ons het gereeld 6dae patrollies onderneem na Sikereti in die Khaudum. Nog met die ou staatmaker Ford F250. Snags altyd aan die kant van 'n omuramba naby 'n watergat geslaap, sommer so op die grond. My heupe kry nou nog seer as ek daaraan dink. Maar ons was mos jonk en fiks en sterk. My indrukke tóé, was dat daar nie 'n oorvloed wild was nie. Wat ek kan onthou is klein troppe olifante en bastergemsbok. Ek kan nie eers onthou of ek ooit 'n vuilbaard hoor brul het nie. Miskien is water 'n probleem want daar was groot konflik tussen die Khoi mense en olifante tot so 'n mate dat alleenloper olifante van kant gemaak moes word van tyd tot tyd. Ek is van voorneme om die gebied in die toekoms te besoek. Dalk kan van die ouer Khoi's hulself herken op fotos wat ek toe geneem het. Ek verstaan dat die Khaudum deesdae deur wildstropers geteister word vanaf die suide. Ek verstout my om te sê dat 40 jr. gelede die veiligheidsmagte en ander wetstoepasser toe ook by dié aktiwiteite betrokke was. Dit blyk asof die Khaudum maar net nie kan wen nie. My grensdiens spore lê vanaf Ruacana in die weste tot Mana Poele in die ooste. Ek is besig om met jaarlikse toere my spore te gaan opsoek. Dis vir my 'n voorreg om daardie wêreld toe te kon sien en nou weer te besoek. Dis voedsel vir die siel!

Ai, man. Het self daar grootgeraak (1973 tot 1986). Bietjie ge-laerskool op Rundu en toe Grootfontein toe vir hoërskool. My hart pyn van heimweë. Daardie wit skrefie-oog sand en groot, groen bome (en natuurlik die diep, donker, groen rivier). En die reuk van daardie veld verander soos die seisoene loop! Watter voorreg was dit nie! Pure Genade! Dink nie dat ek egter sal wil teruggaan nie. Ek hoor alles is nou "gedraad en gehek", kan nie maar net meer ry nie. Sal maar onthou soos dit in my gedagtes vas ge-ets is.  .........maar miskien wil my kinders hulle pa se grootword-wêreld sien.......

Maggies maar dit het nou die herinneringe weer lewendig laat word! Ek was self in daardie geweste gedurende die laat 80er jare. Dis 'n onbeskryflike mooi omgewing, ongerep en bekoorlik. En die diere is wel daar, kyk maar net na al die vars spore in die sand elke dag. Ek is bly om te hoor die gebied word nog beskerm. Die tong in die kies skryfstyl kry volpunte.

Ken die plek was daar gewees in 1985 toe grensdiens gedoen het, baie baie pragtige plek

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association